Mondelinge ooreenkomste – Nie te veel goed nie, maar dit kan baie vinnig sleg en lelik raak.
“The Good, The Bad, and The Ugly” (Spaghetti Western, 1966)
Daar bestaan ‘n hardnekkige en gevaarlike mite, dat mondelinge kontrakte nie in Suid-Afrika afgedwing kan word nie. Dit is ‘n mistasting en die teendeel is natuurlik waar. Met baie min uitsonderings, sal ons regstelsel jou hou by al jou ooreenkomste, hetsy mondeling of skriftelik.
Watter mondelinge ooreenkomste is nie bindend nie?
Nie te veel nie, maar daar is wel 'n paar tipes ooreenkomste wat op skrif moet wees om ten volle geldig te wees. Die algemeenste is kontrakte oor die verkoop, verruiling, of skenking van grond of van enige "belang in grond", kontrakte wat huwelikspartye voor die sluiting van die huwelik moet onderteken (HVK's); en borgaktes. Dit is dit.
So, wees maar versigtig wat jy sê en wat jy ooreenkom!
Ons kontraktereg kan ingewikkeld wees, met uitsonderings en voorbehoude wat in die partye se ooreenkomste ingevoer kan word. Tog, as ons dit afbring tot die mees basiese vlak, is die enigste vereistes vir 'n bindende kontrak 'n "aanbod" wat een party moet maak en die "aanvaarding" van daardie aanbod deur die ander party.
So, plaas ‘n wag voor jou mond. As jy ‘n mondelinge aanbod maak en die ander party aanvaar jou aanbod, het julle ‘n bindende ooreenkoms tot stand gebring.
Moenie dink dat jy regtens nie hieraan gebonde gehou kan word nie.
“The danger – a little bit of the Good, but mostly the Bad and the Ugly”
Natuurlik het mondelinge ooreenkomste hul plek en hul voordele. Dit is vinnig, dit is maklik en dit is gratis. Ons sluit gereeld klein gee-en-neem-transaksies met ander in ons daaglikse lewe, sonder om twee keer daaroor te dink en sonder 'n druppel ink in sig. Dit werk baie goed vir die klein dingetjies, soos om melk en brood te koop.
Waar jy met goedere en dienste van hoër waarde te make het, moet jy eerder wegbly van ‘n mondelinge ooreenkoms.
- Ons nie-so-skerp geheue: Die ou spreekwoord stel dit goed: “Die stompste potlood is beter as die skerpste geheue”. Dit is 'n menslike eienskap om te hoor wat ons wil hoor. En om te onthou wat ons wil onthou. Jy en die persoon met wie jy sopas ‘n mondelinge ooreenkoms gesluit het, kan heel waarskynlik, in alle onskuld, van presies dieselfde gesprek af wegstap met totaal verskillende idees en herinneringe van wat julle twee eintlik met mekaar ooreengekom het.
As jy weer sien, is die twee van julle saam in die hof, bevestig julle elkeen dat julle eie weergawes die korrekte een is, en laat julle dit aan 'n regterlike beampte oor om te besluit wie se geheue en weergawe die naaste aan die waarheid is. Daardie bevinding van die regter kan enige kant toe gaan.
Hou eerder ‘n volledige skriftelike rekord van wat julle met mekaar ooreengekom het, sodat almal dit kan sien; en nog beter albei daarby kan teken.
- Die risiko van bedrog: As jou teenstander nie omgee om die waarheid 'n bietjie (of baie!) te verdraai nie, het jy dieselfde probleem, net erger. Kry al die bepalings van julle ooreenkoms in swart en wit op skrif en laat almal dit verkieslik teken as bewys van die finale ooreengekome bepalings. Maak dit moeilik vir 'n oneerlike party om uit 'n ooreenkoms te wriemel - of om die bepalings daarvan te verdraai – deur dit sondermeer op skrif te kry en te laat onderteken.
- Bewys: Dit bring ons by die kwessie van bewyskrag. Met 'n mondelinge ooreenkoms is dit jou woord teen die ander party se woord. Ten beste is jy dalk gelukkig genoeg om ’n getuie beskikbaar te hê om jou weergawe te ondersteun. So ’n getuie het dalk nie so ’n goeie geheue en hoë geloofwaardigheid nie. Dit kan nooit meeding met die bewyskrag van 'n skriftelike kontrak wat beide partye onderteken het en wat aan die partye beskikbaar is – “being your “signed, sealed and delivered” contract”.
- Sekerheid en dispuut: Kom ons bring dit alles saam onder “sekerheid”. Alhoewel skriftelike kontrakte beslis nie perfek is nie - ons howe word gereeld met dispute daaroor gekonfronteer - is daar baie minder ruimte vir waninterpretasie, onsekerheid en dispute wanneer jy in die hof kan opstaan en verwys na die getekende ooreenkoms eerder as wat jy jou moet verlaat op “Soos ek dit onthou het ons ooreengekom om …"
Ons sluit af met ‘n opmerking oor elektroniese kontrakte
Hierdie is 'n afsonderlike onderwerp op sy eie. Hou in gedagte dat sedert die Wet op Elektroniese Kommunikasie en Transaksies in werking getree het, kan jy elektronies kontrakteer via e-pos, WhatsApp, en dies meer. Hier is 'n waarskuwing ("wees versigtig waarvoor jy elektronies instem") en ook 'n geleentheid ("jy het nie meer altyd papier, pen en ink nodig nie!"). Verkry professionele advies as jy enige vrae hieroor het.
Provided by Simpson Inc
© DotNews. All Rights Reserved.