Televisiekameras in die Hofsaal – Mediavryheid of Mediasirkus? Wat leer ons uit die Van Breda hofsaak?
“The media’s right to freedom of expression is thus not just (or even primarily) for the benefit of the media: it is for the benefit of the public” (Deel van die Appèlhof se uitspraak.)
Die strafsaak van Henri van Breda wat in die Hooggeregshof in Kaapstad aangehoor word, is een van vele opspraakwekkende hofsake wat die publiek se verbeelding aangryp. Die media uitsendings en die feit dat die verrigtinge lewendig gestroom en op die internet gevolg kan word, dra verder by tot hierdie ongekende belangstelling.
Hier is egter botsende belange ter sprake wat teen mekaar afgespeel moet word. Die getuies het ‘n reg tot privaatheid en veiligheid, die beskuldigde het ‘n reg op ‘n regverdige verhoor, die media het die reg om hul mening te lug en om inligting te publiseer en die algemene publiek het die reg om inligting te ontvang en om die regspleging in ons strafhowe eerstehands waar te neem.
Hoe moet ons howe hierdie belange teen mekaar opweeg?
Die Appèlhof het met die aanvang van die Van Breda hofsaak die volgende riglyne neergelê – ook as algemene riglyne om in toekomstige sake toegepas te word: –
- Vryheid van uitdrukking en die regverdige toepassing van die regstelsel is beide onmisbaar vir die behoorlike funksionering van ons demokrasie. Dit moet sover moontlik in harmonie met mekaar versoen word.
- Geregshowe kan nie rigiede reëls toepas nie. Die voorsittende regsbeampte behoort die situasie in elke hofsaak op sy eie unieke faktore te oorweeg en hierdie geregtelike diskresie dienooreenkomstig uitoefen. Die voorsittende regsbeampte kan dus die uitsending van die verhoor in geheel toelaat of afkeur of op enige redelike wyse op beperkte wyse toelaat. So kan die hof byvoorbeeld bepaal dat die klankuitsending van ‘n getuie se getuienis uitgesaai mag word, maar nie enige grafiese beelde van geweld of beserings nie.
- Vryheid van spraak gaan hand aan hand met geregtigheid wat in die openbaar geskied. Geregtigheid moet nie net geskied nie, maar dit moet ook in die openbaar geskied en vir die algemene publiek toeganklik en sigbaar wees. Hierdie aanvaarde regsbeginsel is die rede waarom hofsake as ‘n reël vir die publiek toeganklik is. Die uitgangspunt is dat ‘n lid van die publiek enige hofsaak kan bywoon en dat ‘n geregshof in die openbare domein is.
- In beginsel is dit toelaatbaar en aanvaarbaar dat die media alle opsommings en betoë wat regsverteenwoordigers aan die hof maak, kan opneem en aan die publiek kan uitsaai. So ook alle uitsprake en bevindings van voorsittende regsbeamptes wat by sodanige verhore in die ope hof gelewer word.
- ‘n Getuie sou beswaar kon aanteken teen die regstreekse uitsending van sy of haar getuienis. Die hof moet dan die redes hiervoor oorweeg en ‘n beslissing maak na gelang van elke getuie se redes. Elke getuie voer sy redes aan en elke getuie se redes word afsonderlik oorweeg waarna die hof ‘n spesifieke bevinding vir elke getuie maak. Die hof sou ook ‘n onderskeid kon tref tussen verskillende tipes getuies soos deskundige getuies, professionele getuies soos lede van die polisiediens en toevallige getuies soos lede van die publiek.
- ‘n Regter sou byvoorbeeld kon bepaal dat die getuie ‘n geldige beswaar het teen die direkte beeldsending van sy getuienis. Die hof sou dan kon kyk na alternatiewe maatreëls soos byvoorbeeld dat die getuie se identiteit verberg word. ‘n Getuie se identiteit kan deur beligting en deur elektroniese stemverandering beskerm word, of deur slegs mondelinge getuienis toe te laat sonder dat die getuie afgeneem word of deur die getuie se getuienis eers te laat beeldsend na afloop van die verhoor.
- ‘n Beskuldigde sou ook kon beswaar maak teen die beeldsending van sy of haar verhoor. ‘n Regter sou sodanige beswaar op meriete moet beoordeel en in gepaste gevalle kan die hof bevind dat kameras nie by die verhoor toegelaat mag word nie.
- Die hof sluit as volg af oor hierdie diskresie om kameras en beeldsending toe te laat:
“… courts will not restrict the nature and scope of the broadcast unless the prejudice is demonstrable and there is a real risk that such prejudice will occur. Mere conjecture or speculation that prejudice might occur ought not to be enough.”
Daar moet dus oortuigende redes voorgehou word, voordat die hof die drastiese stap sal neem om die beeldsending van ‘n hofsaak te verbied.
Die Hooggeregshof het gevolglik beslis dat die Van Breda hofsaak wel uitgesaai mag word. Die hof het wel aangedui dat getuies en enige belanghebbende party enige tyd in die toekoms sou kon aansoek doen vir ‘n spesifieke wysiging of uitsluiting van hierdie algemene toelating van kameras in die verhoor.
Ons kan aanvaar dat televisiekameras en -uitsendings in die toekoms dikwels deel sal wees van enige hoë profiel strafsaak.
Provided by DGA - Debra Gouws Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.