Ponzi-skemas: Nog ’n MTI uitspraak, risiko's en waarskuwingstekens
“Dit was duidelik dat MTl se besigheid 'n onwettige ponzi-skema daargestel het, dit wil sê 'n bedrieglike beleggingskema wat hoë opbrengskoerse aan beleggers belowe en opbrengste vir vroeëre beleggers genereer deur die beleggings van latere beleggers te gebruik.” (Uittreksel uit die uitspraak hieronder. Eie vertaling.)
In tye van ekonomiese onstabiliteit, kan die moontlikheid van “maklike geld” baie aanloklik klink. Ongelukkig beland baie mense dikwels só in die kloue van bedrieërs wat ponzi-en piramideskemas bedryf.
Die vraag is, hoekom is hierdie bedrieërs so suksesvol in hul pogings om selfs die mees bedrewe beleggers ’n rat voor die oë te draai? Daar is verskillende faktore wat hier ’n rol speel. Eerstens word ons gelei deur ons behoefte aan finansiële sekuriteit en onafhanklikheid. Die belofte van vinnige en substansiële opbrengste of winste buit hierdie behoefte uit. Tweedens sal bedrieërs dikwels teer op ons emosies en op ons vrees dat ons winsgewende geleenthede sal laat verbygaan. Derdens span hulle oortuigende taktieke in om ons vertroue te wen, soos die gebruik van getuigskrifte van “beleggers” wat kastig baie sukses met die skema bereik het.
Die nuutste uitspraak van die Hooggeregshof in die MTI (Mirror Trading International) likwidasie-sage, beklemtoon weereens die gevare vir beleggers wat by hierdie skemas ingetrek word.
“’n Onwettige en onregmatige skema”
- MTI is in 2019 gestig. Beloftes van hoë opbrengste is aan beleggers (lede van die “MTI Klub”) gemaak, en bitcoin is saamgevoeg vir verhandeling op die wêreldwye kripto-geldmark. In 2020 is ‘n stelsel van verwysingsbonusse vir die inbring van nuwe lede geïmplementeer.
- Hierdie jongste uitspraak is deel van ‘n omvangryke litigasiesage, waarby likwidateurs, beleggers/lede, skuldeisers en direkteure (wat steeds hewig ontken dat daar enige onbehoorlike optrede was) betrokke is. In hierdie saak het die likwidateurs by die Hooggeregshof aansoek gedoen vir ‘n reeks verklarende bevele met die hoop dat dit hul eise teen beleggers en ander betrokke partye kan bevorder.
- Die likwidateurs het daarin geslaag om die volgende verklarende bevele te bekom wat bepaal dat-
- MTI se sakemodel "'n onwettige en onregmatige skema" is, en
- “Alle ooreenkomste wat tussen MTI en sy beleggers ten opsigte van die verhandeling/bestuur/belegging van bitcoin tot die oënskynlike voordeel van beleggers gesluit is, onregmatig en ab initio nietig [nietig vanuit die staanspoor af] verklaar” is.
- MTI se sakemodel "'n onwettige en onregmatige skema" is, en
- Die likwidateurs se pogings om MTI vanaf 2019 as “feitlik insolvent” te laat verklaar, was onsuksesvol. Hulle kon ook nie ‘n verklarende bevel verkry dat betalings wat deur MTI aan beleggers/lede, kommissie-verdieners en ander partye gemaak is, as “beskikkings” beskou moes word wat deur die likwidateur teruggeëis kon word nie. Beide hierdie bevele sou dit vir die likwidateurs makliker gemaak het om enige uitbetalings wat vantevore deur MTI aan enige persoon gemaak is, terug te eis. Ten spyte daarvan dat die bevele nie toegestaan is nie, sal die likwidateurs waarskynlik in elk geval hierdie eise voortsit.
Die partye sal na verwagting teen hierdie nuutste uitspraak appelleer. Beleggers/lede sal dus nog in spanning moet wag voordat daar uitsluitsel oor hul posisie is. Dit is ongeag of hulle “wenners” (dié wat uitbetalings ontvang het wat hul totale beleggings oorskry het) of “verloorders” (waarskynlik die oorgrote meerderheid van beleggers/lede, soos wat sonder uitsondering die geval by ponzi-skemas is) is. Buiten dat hul eise uiteindelik waardeloos kan wees, is daar ook ’n kans dat hulle alle uitbetalings wat hulle ooit ontvang het, gedurende die likwidasieproses sal moet terugbetaal. Dit sal die geval wees indien die verklarende bevele oor onregmatigheid en ongeldigheid op appèl bekragtig word.
Selfs al word hul eise uiteindelik toegelaat en bewys, is daar steeds onsekerheid of enigiets aan hulle toegeken sal word, aangesien die SAID (SARS) reeds ’n voorkeureis van R931 miljoen bewys het.
Rooi vlaggies waarvan jy jou vriende, familie, kollegas en werknemers moet waarsku
Die slotsom is dat beleggers die gevaar loop om alles te verloor wanneer ’n ponzi- of piramideskema uiteindelik misluk (wat ongetwyfeld mettertyd sal gebeur).
Om onsself en ander te beskerm, is dit noodsaaklik om van die waarskuwingstekens bewus te wees. Onthou altyd dat, "as dit te goed lyk om waar te wees, dit waarskynlik is”. Wees ook bedag op die "rooi vlaggies", soos waarborge van hoë opbrengste met min of geen risiko, komplekse beleggings- en vergoedingstrukture, en 'n klem op werwing eerder as produkverkope.
Dit is van kardinale belang om hierdie inligting met vriende, familie en kollegas te deel, om te verhoed dat meer mense slagoffers van hierdie skemas word. Werkgewers in besonder moet hul personeel van die gevare bewus maak en hulpbronne verskaf om te verhoed dat hulle by sulke skemas ingetrek word.
Bly ingelig, wees waaksaam en beskerm jouself, jou werknemers en ander teen die gevaar daarvan om "maklike geld” na te jaag.
Provided by B. R. Sandwith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.