Lewensvennote en onderhoudseise
Al hoe meer paartjies verkies om as permanente lewensmaats saam te woon eerder as om formeel met mekaar te trou. Die risiko vir sulke paartjies is dat hulle nie dieselfde beskerming as getroude paartjies geniet nie. Hoewel ons regstelsel besig is om stelselmatig baie van die beskermings van formele huwelike aan ongetroude lewensmaats beskikbaar te maak, is hierdie ’n stadige en versigtige proses, wat nog ver van klaar is.
’n Onlangse uitspraak van die Hooggeregshof, waar die Hof ’n lewensvennoot se eis vir tussentydse onderhoud van die hand gewys het, dien as voorbeeld en waarskuwing vir alle persone in lewensvenootskappe.
’n “Permanente romantiese verhouding” en ’n mislukte onderhoudseis
- ’n Paartjie van die teenoorgestelde geslag was in ‘n “romantiese” verhouding, en het vir ongeveer 8 of 9 jaar saamgewoon. Hulle het drie jong kinders saam gehad. Die verhouding is beëindig toe een van die partye die gemeenskaplike woning verlaat het.
- Dié party het hierna haar voormalige lewensmaat gedagvaar vir (onder andere) persoonlik onderhoud vir haarself, betaalbaar vir ’n periode van tien jaar of tot haar “dood of hertroue”. Sy het gevra dat die Hof moet verklaar dat sy en haar vennoot saamgewoon het as “vennote in ‘n permanente lewensvenootskap tussen lede van die teenoorgestelde geslag, waar die vennote wedersydse onderhoudsverpligtinge teenoor mekaar onderneem het”. Die hoofaksie word tans deur die voormalige vennoot verdedig en moet nog deur die Hof aangehoor word.
- Intussen, en nadat sy reeds daarin geslaag het om tussentydse onderhoudsbevele vir haar kinders te verkry, het sy die Hooggeregshof genader vir ‘n tussentydse onderhoudsbevel ten gunste van haarself. Sy het gevra vir R56 000 per maand, asook vir betaling van mediese, motor- en ander uitgawes, tesame met 'n aanvanklike bydrae van R1 miljoen tot haar regskostes.
- Die Hof het hierdie tussentydse aansoek van die hand gewys. Die Hof se ontleding van die toepaslike regsbeginsels oor hierdie onderwerp, met al die grondwetlike gevolge daarvan, sal van groot nut en belang vir prokureurs wees. Maar dit is die praktiese uitkoms van die saak waarvan alle persone in lewensvennootskappe moet kennis neem.
Wat moet jy bewys om 'n onderhoudsbevel te verkry?
Die Hof beslis dat 'n ‘permanente romantiese verhouding' nie dieselfde as 'n permanente lewensvennootskap is waar die partye wedersydse onderhoudsverpligtinge teenoor mekaar binne die konteks van ’n familie-opset onderneem het nie. Die Hof beslis voorts dat die applikant "eers moet bewys dat die onderhoudsplig bestaan het, en dat dit in ’n familie-opset bestaan het.” (Eie vertaling en beklemtoning.)
Volgens die Hof kon sy dit alles gedurende haar hangende hofsaak doen. Intussen is sy op haarself aangewese en moet haarself onderhou, sonder tussentydse onderhoud, totdat die hoofaksie aangehoor word.
Op ’n praktiese vlak, indien jy jouself in ’n soortgelyke situasie bevind en jy persoonlike onderhoud vir jouself wil eis, het jy die volgende vier keuses (let daarop dat onderhoud vir kinders 'n heeltemal aparte kwessie is, en nie onderhewig aan hierdie beperkings is nie) -
- Wat tussentydse onderhoud betref, kan jy hoop dat ’n hof jou sal tegemoetkom ten spyte van die uitspraak in hierdie saak. Die Hof het hier as volg beslis: “Die gevolgtrekkings wat die Hof bereik het, is slegs van toepassing op hierdie betrokke saak soos wat die applikant aan die Hof voorgelê het. Dit is nie die bedoeling dat ons gevolgtrekkings ’n wyer effek of gevolg moet hê nie. Dit staan dus steeds enigiemand vry om die Hof te nader vir verklarende verligting van die aard wat die applikant in hierdie saak gevra het. Ons hoop dat, indien dit gebeur, hierdie uitspraak leiding kan bied oor die wyse waarop so ’n benadering gemaak moet word;" of
- Jy kan tydens die verhoor van jou hoofaksie probeer bewys dat jou verhouding meer as 'n "permanente romantiese verhouding" was, en dat dit inderdaad ‘n permanente lewensvennootskap met ’n onderneming van wedersydse onderhoud was; of
- Jy kan hoop dat die wet verander, sodat ’n onderhoudsplig tussen jou en jou lewensmaat outomaties geskep word. Nuwe wetgewing hieroor is al jare lank in die pyplyn, maar dit lyk of die vordering daarmee vir eers tot stilstand gekom het. Indien hierdie betrokke saak voor die hof eindig, kan dit moontlik tot verdere onwikkelinge op hierdie gebied lei.
- Die heel veiligste oplossing – jy kan alle onsekerheid uit die weg ruim deur ’n volledige “saamwoonooreenkoms” te onderteken sodra jou verhouding permament word.
Wat moet in jou saamwoonooreenkoms wees?
Alhoewel elkeen se persoonlike omstandighede en behoeftes uniek sal wees, is dit belangrik om seker te maak dat jou saamwoonooreenkoms (ook soms ‘n “burgerlike vennootskapsooreenkoms” genoem) julle onderskeie regte en finansiële reëlings uiteensit (vir beide tydens jul verhouding, en in die geval van beëindiging daarvan).
Gebruik die volgende vrae as riglyne -
- Hoe sal julle verskillende bates verdeel word?
- Kom julle ooreen dat daar ’n wedersydse onderhoudsplig sal wees? Wanneer die verhouding tot ’n einde kom, sal een of beide van julle op persoonlike onderhoud en ander finansiële ondersteuning geregtig wees?
- Watter voorsiening word gemaak vir jul kinders se onderhoud?
- Sal daar enige finansiële aanpassings tussen julle gemaak moet word? Wat gebeur byvoorbeeld as net een van julle werk? Of as jy betaal het vir ‘n uitbreiding van jou lewensmaat se huis, of die maandelikse verbandpaaiement betaal het? Of as een van julle meer tot die verhouding bygedra het as die ander?Wie sal die lopende uitgawes en kontrakte soos huurkontrakte, huislenings, mediese en lewenspolisse, maandelikse rekeninge en dies meer oorneem?
- Wat anders sal in jul spesifieke omstandighede gereguleer moet word?
Maak ook seker jul testamente is in plek!
Vul jou saamwoonooreenkoms aan met ’n geldige testament (“Laaste testament en wilsbeskikking”); of dalk ’n gesamentlike testament. Dit is hierdie dokument wat uitendelik sal saakmaak wanneer jy sterf en dit is die enigste veilige manier om te verseker dat jou laaste wense uitgevoer word, en dat daar behoorlik na jou naasbestaandes omgesien sal word wanneer jy nie meer daar is nie. Jul saamwoonooreenkoms en testamente is afsonderlike en noodsaaklike dokumente, so laat jou prokureur hulle almal gelyktydig vir jou opstel.
Provided by Everton Dankuru Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.