Verstaan jou wetlike verpligtinge as 'n werkgewer van huishoudelike werkers
Suid-Afrikaners het na beraming 900 000 huiswerkers in diens. Huiswerkers staan gesinne by met 'n reeks take wat ons huishoudings glad laat funksioneer - van skoonmaak en tuinmaak tot voorbereiding van etes en kindersorg. Huiswerkers se bydraes is van onskatbare waarde. As 'n werkgewer moet jy bewus wees van jou wetlike verpligtinge, en dit nakom om 'n billike en wettige werksverhouding te verseker.
Nakoming van hierdie wetlike vereistes is belangrik. Die wetstoepassers raak ook al hoe meer aktief om nakoming te verseker. Kom ons kyk na wat regtens van jou as werkgewer verwag word.
Eerstens, wat bedoel ons met "huiswerker"?
In hierdie artikel verwys huiswerkers na individue wat in jou huis werk, insluitend tuiniers, skoonmakers, kokke, kinderoppassers, versorgers (vir kinders, bejaardes, siekes, verswaktes of gestremdes), au pairs, chauffeurs en dies meer. Plaaswerkers, sowel as persone wat minder as 24 uur per maand vir jou werk, word nie hierby ingesluit nie.
5 sleutelvereistes
- Dienskontrak: Dit is noodsaaklik dat jy 'n skriftelike dienskontrak met jou huiswerker sluit. Hierdie kontrak moet belangrike besonderhede spesifiseer, insluitend die huiswerker se volle naam en ID-nommer, vergoeding, werksure, oortyd, verlof (jaarliks, siek, kraam, deernis, gesinsverantwoordelikheid) en posbeskrywing (lys rolle en verantwoordelikhede). 'n Duidelik gedefinieerde kontrak wat albei partye beskerm, sal verseker dat julle 'n billike werksverhouding het wat tot wedersydse voordeel strek.
- Minimumloon: Die huidige Nasionale Minimumloon (NMW) vir elke “gewone uur gewerk” is R25-42. As ons 'n werkmaand van 21 dae x 8 uur per dag aanvaar, is R25-42 per uur gelyk aan R4,270-56 per maand. Die Lewende Loon -sakrekenaar sal jou help om te kyk of jy jou huiswerker genoeg betaal om 'n huishouding se “minimale behoeftes” te dek. (Pas die “Aannames” in die sakrekenaar aan om te verseker dat die syfers wat gebruik word op datum is.)
- Betaalstrokies: Jy moet jou huiswerker elke maand van 'n skriftelike betaalstrokie voorsien. Die betaalstrokie moet jou en jou werknemer se besonderhede insluit, die gewone en oortydure wat gedurende die betalingstydperk gewerk is, die toepaslike vergoedingskoers en enige aftrekkings wat deur jou gemaak is. Hierdie dokument verseker deursigtigheid en verantwoordbaarheid in die betalingsproses.
- WVF-registrasie: Jy moet jou huiswerker by die WVF (Werkloosheidsversekeringsfonds) registreer en maandelikse bydraes maak. Dit sal korttermynverligting aan jou werknemer bied gedurende tydperke van werkloosheid, kraamverlof of siekte. Beide van julle moet elke maand 1% van die werker se lone bydra en aan die fonds oorbetaal (dit wil sê 2% in totaal). Versuim om dit te doen is nie net onregverdig teenoor jou werknemer nie, maar dit stel jou ook persoonlik bloot aan boetes en ander regsgevolge.
- COIDA-registrasie: Ingevolge die Wet op Vergoeding vir Beroepsbeserings en -siektes (“COIDA” - the Compensation for Occupational Injuries and Diseases Act), moet jy jou huishulp by die Vergoedingskommissaris registreer om te verseker dat jou werker (of afhanklikes) in aanmerking kom vir vergoeding in die geval van beserings, gestremdhede of siektes wat opgedoen word terwyl hulle op diens is.
Jy moet verstaan dat as jy versuim om enige van hierdie verpligtinge na te kom, dit tot ernstige gevolge vir jou kan lei. Dit sluit in die risiko van regsdispute, verwysings na die KVBA (Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie), litigasie in die Arbeidshof, ensovoorts.
Vergewis jouself van die voorskrifte en verpligtinge en verkry professionele leiding indien nodig (afdankings en afleggings is veral mynvelde hier!). Dit is heel gepas om die welstand van jou huiswerkers te prioritiseer om 'n positiewe en wettige werksverhouding in jou huishouding te handhaaf.
Provided by Everton Dankuru Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.