Kontrakte – Moet Geen Twyfel Laat Nie
‘n Onlangse saak in die Hoë Hof rakende ‘n eiendomsdispuut toon aan hoekom dit belangrik is.
Verhuurder teen Huurder: Die restaurant wat swaar tye beleef ...
- ‘n Restauranteienaar het ‘n perseel in terme van ‘n huurooreenkoms wat ‘n standaard “geen wysigingsklousule” bevat het, gehuur. Die betrokke restaurant het swaar tye beleef en was maande agterstallig met die betaling van die huur.
- Die verhuurder het die huurkontrak gekanselleer en skriftelike kennis aan die huurder gegee om die perseel te ontruim.
- Toe die huurder weier om te ontruim, het die verhuurder die hof om ‘n uitsettingsbevel genader.
- Die huurder se verweer was dat dit ‘n mondelingse ooreenkoms met die verhuurder aangegaan het teen die verlaagde huurprys van 25% van die daaglikse ontvangste. Die huurder voer verder aan dat dit volledig voldoen het aan hierdie gewysigde ooreenkoms en dus nie uitgesit moes word nie. Die huurder het aangevoer (met verwysing na openbare beleidsoorwegings en ander regsbeginsels) dat ‘n mondelinge ooreenkoms in hierdie omstandighede erken en eerbiedig moes word.
.... en die sekerheidsbeginsel
Dit was egter tevergeefs. Die hof merk op dat partye van ‘n kontrak dikwels beperkings plaas op hul eie magte om sodoende sekerheid te bereik oor die kontraksterme en sodoende verdere geskille te vermy. Die Hof het die uitsettingsbevel toegestaan en vyf dae aan die huurder verleen om die perseel te ontruim.
Beskerm jou posisie
- Dit is noodsaaklik om ‘n goed bewoorde “geen wysigingsklousule” in jou kontrak te hê. Daarsonder word jy dalk verplig om ten duurste in ‘n reeks howe oor die spesifieke inhoud van jul ooreenkoms te litigeer.
- Jy moet streng hou by die klousule en jy moet eerder geen mondelinge ondernemings en ooreenkomste van die ander party aanvaar nie. Dit maak nie saak hoe groot die versoeking of hoe onskuldig die versoek is nie, jou nakoming van die formaliteite bly noodsaaklik.
- Selfs in die uitsonderlike geval waar jou ooreenkoms wel mondelinge wysigings toelaat, is dit net soveel beter om alles op skrif te stel om onsekerheid en moontlike toekomstige twiste te vermy.
Pasop vir elektroniese wysigings!
Volgende maand sal ons kyk na ‘n verwante gevaar – die sluiting, wysiging en / of kansellasie van ooreenkomste, doelbewus of selfs per abuis, deur e-pos of ander elektroniese boodskappe. Dit kan voldoen aan beide “skriftelike” en “ondertekende” ooreenkomste.
Provided by Darrolls Attorneys, Notaries & Conveyancers
© DotNews. All Rights Reserved.