Krediteure: Hoe Om Jou Borgeise Teen Ondernemingsredding Te Verseker
In vorige uitgawes van LawDotNews het ons gewys op die uiteenlopende beslissings wat in verskillende afdelings van die Hoë Hof oor die hantering van borgskappe tydens besigheidsredding gegee is. Ons kan nou berig dat daar onlangs ‘n uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl hieroor gegee is. ‘n Meer eenvormige benadering behoort nou van toepassing te wees. Skuldeisers sal bly wees om te verneem dat die Appèlhof bevestig het dat die borgstellings wel afdwingbaar bly; dit bly die verantwoordelikheid van die skuldeiser om die borgstelling af te dwing.
Jou lys van aksie
- Die spesifieke bewoording en omvang van die borgstelling is hier van uiterste belang. In hierdie geval het die bank se standaard borgstelling uitdruklik voorsiening gemaak dat die volle skuldbedrag van die borg gevorder kan word, selfs waar die eisbedrag regtens deur besigheidsredding ingeperk word. Laat jou regsadviseur jou bestaande borgooreenkomste krities deurgaan.
- In gevalle waar jy reeds vonnis verkry het teen die borg, is die borg se verpligtinge teenoor jou regtens vasgelê. As die hoofskuldenaar dan later in besigheidsredding geplaas word, sal die hofvonnis nie verminder word deur ‘n besigheidsreddingsplan wat later aanvaar word nie.Neem dus vroegtydig regsaksie om die nodige hofvonnis teen die borg te verkry.
- Die hof meld ook dat, tensy die besigheidsplan uitdruklik met die posisie van borge handel, behoort die verpligting van ‘n borg nie enigsins deur besigheidsredding geraak te word nie. Dit gee dalk die nodige gerusstelling aan diegene wat borgaktes as sekuriteit hou. Dit dui egter ook op die moontlikheid dat borgaktes wel as deel van die besigheidsreddingsplan hanteer kan word, indien die besigheidsreddingsplan uitdruklik daarvoor voorsiening maak. Maak dus seker, nog lank voordat jy verplig word om ‘n besigheidsreddingsplan te oorweeg, dat jou borgakte afdwingbaar sal bly.
Provided by Darrolls Attorneys, Notaries & Conveyancers
© DotNews. All Rights Reserved.