Hoe kan jy jou ontwykende skuldenaar se bates bevries?
‘n Holle oorwinning – ‘n Oënskynlike oorwinning, maar teen so ‘n groot koste, dat dit inderwaarheid ‘n verlies is.
Iemand skuld jou ‘n groot klomp geld. Wanneer jy die skuld opvra, is daar skielik ‘n magdom redes waarom dit nie betaal kan word nie. Eers is daar verskeie navrae, kwansuis om onduidelikhede op te klaar. Dan is daar die leë beloftes van betaling en versoeke om uitstel, want die geld gaan eersdaags beskikbaar wees. Uiteindelik word jy verplig om te dagvaar om die skuld in te vorder. Nou word die saak teengestaan en elke moontlike grashalm word aangegryp en tegniese besware word ingespan om die saak solank moontlik te laat sloer.
Jy vermoed dat die rede vir die vertragingstaktiek is om die skuldenaar tyd te gee om van al sy bates ontslae te raak. Sodoende het hy niks van waarde in sy besit vir jou om op beslag te lê nie en laat jou net met groot regskostes (‘n klassieke geval van ‘n holle oorwinning).
Gelukkig kan ons reg wel in sulke gevalle tot jou redding kom. Jy kan aansoek doen vir ‘n bewaringsbevel oftewel ‘n interdik om die skuldenaar te keer om van sy bates ontslae te raak (na aanleiding van ‘n bekende Engelse saak staan dit bekend as ‘n “Mareva Injunction”). Hierdie interdik bevries en bewaar die skuldenaar se bates totdat die onderliggende litigasie afgehandel is.
Uitstel tot alle eiendomme verkoop is
‘n Onlangse uitspraak in die Hoë Hof hanteer ‘n tipiese geval en dit gee ons ook ‘n sinvolle opsomming van ons reg in so geval -
- Die skuldeiser het geld aan ‘n beslote korporasie geleen. Die beslote korporasie is daarna gelikwideer.
-
‘n Persoon wat borg gestaan het vir die nakoming van die verpligting, het verklaar dat haar enigste bates drie onroerende eiendomme was.
- Die skuldeiser het die borg gedagvaar vir bykans R600,000. Die borg het ‘n bondige pleit geliasseer waarin sy die borgstelling erken het. Sy het egter al die ander bepalings in die dagvaarding ontken en die skuldeiser was verplig om dit te bewys. Die borg was verder onwillig om ‘n voorverhoorkonferensie by te woon aangesien die datum haar klaarblyklik nie gepas het nie. Die skuldeiser het alternatiewe datums voorgestel, maar hierdie voorstelle is bloot geïgnoreer.
-
Die skuldeiser het later uitgevind dat die borg intussen haar drie eiendomme verkoop het. Die skuldeiser het gevolglik ‘n onvoorwaardelike onderneming versoek dat die oordrag van die eiendomme teruggehou sou word, totdat die litigasie afgehandel is.
-
Weereens het die borg nie op hierdie versoek gereageer nie. Toe dit duidelik geraak het dat die oordrag van die eiendomme voortgaan en dat oordrag naby was, het die skuldeiser die hof vir ‘n dringende interdik teen die vervreemding van die eiendomme genader.
- Die borg het versuim om ‘n kennisgewing van voorneme om te verdedig of ‘n beëdigde verklaring te liasseer. Haar regspan het egter by die verhoor verskyn om namens haar te argumenteer dat die interdik nie toegestaan moes word nie.
Wat moet jy bewys? En die uitslag?
Dit is ‘n drastiese stap om iemand te keer om vrylik en na goeddunke met hul eie bates te handel. Die hof sal dit egter doen indien dit nodig is om te keer dat ‘n oneerlike skuldenaar die gereg verydel en om te keer dat ‘n skuldeiser ‘n onreg aangedoen word. Die Hof sê jy moet die volgende kan aanvoer en bewys -
-
Die skuldenaar verkwis of vervreem bates, of sal dit waarskynlik doen; en
- Die skuldenaar doen dit met voorbedagte rade en met die bedoeling om die regmatige eise van skuldeisers te verydel.
Die hof bevind dat die getuienis en die omstandighede in hierdie geval duidelik wys dat die skuldenaar desperaat probeer het om die onvermydelike uit te stel. Sy het slegs vir tyd gespeel om haar die geleentheid te gee om al haar eiendomme tot nadeel van die betrokke skuldeiser te verkoop. Die hof maak gevolglik ‘n bevel dat die oordragprokureurs ‘n bedrag van R600,000 tesame met ‘n bykomende bedrag van R100,000 uit die opbrengs van die eiendomme in hul trustrekening moet terughou, totdat die litigasie afgehandel is.
Provided by Darrolls Attorneys, Notaries & Conveyancers
© DotNews. All Rights Reserved.