Werkgewers en werknemers: Rassisme mag glad nie in die werkplek geduld word nie
“Ons moet nog heelwat brûe oorsteek in ons reis van die kru en aanvaarde rassisme van die verlede na ‘n nuwe orde waar sosiale samehorigheid, gelykheid en die algemene aanvaarding van die reg op eiewaarde die beleefde realiteit is.” (Vry vertaal uit die uitspraak hieronder.)
In ‘n onlangse uitspraak het ons hoogste hof weereens bevestig en beklemtoon dat werkgewers beide ‘n reg en ‘n plig het om rassisme in die werkplek uit te roei.
Geen plek vir ‘n werknemer wat die k-woord gebruik het nie.
-
Tydens ‘n argument met sy bestuurder het ‘n beampte van SARS die k-woord gebruik.
-
Met sy dissiplinêre verhoor het hy dit erken. Hy kry toe ‘n finale skriftelike waarskuwing, geldig vir ses maande, asook skorsing sonder betaling vir tien dae. Hy is ook verwys om berading te ondergaan.
-
Die Kommissaris van SARS het die straf na summiere ontslag verander. Die werknemer het dit suksesvol teengestaan in die KVBA wat beveel het dat hy weer in diens geneem moes word. Vandaar is die saak op appèl geneem na die Arbeidshof en die Arbeidsappèlhof en uiteindelik is die saak ook in ons Grondwetlike Hof aangehoor.
- Die Grondwetlike Hof bevind dat ontslag wel die gepaste straf is, eerder as herindiensneming. Die hof gee ook hier ‘n sterk boodskap oor die gevare van rassisme in die werkplek. Die hof bevind dat die gebruik van hierdie kwetsende term, die wesenskern van rassisme bevat. Dit is minagtend. Dit lei tot berekende en verontwaardigde uitwerking op ‘n ander persoon. Die werknemer se uitsprake vorm ‘n mynveld van rassisme in die werkplek wat deur die kleinste uitlokking ter enige tyd kan ontplof. Sulke gedrag moet ferm, dog billik en regverdig deur ons Suid-Afrikaanse howe hanteer word, indien ons van voorneme is om rassisme met wortel en tak uit te wis. Ons kan dit nie ligtelik afmaak nie.
Hoekom nie herindiensneming nie?
Uit hierdie uitspraak moet dit vir beide werkgewers en werknemers duidelik wees dat die hof nie maklik oortuig sal word om in gevalle van ernstige rassistiese gedrag, herindiensneming te gelas nie. Wanneer ‘n werknemer sulke rassehaat teen mede-kollegas uitblaker, sonder enige respek vir menswaardigheid, sal dit normaalweg die voortgesette verhouding tussen die werknemer en die werkgewer ondraaglik maak.
Ernstige oortreders moet dus oor die algemeen verwag dat hul wel ontslaan sal word.
Werkgewers – prosedurele flaters sal jou duur te staan kom
Dit maak nie saak hoe sterk jou saak teen ‘n werknemer is nie, ‘n bevel van ontslag moet beide substansieel en prosedureel billik wees. Aangesien ontslag so ‘n ernstige straf is wat jou lewensbestaan kan bedreig, moet ‘n skending van die betrokke regulatoriese raamwerk altyd in ‘n ernstige lig beskou word.
SARS het ‘n reeks foute begaan in die manier waarop hulle die proses van ontslag hanteer het. In die proses het SARS hul werknemer onnodig blootgestel aan verspilde regskostes. Die hof het dus die werknemer, ten spyte van sy ernstige wangedrag, vergoed deur aan hom ses maande se salaris toe te ken. Hy word dus ontslaan van diens, maar kry wel ses maande se salaris.
Provided by Darrolls Attorneys, Notaries & Conveyancers
© DotNews. All Rights Reserved.