Die gevare van laster : Wraak op Facebook
“Good name in man and woman ... is the immediate jewel of their souls. Who steals my purse steals trash … but he that filches from me my good name robs me of that which not enriches him, and makes me poor indeed” (Wie kan dit nou beter as Shakespeare self gesê het?)
Die bestaansrede van ons lasterwetgewing is om ‘n persoon se goeie naam teen onregmatige aanvalle te beskerm. Hierdie beskerming geld nie net vir die fisiese wêreld nie, maar ook teen aanvalle wat aanlyn gemaak word. ‘n Onlangse uitspraak van die Hoë Hof oor ‘n lasterlike Facebook inskrywing het dit weereens bevestig.
Beledigende bure, lawaaierige hoenders, onwelriekende hase... en bewerings van afloerdery
-
Meneer H en Mevrou B is twee bure in ‘n residensiële landgoed.
-
Die probleme het ontstaan oor klagtes wat H by die Huiseienaarsvereniging ingedien het oor hoenders wat B op hul eiendom aangehou het. H het gekla oor die onhoudbare geraas wat die hoenders gemaak het. Hierna het B die hoenders met tussen 50 en 60 hase vervang. Dit het weer ‘n klank van ‘n ander aard afgegee en H het ‘n klagte oor die reuk ingedien.
-
Mevrou B het haar frustrasies met haar buurman op Facebook gepubliseer. In wese het sy ‘n beledigende smeerveldtog teen Meneer H geloods. Mevrou B het Meneer H daarvan beskuldig dat hy ‘n afloerder, ‘n perverse buurman, ‘n idioot en ‘n lelike stuk menslike afval is.
-
Die plasing op Facebook het Meneer H by die naam genoem, dit het sy woonadres bevat en het ook ‘n foto van hom bevat. Die boodskap is deur Mevrou B se vriende en honderde ander persone gelees.
-
Meneer H het ‘n hofinterdik bekom wat Mevrou B gelas het om haar boodskap terug te trek en sy foto van Facebook te verwyder. Meneer H het haar ook gedagvaar vir R1,3 miljoen. Mevrou B het nie die eis teengestaan nie. Die hof moes toe uitsluitlik op Meneer H se weergawe oor die volgende beslis: (a) Was Meneer H inderdaad belaster? (b) Indien wel, wat sal ‘n billike toekenning van skadevergoeding wees?
-
Meneer H het in die hof aangevoer dat sy reputasie en sy goeie naam in die gemeenskap aangetas is. Hy het aan skok, trauma, slapeloosheid en depressie gely. Sy grondwetlike reg op privaatheid en waardigheid is geskend as gevolg van Mevrou B se Facebook inskrywing, wat reaksies soos die volgende uitgelok het -
-
Insinuasies teen hom van pedofilie en kindermolestering.
-
Boodskappe van ander Facebook gebruikers soos “skiet die bliksem in die gesig met ‘n windbuks, die lelike tweegesig gemors.” Hy is onder andere beledig en na verwys as: ‘n pervert; ‘n flippen gemors; ’n siek bliksem; ’n monster en ook ‘n afgryslike stuk menslike afval.
-
Doodsdreigemente het veroorsaak dat hy verhuis het na ‘n ander eenheid in die landgoed. (Tevergeefs, want Mevrou B het ook verhuis om weereens sy buurvrou te word).
-
Sommige inwoners in die landgoed het hom met suspisie bejeën en beloer.
- Verlies aan kliënte - hy het ‘n besigheid in die landgoed bedryf.
-
Laster is die onregmatige, doelbewuste publikasie van lasterlike materiaal (in woorde of deur gedrag) wat ‘n eiser se reputasie skend. Die hof bevind dat meneer H hier wel belaster is. Hy is dus geregtig op skadevergoeding.
Hier het die hof al die omstandighede in ag geneem en aan meneer H skadevergoeding in die bedrag van R350 000 plus regskostes toegeken.
Provided by Darrolls Attorneys, Notaries & Conveyancers
© DotNews. All Rights Reserved.