Die Grondwetlike Hof bekragtig die nuwe benadering en verandering rakende egskeiding en aanwas.
Mediaberigte oor die onlangse beslissing van die Grondwetlike Hof wat 'n gedeelte van die Egskeidingswet ongrondwetlik verklaar het en die Parlement 24 maande tyd gegee het om die wet reg te stel, was nie altyd duidelik oor wie hiervan bewus moet wees, en wie nie.
Verstaan eerstens die drie tipes huweliksbedelings wat tot jul beskikking is.
Wetlik kom die huwelik in Suid-Afrika neer op 'n bindende langtermynkontrak. Julle het die reg om te kies tussen drie moontlike huweliksbedelings.
- Huwelik in gemeenskap van goed: Al jul bates en laste word saamgevoeg in een “gesamentlike boedel” waarin elkeen van julle 'n onverdeelde halwe aandeel het. By egskeiding of dood word die gemeenskaplike boedel (insluitend enige wins of verlies) gelykop tussen julle verdeel, ongeag wat elkeen van julle in die huwelik ingebring het of daarna daartoe bygedra het. Dit is ook ons huweliksbedeling by verstek. Jy sal gevolglik outomaties in gemeenskap van goedere getroud wees as jy nie anders spesifiseer en as julle nie 'n bindende voorhuwelikse kontrak voor die huwelik laat opstel en onderteken nie.
- Huwelik buite gemeenskap van goedere met die uitsluiting van die aanwasbedeling: Jou eie bates en laste, beide wat jy inbring en wat jy tydens die huwelik verkry, bly uitsluitlik joune om mee te doen soos wat jy wil. Let hier op dat die “aanwasbedeling” (sien opsie 3 hieronder) op jou van toepassing sal wees tensy jou huweliksooreenkoms dit spesifiek uitsluit.
- Huwelik buite gemeenskap van goedere met die insluiting van die aanwasbedeling: Soos met die vorige opsie, bly jou eie bates en laste net joune. By egskeiding of dood deel julle ook in gelyke mate in die “aanwas” (groei) van beide julle netto bates (met enkele uitsonderings na) soos wat dit gedurende die bestaan van die huwelik toegeneem het. Hierdie bepalings moet volledig in jul huweliksooreenkoms hanteer en uiteengesit word.
(‘n Huweliksooreenkoms moet voor die huwelik onderteken word, deur ‘n notaris verly word en dan volgens voorskrif in die Aktekantoor geregistreer word. Dit is gebruiklik dat die partye hul huweliksooreenkoms reeds weke indien nie maande voor die huwelik in persoon by ‘n prokureur en gewoonlik voor ‘n notaris onderteken. Hulle kan dit ook met ‘n volmag laat doen.)
Waaroor gaan hierdie nuwe uitspraak?
Indien jy buite gemeenskap van goedere (a) met die uitsluiting van die aanwasbedeling (opsie 2 hierbo) getroud was na (b) 1 November 1984, kon jy voorheen nie die hof vra vir 'n "herverdelingsbevel" nie – 'n hertoewysing van bates tussen gades om ‘n regverdige verdeling te verseker. Jou huweik kan eindig (of dit nou deur egskeiding of dood is) met een van julle in 'n baie sterk finansiële posisie en die ander in 'n haglike finansiële posisie, met die hof wat geen diskresie gehad het om die gade met minder of geen bates te help nie. Jy kan letterlik behoeftig gelaat word ná ‘n huwelik wat moontlik oor dekades gestrek het, met geen aanpassing vir eweredige aanwas en sonder enige eis teen jou gade se bates nie. (In so ‘n geval behoort jy wel ‘n eis vir onderhoud te hê.)
'n Hooggeregshofbevel van 2021 (nou bevestig in die grondwetlike hof) het die deel van die Egskeidingswet wat hierdie ongelukkige toedrag van sake veroorsaak het, ongrondwetlik verklaar. Dit bring mee dat jy die hof sou kon nader vir 'n herverdelingsbevel, ongeag van die datum van wanneer jy getroud was.
Wat beteken dit in die praktyk?
- Raak hierdie verandering jou?
Die verandering sal jou nie raak nie, as jy getroud was –
- In gemeenskap van goed (opsie 1 hierbo), of
- Buite gemeenskap van goedere met die aanwas (opsie 3 hierbo), of
- Buite gemeenskap van goedere met die uitsluiting van die aanwasbedeling (opsie 2 hierbo) voor 1 November 1984. (Die aanwasbedeling was toe nog nie van toepassing nie en die Egskeidingswet hanteer reeds hierdie geval.)
Die verandering raak jou wel as jy na 1 November 1984 buite gemeenskap van goedere getroud was en julle by ooreenkoms die aanwasbedeling uitgesluit het (opsie 2 hierbo).
Dit is dus ‘n beperke groep mense vir wie hierdie van belang sal wees.
- Watter nuwe regte het jy? Jy het nou die reg – wat voorheen nie tot jou beskikking was nie – om by die hof aansoek te doen vir ‘n bevel om ‘n billike herverdeling van bates tussen gades te verseker.
- Is jy outomaties geregtig op 'n herverdeling van bates? Nee - jy sal die hof moet oortuig dat “dit billik en regverdig is vanweë die feit dat die party in wie se guns die bevel verleen word, direk of indirek bygedra het tot die onderhoud of verhoging van die boedel van die ander party tydens die bestaan van die huwelik, hetsy deur die lewering van dienste, of die besparing van uitgawes wat andersins aangegaan sou gewees het, of op enige ander wyse.” Met ander woorde, jy moet bewys watter bydraes jy tot die huwelik gemaak het om jou aanspraak op herverdeling te regverdig.
- Sal die hof enigiets anders in ag neem? Wat van die bepalings waartoe julle dan ingestem het in jul Huweliksooreenkoms? Die hof kan “enige ander faktor wat na die mening van die hof in ag geneem behoort te word” in oorweging bring. Dit waartoe julle in jul huweliksooreenkoms (HVK) ingestem het, is beslis 'n belangrike oorweging, en soos die hof dit hier gestel het: “Dit is so wyd as wat dit kan wees. Die feit dat die partye 'n huweliksvoorwaardekontrak gesluit het wat die aanwasbedeling uitgesluit het, sal wel in konteks in ag geneem word. Die gewig wat hierdie faktor behoort te kry, sal van die omstandighede afhang.” Die hof kan en moet dus alles wat relevant is in ag neem, insluitend dit waartoe julle ooreengekom het met die aanvang van die huwelik.
Op die punt om te trou?
Dit onderstreep hoe belangrik dit is om die regte keuses te maak voordat jy trou om onsekerheid, hartseer en dispuut hieroor te vermy. Kry professionele advies oor watter huweliksbedeling vir jou en jou huweliksmaat se huwelik toepaslik gaan wees!
Provided by B. R. Sandwith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.