Wanneer jy ’n skuldenaar dagvaar – Voorkom ‘n oorwinning slegs in naam.
“Pyrrhiese oorwinning”, s.nw. ’n Oorwinning wat die oorwinnaar duur te staan kom, waar die voordeel uit die oorwinning verkry deur aansienlike verliese oorskry word, met die gevolg dat die stryd nie die moeite werd is nie (Wiktionary, eie vertaling)
“Pyrrhus oorwinning”, s.nw Oorwinning wat die oorwinnaar sodanig verswak dat dit slegs ’n skyn oorwinning is. (HAT)
Dit is onwaarskynlik dat ons ekonomiese uitdagings in die nabye toekoms gaan verdwyn en jy kan verwag dat al hoe meer van jou skuldenaars finansieel gaan swaartrek. Indien jy uiteindelik besluit om regstappe teen enige van hulle te neem, sal jy verseker wil verhoed dat dit jou meer gaan kos as wat jy kan terugkry.
Dit is alles goed en wel om ’n hofsaak teen ’n wanbetalende skuldenaar te voer en te wen. Maar dit is ’n holle oorwinning indien die skuldenaar uiteindelik geen bates het waarop daar beslaggelê kan word om jou skulde te betaal nie. Jy het dalk die stryd gewen, maar jy het die oorlog verloor. Jy stap weg met leë hande en al wat jy oorhou is ’n rekening vir regskoste en ’n slegte smaak in jou mond.
Wat kan jy doen indien jy, terwyl die hofsaak aan die gang is, besef dat die hofverrigtinge slegs ’n vertragingstaktiek deur die skuldenaar is om tyd te wen sodat hy van sy bates kan verkoop of wegsteek? Of dalk is die skuldenaar daarvan oortuig dat hy ’n geldige verweer het, maar besluit om in elk geval van sy bates ontslae te raak ingeval hy die saak verloor.
Die goeie nuus is dat jy ’n doeltreffende remedie tot jou beskikking het. Jy kan aansoek doen vir ’n bewaringsbevel oftewel ’n interdik (in die Engelse reg verwys hulle na ’n “Mareva injuntion”). Die effek van so ’n bevel is dat genoeg van jou skuldenaar se bates gevries word totdat die saak afgehandel is, om te verseker dat daar genoeg bates opsy gesit word vir die afdwinging van enige vonnis in jou guns.
Die saak van R230 miljoen en wat jy moet bewys
- ’n Eiser reik ’n dagvaarding in die Hooggeregshof uit vir die bedrag van R230 miljoen plus rente en kostes. Deur mediaberigte word hy bewus van die potensiële verkwisting van die verweerder se bates deur middel van ‘n korporatiewe ontknoping.
- Die Eiser verkry ’n bevel dat die verweerder sekuriteit vir R430 miljoen moet verskaf. Toe die verweerder versuim om dit te doen, doen die eiser aansoek vir ‘n bewaringsbevel.
- Volgens die Hof moet die volgende bewys word om so ’n bevel te verkry –
- Dat "die verweerder besig is om die bates te verkwis of te versteek.” (Eie vertaling.)
- Dat daar “rede is om te glo dat sodanige verkwisting of versteking van bates mala fide [in slegte trou] gedoen is met die bedoeling om [jou] eise te frustreer of te laat misluk.” (Eie vertaling.)
- Boonop moet jy “die Hof oortuig dat daar aan al die ander vereistes vir die toestaan van ’n interim interdik voldoen is.” (Eie vertaling.) Hierdie ander vereistes is reeds in menigte ander sake uiteengesit en behels dat die volgende bewys moet word –
- ’n Prima facie reg (“met die eerste oogopslag”), selfs al is daar sekere aspekte van die reg waaroor daar onsekerheid is,
- ’n Redelike vermoede dat daar ’n onherstelbare en dreigende inbreukmaking op hierdie reg gemaak sal word indien ’n interdik nie toegestaan word nie,
- Die oorwig van gerief moet ten gunste van die interdik wees, (dit beteken dat die nadeel wat die aansoeker sal ly, groter moet wees as die nadeel wat die teenparty sal ly indien die interdik nie toegestaan word nie)
- Daar moet geen ander remedie tot jou beskikking wees nie.
- ’n Prima facie reg (“met die eerste oogopslag”), selfs al is daar sekere aspekte van die reg waaroor daar onsekerheid is,
- Dat "die verweerder besig is om die bates te verkwis of te versteek.” (Eie vertaling.)
- Die hof het op die feite beslis dat die verweerder (’n maatskappy) inderdaad besig was om van sy bates ontslae te raak en uiteindelik slegs ’n lëe dop sou gewees het. Die hof bevind ook dat die verweerder in kwader trou opgetree het en “met die oog daarop om die verweerder se eise te frustreer en om te verseker dat sy oorwinning in die hangende aksie pyrrhies (leeg) sou wees.” (Eie vertaling.) Die Hof het die interdik toegestaan.
Provided by Scheibert & Associates Inc
© DotNews. All Rights Reserved.