Inhegtenisneming en ’n kriminele rekord vir díe wat nie maskers dra nie
“7,000 people have already been arrested for not wearing masks and most of them now have criminal records” (Minister van Polisie Bheki Cele in die middel van Januarie 2021)
Ons weet almal dat dit die regte en veilige ding is om te doen – dra jou masker. Dit is natuurlik ook nou ’n wetlike vereiste. Dit is sinneloos om die bepaling te oortree.
Eerstens, kan jy in hegtenis geneem word as jy nie ’n masker dra nie?
Die kort antwoord is ja. Die gewysigde Regulasies wat ingevolge die Wet op Rampbestuur uitgevaardig is, bepaal dat –
- Alle persone (behalwe kinders onder die ouderdom van ses jaar) moet te alle tye gesigmaskers dra (wat die neus sowel as die mond bedek!) wanneer hulle in openbare plekke is.
- Dit is ’n strafbare oortreding om nie gehoor te gee aan ’n mondelinge instruksie van ’n “handhawingsbeampte” om ’n masker te dra nie. (“Handhawingsbeamptes” word omskryf om lede van die SAPD en die SANW, “vredesbeamptes” soos landdroste, vrederegters, beamptes van korrektiewe dienste, munisipale wetstoepassers en ander aangewese amptenare in te sluit.) Ons verstaan dat mense gearresteer word, sonder dat ‘n opdrag eers gegee word om die masker op te sit. Dit lyk of sekere geregsdienaars die Regulasies anders interpreteer en dat hulle mense sonder die voorgeskrewe waarskuwings arresteer. Wees dus eerder versigtig en besef dat as jy nie ‘n masker in die openbaar op het nie, dat jy die risiko loop om gearresteer en vervolg te word.
- Indien jy skuldig bevind word, is jy aanpreeklik vir ’n boete of ’n periode van gevangenisstraf van tot ses maande, of beide ’n boete en gevangenisstraf.
- Jy hoef nie ’n masker te dra wanneer jy besig is met “strawwe oefening” (“vigorous exercise”) nie, mits jy voortdurend ’n afstand van een en ’n halwe meter tussen jouself en ander persone handhaaf. Die begrip “strawwe oefening” word nie in die Regulasies omskryf nie, maar sluit vermoedelik hardloop, fietsry en dies meer in waar dit teen ’n hoë spoed beoefen word – wees maar versigtig hier en speel veilig.
Jy kan ’n kriminele rekord kry, wat vir jou baie probleme kan inhou
Dit is natuurlik jou keuse as jy die aanklag in die hof wil aanveg. Dikwels sal jy egter ook ‘n alternatiewe opsie gebied word, naamlik om ‘n “erkenning van skuld” boete te betaal.
Hierdie aanbod mag dalk vir jou op daardie oomblik na ’n aanloklike oplossing klink, maar wees versigtig. Dit is een ding om ’n boete te betaal, maar waar dit lei tot ’n kriminele rekord (met ander woorde ’n inskrywing in die SAPD Kriminele Rekord Sentrum se databasis), mag jy later daaroor spyt wees. Dink byvoorbeeld aan ’n situasie waar jy aansoek doen vir ’n werk, ’n toerisme visum, ’n vuurwapenlisensie, of vir krediet (soos ’n huislening). Skielik duik jou lank vergete kriminele rekord op, skynbaar vanuit die bloute - ’n nare verrassing op die mees ongeleë oomblik.
Pogings om die wet te verander sodat slegs sekere skulderkenningsboetes tot ’n kriminele rekord sal lei, het tot dusver nog nie enige vrugte afgewerp nie. Soos wat die wet tans daar uitsien, sal jy ’n “geagte” skuldigbevinding en vonnis ontvang – dus, ’n rekord – indien jy in hegtenis geneem word en jou vingerafdrukke geneem word. Dit is ook presies wat die Minister sê met jou sal gebeur.
As jy eers ’n kriminele rekord het, is dit nie maklik om daarvan ontslae te raak nie.
Drie maniere om te poog om van jou kriminele rekord ontslae te raak
- Jou eerste opsie is om aansoek te doen vir skrapping van die rekord om dit van die KRS (Kriminele Rekord Sentrum) se databasis te verwyder. Hierdie opsie is slegs na die verloop van 10 jaar beskikbaar en slegs vir sekere “geringe oortredings”. Dit neem ook ’n lang tyd om die aansoek te verwerk. Volgens die SAPD neem dit tussen 20 en 28 weke. Let egter daarop dat sekere, gespesifiseerde geringe oortredings outomaties na 10 jaar wegval. Verkry spesifieke advies hieroor as jy onseker is.
- Tweedens kan jy ’n hof nader om jou skuldigbevinding en vonnis tersyde te stel. Dit is ’n duur opsie, dit bied nie ’n onmiddellike oplossing nie en daar is geen waarborg dat jy suksesvol gaan wees nie.
- Jou derde opsie is om te hoop dat die beoogde wysigings aan ons strafproseswette terugwerkend tot jou redding sal kom. Op hierdie stadium is dit slegs spekulatief.
Provided by Scheibert & Associates Inc
© DotNews. All Rights Reserved.