Maak voorsiening vir die koste verbonde aan jou afsterwe
“No matter how much you've been warned, Death always comes without knocking” (Margaret Atwood)
Niemand hou daarvan om oor hul eie afsterwe na te dink nie. Die dood is egter ’n onvermydelike realiteit wat elkeen van ons een of ander tyd in die gesig gaan staar. In die gevaarlike tye waarin ons leef, is dit belangrik om altyd voorbereid te wees.
Die dood van ’n geliefde is altyd ontstellend. Dit kan egter vererger word deur die uitdagings en onsekerheid oor hoe om met hul bates om te gaan.
Min van ons is vertroud met die kostes daaraan verbonde om ‘n boedel van begin tot einde te beredder. As jy hierdie uitgawes verstaan en daarvoor beplan, kan jy ’n groot verskil maak aan die uiteindelike impak van jou afsterwe op jou naasbestaandes.
Eksekuteursfooie en uitgawes
Elke boedel moet deur ’n eksekuteur beredder word. Maar seker dat jy in jou testament ’n eksekuteur benoem wie jy kan vertrou om professioneel en met integriteit en spoed te werk.
’n Eksekuteur kan ’n maksimum fooi van 3.5% plus BTW vra. Dit is gelykstaande aan ongeveer 4.025% van die waarde van die boedel. Hierdie fooi is onderhandelbaar, afhangende van die grootte en die ingewikkeldheid van jou boedel.
Die eksekuteur sal ook sekere uitgawes moet betaal, soos die koste van die advertensie om uitstaande krediteure op te spoor, bankkoste, koste van rekeningkundige beamptes, oordragfooie waar eiendom oorgedra moet word en die betaling van die Meester van die Hooggeregshof se fooie. Hierdie kostes kan gesamentlik tienduisende rande beloop.
Boedel- en ander belastings
Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SARS) hef 20% boedelbelasting op die waarde van enige boedel. Geen boedelbelasting is egter betaalbaar op ’n boedel met ’n netto waarde van onder R3.5 miljoen (toelaatbare aftrekking) nie. Enige bedrag bokant R30 miljoen sal teen 25% belas word. ’n Boedel van R40 miljoen sal dus boedelbelasting van R7.8 miljoen aan SARS moet betaal (R5.3 miljoen op die eerste R30 miljoen, na die R3.5 miljoen korting, en R2.5 miljoen op die volgende R10 miljoen).
Hierdie belasting sal egter nie van toepassing wees op enige bates wat aan ’n oorlewende gade nagelaat word nie. In hierdie geval sal dit “oorrol” en raak die boedelbelasting eers in die toekoms van toepassing by die oorlewende gade se afsterwe.
Die boedel sal ook kapitaalwinsbelasting moet betaal op enige bates wat verkoop word. SARS sal ook ’n finale inkomstebelasting-aanslag uitreik.
Boonop moet Suid-Afrikaners wat bates in die buiteland het, in gedagte hou dat hulle dalk in daardie lande ook vir boedelbelasting aanspreeklik mag wees. Suid-Afrika het ooreenkomste met baie lande in plek om die dubbele belasting van meeste bates te verhoed. Waar die belasting in die ander land egter hoër as in Suid-Afrika is, sal die boedel steeds die verskil aan die ander land moet betaal. In die Verenigde Koninkryk is die boedelbelasting-koers byvoorbeeld 40%.
Uitstaande skuld
Die boedel sal enige uitstaande skulde moet betaal. Dit sluit kredietkaarte, lenings, verbande oor eiendom en dies meer in. Rente op hierdie skulde sal na jou dood steeds oploop (dit stop nie wanneer iemand doodgaan nie), so daarom moet dit liefs so gou as moontlik vereffen word.
Dit is van kardinale belang om te besluit hoe om met huislenings te werk te gaan, veral as dit die huis is waarin die oorblywende familielede steeds woon. Soms is hierdie persone se eie finansiële posisie nie van so ’n aard dat hulle sal kwalifiseer om ’n bestaande verband oor te neem nie. Dit beteken dat die huis dalk verkoop sal moet word om die uitstaande lening te kan vereffen.
Wees voorbereid – stel vas watter kontant in die boedel beskikbaar sal wees
’n Boedel mag dalk oor voldoende bates beskik om al die uitgawes te dek. Dit kan egter steeds problematies wees indien die boedel nie genoeg kontant het nie. Die eksekuteur sal dalk van die bates moet verkoop om die vereiste kontant in die boedel beskikbaar te stel.
Nie net kan dit moontlik ekstra kostes en belastings vir die boedel teweegbring nie. Dit kan ook traumaties wees wanneer iets soos ’n huis waarin ’n geliefde woon, of ’n motor wat iemand nodig het vir vervoer, verkoop moet word. Dit is waarom dit belangrik is om behoorlike boedelbeplanning te doen om seker te maak daar daar genoeg kontant beskikbaar is.
Een manier om vir die kostes en uitgawes en boedelbelasting voorsiening te maak is om ’n lewenspolis uit te neem wat kontant na die boedel sal oorbetaal. Dit sal verseker dat jou familielede nie na jou dood met aansienlike finansiële laste agtergelaat word nie. Hulle sal dan ook beskerm word teen die bykomende stres wat met ‘n kontanttekort gepaardgaan.
Die bogenoemde is noodwendig slegs ’n opsomming van die koste-implikasies wat ter sprake is. Gesels met jou prokureur oor hoe jou testament en boedel tans gestruktureer is en hoe jy met beplanning vir al die kostes voorsiening kan maak.
Provided by Scheibert & Associates Inc
© DotNews. All Rights Reserved.