‘n Goeie testament is in die eerste plek duidelik.
“Die goue reël vir die interpretasie van testamente is om die bedoeling en die wense van die testateur vas te stel uit die taal wat gebruik word. Wanneer ons hierdie wense vasgestel het, is die hof verplig om daaraan uitvoering te gee, tensy ons deur een of ander reël of wet verhinder word om dit te doen.” (Uit die uitspraak hieronder.)
Wanneer jy jou testament laat opstel, moet jou aanwysings en wense duidelik uiteengesit word. Onduidelikheid en dubbelsinnigheid moet ten alle koste vermy word, want dit stel jou geliefdes bloot aan die risiko van onsekerheid, dispuut, onenigheid en moontlike duur litigasie wat gaan volg.
As 'n hof later moet probeer ontsyfer en bepaal wat jy eintlik bedoel het, is daar geen waarborg dat die hof jou ware wense akkuraat sal kan bepaal nie.
'n Geval van uiteenlopende interpretasies en 'n ongelukkige hofsaak.
'n Onlangse saak in die Appèlhof wys weereens waarom jy jou wense duidelik en ondubbelsinnig in jou testament moet uitdruk.
- ’n Bittere twis tussen ’n weduwee aan die een kant en haar drie stiefkinders aan die ander kant het ontstaan uit die oorledene se eienaarskap van twee erwe. Op die een erf het die pa vir sy twee dogters huise gebou, terwyl sy seun op dieselfde erf woonstelle gebou het om uit te verhuur. Die oorledene en sy vrou het in hul huis op die ander erf gewoon.
- Die dispuut het oor die twee verskillende interpretasies van 'n klousule in die vader se testament gehandel, waarin hy beide erwe aan sy dogters nagelaat het, onderhewig aan 'n reg van habitatio (bewoningsreg) ten gunste van sy vrou. Volgens die eksekuteur van die bestorwe boedel het dit aan die weduwee die reg verleen om die geboue op albei erwe te bewoon en dit ook uit te verhuur.
- Die weduwee se stiefkinders het aangevoer dat dit nooit hul oorlede pa se bedoeling kon wees om sulke ingrypende regte op die betrokke erf aan sy vrou te gee in die lig van al die "omringende omstandighede" nie. Hulle het ook klem daarop gelê dat hul pa se voorhuwelikse kontrak slegs na die ander erf (die een met die maritale woning op) in hierdie konteks verwys het. Hulle het ook daarop gewys dat hulle as sibbes informeel ingestem het dat 'n "gedeelte" van die betwiste erf aan elkeen van hulle as broer en susters toegeken sal word.
- Die broer en susters het gevolglik geweier om enige huurgeld aan die eksekuteur oor te betaal, en die dispuut het uiteindelik sy weg na die howe gevind - eers na die Hooggeregshof en daarna die Appèlhof.
- Die Appèlhof het die weduwee se reg om al die geboue te bewoon en om dit uit te verhuur en om die huurgeld vir beide erwe te vorder en te ontvang onomwonde bevestig. Die hof sal die bedoeling van die oorledene vasstel uit die bewoording van die testament wat in konteks oorweeg moet word. Met ander woorde "die testament moet gelees word in die lig van die omstandighede wat heers wanneer dit onderteken word." Hier was dit dus relevant dat die vader nie sy testament verander het om die informele toekenning van "gedeeltes" van die betwiste erf tussen sy kinders te weerspieël nie. Hy het waarskynlik bedoel dat sy vrou voordeel sou trek uit die ontvangs van toekomstige huurgeld vir haar finansiële versorging en welstand.
- Daar is nie plek vir die invoering van “ekstrinsieke getuienis” of “omringende omstandighede” om ‘n testament te interpreteer as die bewoording van die testament duidelik en ondubbelsinnig is nie - soos wat die howe dit in hierdie geval bevind het nie.
Dit is van uiterste belang dat die bewoording van jou testament professioneel opgestel word om jou laaste wense en bemakings korrek, duidelik en bondig uiteen te sit.
Provided by B. R. Sandwith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.