Egskeiding: Onthou om jou testament te hersien en op datum te bring!
"Dit is al baie lank 'n grondbeginsel van ons gemenereg en van die wetgewing wat die testamentêre erfreg beheer dat 'n testament, behoorlik uitgevoer en onderteken, die dokument is wat gesaghebbend die ware en die vrywillige beskikkings van 'n testatrise weerspieël." (Uittreksel uit hierdie uitspraak, vrylik vertaal.)
Die meeste mense is geneig om die hele of die grootste deel van hul boedel in een of ander vorm aan hul geliefde gade of lewensmaat na te laat, met die opstel van hul testamente en hul boedelplanne.
As die huweliksverhouding egter verbrokkel en ‘n egskeiding volg, moet mens ook die nodige doen en jou testament opdateer. Miskien pas dit jou om die testament se bepalings net so te los, maar dit is meer waarskynlik dat jy jou testament sal wil verander en groot veranderinge wil aanbring. Jy moet aandag gee hieraan en optree.
Dit is belangrik om jou testament te hersien en te verander wanneer jy besig is met ‘n egskeiding of selfs wanneer jy jou verhouding in ernstige heroorweging moet neem. As jy dit nie doen nie, bepaal die wet hoe dinge gaan werk as jy tot sterwe kom; beter as niks, maar ver van ideaal af.
Wat gebeur as jy nie jou testament opdateer nie?
Ons Wet op Testamente maak uitdruklik voorsiening vir die geval waar iemand skei en nie dadelik daarby uitkom om hul testament te verander nie. Hiervolgens word jou gewese gade vir 'n tydperk van drie maande na datum van die egskeiding uitgesluit om ingevolge jou “voor-egskeiding” testament te erf. Die enigste uitsondering hierop is as jou testament ooglopend bepaal en dit duidelik maak dat jy wou hê dat jou gewese gade steeds voordeel moet trek ten spyte van die egskeiding, wat onwaarskynlik is.
As jy drie maande na jou egskeiding nog nie 'n nuwe testament opgestel het nie, kan jou gewese gade weer van jou erf omdat ons reg dan aanvaar dat jy wou hê dat hy of sy jou erfgenaam moet bly, ten spyte van julle egskeiding. Jy het dus drie maande om op te tree en 'n nuwe testament op te stel wat jou nuwe wense weerspieël, anders kom jou gewese gade weer in die prentjie as erfgenaam.
Hoekom staatmaak op die gedeeltelike beskerming wat die wet jou bied, kry eerder jou nuwe testament so gou moontlik op datum. As jy niks doen nie, is jou voorkeur-erfgename (dalk is dit jou kinders, of ander geliefdes) se erflatings beslis op risiko.
- As jy binne die tydperk van drie maande na jou egskeiding sterf, kan jou gesin hul in 'n bitter stryd bevind oor jou testament en jou bedoelings oor hoe jou boedel verdeel moet word. Oorweeg gerus die geval wat ons hieronder bespreek.
- As jy langer as die drie maande na jou egskeiding oorleef, en dan tot sterwe kom, het jy dalk deur jou versuim om jou testament op te dateer, jou gehele boedel nagelaat aan 'n gewese eggenoot van wie jy totaal vervreemd is.
Die werklike geval wat die werking van die wet illustreer
- Kort voordat ‘n vrou in die huwelik getree het, het sy haar testament opgestel en sy het alles aan haar man bemaak. Ongelukkig het die huwelik nie gehou nie en het hulle later geskei. Sy het nie haar testament na hul egskeiding herroep of gewysig nie. Sy het binne die tydperk van drie maande na haar egskeiding selfmoord gepleeg.
- Soos reeds hierbo aangedui, bepaal die Wet op Testamente dan uitdruklik dat die gewese gade dan uitgesluit word en nie sal erf nie. Die gewese man het by die hooggeregshof aansoek gedoen om daardie bepaling van die wet ongrondwetlik te laat verklaar. Die hooggeregshof het teen hom beslis en hy het hom na die Appélhof gewend.
- Die Appélhof bevestig dat die uitsluitende bepaling van die Wet op Testamente wel grondwetlik is. Die gevolg is dat –
- Die twee risikofaktore wat hierbo uiteengesit is, steeds ‘n risiko is.
- Die saak dien as ’n duidelike waarskuwing dat as jy nie jou testament na jou egskeiding opdateer nie, dit later tot uitgerekte litigasie kan lei, tot onnodige nadeel van jou naasbestaandes.
- Die twee risikofaktore wat hierbo uiteengesit is, steeds ‘n risiko is.
Provided by B. R. Sandwith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.