Oortyd: Die belangrikheid van ‘n duidelike ooreenkoms.
"... 'n werkgewer mag nie vereis of toelaat dat 'n werknemer ... oortyd werk nie, behalwe in ooreenstemming met 'n ooreenkoms" (Wet op Basiese Diensvoorwaardes)
Alle werkgewers en werknemers moet weet dat die Arbeidshof onlangs uitdruklik bevind het dat dit onwettig is om jou werknemers opdrag te gee om oortyd te werk in die afwesigheid van 'n ooreenkoms waarin die partye reeds voorheen ooreengekom het dat oortyd in die werkplek soms nodig sal wees.
’n Ooreenkoms oor oortyd wat reeds verval het, maak ontslag onbillik.
- 'n Maatskappy se terreinbestuurder het vier werknemers opdrag gegee om oortyd te werk om hul produksieteikens te bereik. Hulle het geweier en beroep hulle op veiligheidskwessies op die betrokke dag.
- Hulle is van growwe insubordinasie aangekla en daarna ontslaan.
- Die werknemers het die aangeleentheid na die Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie (KVBA) verwys om die afdankings te betwis, en toe die KVBA bevind dat die afdankings wesenlik billik was, het hulle by die Arbeidshof aansoek gedoen om hersiening.
- Alhoewel die Kommissaris van die KVBA bevind het dat daar 'n ooreenkoms in plek was wat die werknemers verplig het om oortyd te werk soos en wanneer nodig, het die Arbeidshof daarna bevind dat die oortydklousule in hul dienskontrakte reeds verval het, teen die tyd wat die opdrag uitgereik is.
- Boonop was daar geen bewyse om 'n "geïmpliseerde of stilswyende" ooreenkoms om oortyd op hierdie spesifieke dag te werk, te ondersteun nie. Die Hof het gesê: "... 'n ooreenkoms [om oortyd te werk] kan slegs afgelei word waar 'n werknemer werklik oortyd gewerk het sonder vooraf toestemming."
- Die Hof kom tot die volgende gevolgtrekking - sonder 'n ooreenkoms om op die betrokke dag oortyd te werk, was die opdrag aan die werknemers onregmatig, en die ontslag wat gevolg het was daarom onbillik.
- 'n Verdere bevinding deur die hof, alhoewel dit hier net op een werknemer van toepassing was, wie se ooreenkoms om oortyd te werk geldig gebly het, moet op gelet word: “Die sanksie van ontslag behoort gereserveer te word vir gevalle van growwe weerstandigheid en growwe insubordinasie. Respek en gehoorsaamheid is ingevolge arbeidsreg en kontraktereg deel van 'n werknemer se inbegrepe pligte. Enige repudiëring hiervan is 'n fundamentele en berekende uitdaging en skending deur die werknemer van die werkgewer se wettige gesag oor hom of haar en ‘n verwerping van die plig om die werkgewer te gehoorsaam en te respekteer.”
- Die hof bevind dat in hierdie geval " Was daar geen bewyse dat die applikant-werknemers opsetlik en herhaaldelik opgetree het nie ... Uiteraard kon 'n progressiewe dissiplinêre proses met ‘n sanksie in die vorm van 'n waarskuwing of finale skriftelike waarskuwing gepas gewees het ." (Eie beklemtoning.)
- Die hof beveel die werkgewer om die werknemers met terugwerkende effek en met volle terugbetaling weer in diens te herstel.
Wat bepaal ons arbeidsreg hieroor?
Die partye se ooreenkoms is die beginpunt : Die WBDV (die Wet op Basiese Diensvoorwaardes) reguleer oortyd en maak voorsiening dat oortyd vrywillig is: "... 'n werkgewer mag nie vereis of toelaat dat 'n werknemer ... oortyd werk nie, behalwe in ooreenstemming met 'n ooreenkoms". Die plig is op jou as werkgewer om te bewys dat julle ‘n geldige ooreenkoms rakende oortyd in plek het. Hoewel 'n mondelinge ooreenkoms in die praktyk aanvaarbaar is, sal 'n skriftelike ooreenkoms van onskatbare waarde wees in geval van enige onsekerheid of dispuut.
Wanneer verval ‘n ooreenkoms oor oortyd? Die WBDV spesifiseer verder dat 'n oortydooreenkoms "wat met 'n werknemer gesluit is wanneer die werknemer met sy of haar diens begin, of gedurende die eerste drie maande van diens aangegaan word, na een jaar verval."
Die slotsom
Maak seker dat julle geldige oortydooreenkomste in plek het; en dat julle dit hernu voor die ooreenkomste verval. Soos altyd waar dit gaan oor ons arbeidswette, maak die kompleksiteit en die nadele daarvan om dit verkeerd te doen, dit nodig om vanuit die staanspoor geskikte professionele advies in te roep.
Provided by B. R. Sandwith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.