Vriende en vriendinne: Voordat jy jou voertuig uitleen...
“Neither a borrower nor a lender be” (Shakespeare)
Hier het ons ‘n liefdesverhouding tussen ‘n man en ‘n vrou wat skeefgeloop het. Die beginsels van eienaarskap bly egter dieselfde, ongeag vir wie jy as eienaar die motorvoertuig leen.
Ons aanvaar in beginsel dat as ‘n voertuig in jou naam geregistreer is, is dit die einde van die saak; jy is die geregistreerde eienaar en jy kan daarom jou voertuig van enigiemand opeis. Ongelukkig is dit nie so eenvoudig nie, soos wat ‘n onlangse saak in die Hooggeregshof aantoon -
Die geregistreerde eienaar kan nie haar voertuig terug eis nie
- Twee mense was in ‘n liefdesverhouding betrokke. ‘n Vrou het ooreengekom om ‘n voertuig aan haar liefdesmaat te leen. Sy het hierdie voertuig voorheen gekoop met ‘n lening van ‘n finansieringsmaatskappy.
- Die partye het ooreengekom dat hierdie man die voertuig vir sy persoonlike gebruik kon aanwend. Van sy kant af sou hy haar vergoed vir die gebruik van die voertuig deur die maandelikse paaiement, asook die versekering, lisensiëring, voorsiening vir dienste en verkeersboetes te betaal.
- Die liefdesverhouding het tot ‘n einde gekom en die vrou het die hof genader vir ‘n bevel om die voertuig aan haar as die geregistreerde eienaar terug te besorg.
- Daar was geen twyfel dat sy die geregistreerde eienaar van die voertuig was nie. Die hof bepaal dat dit op sigself nie genoeg is nie en wys haar aansoek van die hand.
- Die geregistreerde papiere is prima facie aanduidend dat die voertuig aan haar behoort; dit is egter nie afdoende bewys nie.
- Dit is ook nie nodig vir werklike registrasie van die voertuig om die oordrag van die voertuig te bewerkstellig nie. In hierdie geval het die dokumente in elk geval nie vir haar as die eienaar aangetoon nie, aangesien die finansieringsmaatskappy die geregistreerde eienaar van die voertuig was.
- Dit verskil drasties van die situasie met onroerende eiendom, waar formele registrasie van ‘n eiendom in iemand se naam aandui wie die eienaar is. Registrasie in die Aktekantoor is ‘n vereiste wanneer die eiendom oorgedra word in die naam van die nuwe eienaar.
- Dit is seker waar die mite vandaan kom dat die registrasie van ‘n voertuig in jou naam, aanduidend is dat jy inderdaad die eienaar daarvan is. Dit is ‘n verkeerde en gevaarlike aanname om te maak.
- Die vrou was nie die geregistreerde eienaar van die voertuig nie, die finansieringsinstelling was wel ingevolge die finansieringsooreenkoms, wat bepaal het dat die finansieringsinstelling eiendomsreg in die voertuig voorbehou het, tot tyd en wyl die uitstaande bedrag in geheel vereffen is.
- Die gewese geliefde kon dus nog vir eers aan die voertuig vashou.
As jy jou motor wil uitleen...
- As jy jou motor gaan uitleen, moet jy seker maak dat julle ‘n skriftelike ooreenkoms aangaan en dat julle dit beide onderteken. In hierdie geval kon die partye gelukkig tot ‘n groot mate oor die feite van die saak ooreenkom. Gewoonlik is die feiteverskille ook vrugbare grond vir uitgerekte litigasie.
- Die reg om jou voertuig terug te neem, moet uitdruklik in die ooreenkoms uitgestippel word. Die vrou sou in ‘n baie sterker posisie gewees het as die ooreenkoms uitdruklik bepaal het dat sy haar eiendomsreg voorbehou, vir wanneer hy sou versuim het om die ooreengekome betalings te maak en ook indien hule verhouding tot ‘n einde sou kom. Sy sou dan nie bloot as die geregistreerde eienaar gedagvaar het nie, maar op sterkte van die bepalings van die partye se skriftelike ooreenkoms.
- Vir lewensmaats en mense wat saamwoon is hierdie weereens ‘n herinnering dat daar nie iets soos ‘n “gemeenregtelike huwelik” in ons reg bestaan nie.
- Daar is ook geen outomatiese regte wat aan enige van die saamwoonpartye toeval by beëndiging van die verhouding nie. ‘n Volledige en skriftelike saamwoonooreenkoms is die veiligste manier om partye in ‘n saamwoonverhouding se finansiële posisies en persoonlike regte teenoor mekaar te beskerm.
Provided by Scheibert & Associates Inc
© DotNews. All Rights Reserved.