Verhuurders en Huurders : Vlak 1 van die Inperking en die nuutste reëls oor Uitsettings
“Only in our dreams are we free. The rest of the time we need wages” (Terry Pratchett)
Die grendeltydperk het tot heelwat salarisverminderings en afleggings gelei. Dit hou in dat daar huurders is wat sukkel om hul volle huur te betaal. Dit beteken ook dat daar verhuurders is wat self planne moet maak om hul verbande en munisipale verpligtinge te betaal, wat steeds elke maand betaal moet word.
Hierdie artikel handel spesifiek oor residensiële huurooreenkomste. As verhuurder of huurder moet jy weet wat die regulasies oor uitsettings tydens Vlak 1 van inperking “gedurende die nasionale ramptoestand” bepaal.
Hierdie is uiteraard slegs ‘n oorsigtelike opsomming. Jy behoort toegepaste, professionele advies vir jou spesifieke omstandighede te verkry.
- Uitsettings van huurders kan slegs ingevolge ‘n hofbevel geskied.
- Die hof het die bevoegdheid om die uitvoering van ‘n voorgenome uitsetting op te skort tot nadat die “noodtoestand verval het of beëindig is”. Ons howe sal steeds neig om die uitvoering van uitsettingsbevele op te skort. Verhuurders moet dit in gedagte hou wanneer hul besluit om die hof te nader om ‘n uitsettingsbevel te verkry. Verhuurders moet verstaan dat die hof die uitsettingsbevel kan toestaan, maar dat die hof waarskynlik die uitvoering van die uitsettingsbevel terselftertyd gaan opskort.
- Die verhuurders gaan die hof moet oortuig dat dit nie reg of billik gaan wees om die uitsettingsbevel op te skort nie. Die hof sal die volgende faktore in ag neem: gesondheidsoorwegings (openbare gesondheidskwessies sowel as die gesondheid van die spesifieke partye), of daar alternatiewe verblyf met dienste tot die huurder se beskikking is, die invloed van die pandemie op beide partye en die hof se poging om ‘n balans te vind tussen hierdie konflikterende belange. Die hof gaan ook bepaal of die verhuurder stappe in goeie trou geneem het om reëlings met die geaffekteerde partye te tref, insluitende betalingsreëlings met die doel om te keer dat enige gedwonge verhuising tydens die noodtoestand nodig gaan wees.
- Die Verhuringstribunaal het uitgebreide magte bygekry om die verhuurder te beveel om besit van die eiendom aan die huurder te herstel en ook om weer dienste aan die huurder te verskaf. Dit geskied by wyse van ‘n “ex parte” spoliasiebevel, wat beteken dat die verhuurder nie kennis van die aanvanklike aansoek kry nie en nie daarby betrokke is nie. Die verhuurder kan wel daarna versoek om met kennisgewing van 24 uur aangehoor te word.
- Die Verhuringstribunaal beskou dit as “onbillike praktyk” waar -
- Dienste opgeskort is sonder dat daar voldoende kennis hiervan gegee is, of waar geen pogings aangewend is om alternatiewe betalingsreëlings te tref nie, of waar daar geen voorsiening gemaak is vir die verskaffing van basiese dienste tydens die nasionale ramptoestand nie.
- Enige boete gehef word vir huurgeld wat laat betaal word, waar dit as gevolg van die pandemie veroorsaak is. Slegs die ooreengekome of toegelate rente kan gehef word, geen boetes nie.
- Enige party (hetsy die verhuurder of die huurder) weier of laat na om redelik en in goeie trou met mekaar te onderhandel ten einde die situasie aan te spreek en die gevolge van die noodtoestand te hanteer.
- “Enige ander optrede wat die voortgesette okkupasie van ‘n woning bedreig, wat die gesondheid van enige persoon in gevaar stel, wat iemand verplig om die beperkings op hul beweging tydens die inperking te verontagsaam, en wat onder die geldende omstandighede as onredelik of verdrukkend bevind kan word.”
- Dienste opgeskort is sonder dat daar voldoende kennis hiervan gegee is, of waar geen pogings aangewend is om alternatiewe betalingsreëlings te tref nie, of waar daar geen voorsiening gemaak is vir die verskaffing van basiese dienste tydens die nasionale ramptoestand nie.
Nota aan Verhuurders en Huurders:
Hou volledig rekord van alle korrespondensie, onderhandelinge en gesprekke. Die geskil kan heel moontlik voor die howe of die tribunaal aangehoor word.
Beide die Verhuurders en die Huurders moet hier billik en regverdig teenoor mekaar optree. In hoe ‘n mate kan die onderskeie partye nog die bepalings van die oorspronklike huurooreenkoms nakom in die lig van die nasionale ramptoestand wat heers?
In gevalle waar ‘n huurder sukkel om die volle huur te betaal as gevolg van die inperking, moet verhuurders enige billike versoek vir tydelike uitstel of gedeeltelike betalings oorweeg. Huurders moet ook billik en realisties wees met hulle versoeke vir verligting. Onderhandelinge in goeie trou is dus van uiterste belang. Dit is ook al hoe ‘n verhuurder enige kans gaan hê om in toepaslike gevalle wel met ‘n uitsettingsbevel te kan slaag wat afgedwing kan word.
Provided by Scheibert & Associates Inc
© DotNews. All Rights Reserved.