Het jy geweet dat CV-leuenaars nou tronkstraf in die gesig staar?
“Bedrog is 'n kanker wat ons land lamlê” (Appèlhof 2019)
Dit is algemeen in hierdie tyd van hoë werkloosheid dat werkaansoekers wat, desperaat om aangestel te word, lieg oor hul kwalifikasies op hul CV's. Onlangse hoëprofielgevalle van vals dokters is ongetwyfeld net die puntjie van die ysberg wanneer dit by hierdie groeiende probleem kom.
Die gevolge vir enige onderneming wat so 'n kandidaat aanstel kan natuurlik uiters ernstig wees. Die onderneming staar verlies aan reputasie, verlies aan kliënte, ‘n gevaarlike werkplek waar veiligheidskwessies op die spel is, en potensiële aanspreeklikheid vir enige skade wat die ondergekwalifiseerde werknemer veroorsaak in die gesig.
Die nuwe oortredings
Daar is nou versterkings. Alle werkgewers, werknemers en werksoekers moet weet dat enigiemand wat oor hul kwalifikasies lieg, die risiko neem van swaar boetes en tronkstraf van tot vyf jaar.
Die Wysigingswet op die Nasionale Kwalifikasieraamwerk het nou in werking getree. Dit is nou 'n kriminele oortreding om "valslik of bedrieglik" voor te hou dat jy 'n kwalifikasie of deel van ‘n kwalifikasie van enige onderwys- of vaardigheidsontwikkelingsverskaffer, insluitend 'n buitelandse instelling, verwerf het. Bedrieglike eise hoef nie noodwendig in die vorm van 'n CV te wees nie – enige doelbewuste “vervalsing en verspreiding of publikasie” van vals kwalifikasies word nou gekriminaliseer. Dit sal nou 'n kriminele oortreding wees om vals matrieksertifikate of grade op sosiale media te plaas.
Wat jy as werkgewer moet doen
- As 'n werksoeker lieg
As werkgewer moet jy vooraf jou omsigtigheidsondersoek doen. Gaan alle kwalifikasies wat aangedui word na. Praat persoonlik met verwysings, bevraagteken teenstrydighede of leemtes in CV's – hierdie is basiese vereistes.
Julle sal natuurlik nie 'n aansoeker aanstel wat 'n leuenaar blyk te wees nie. Moet dit nie net daar laat nie – lê kriminele klagte! Dit mag dalk ‘n beslommernis wees, maar die aansoeker het jou besigheid in gevaar gestel deur die valse kwalifikasie voor te hou. Die beste beskerming wat julle kan hê teen toekomstige pogings om jul op hierdie manier te bedrieg, is met 'n reputasie dat julle ferm teen vervalsers optree.
- As 'n bestaande werknemer lieg
As jy aan die ander kant uitvind dat 'n bestaande werknemer skuldig is aan CV-bedrog, hetsy om die werk aanvanklik te kry of om te kwalifiseer vir 'n voordeel soos 'n bevordering, het jy 'n reeks opsies tot jou beskikking –
- Lê aanklagte: Stuur 'n duidelike boodskap: "Moenie met ons mors nie!" deur kriminele aanklagte in te dien en deur te sien. Dit kan kwalifikasiebedrog wees of dit kan onder ons algemene strafreg as gewone bedrog vervolg word. 'n Onlangse geval was 'n “vals radiograaf” wat haar kwalifikasie om die werk te kry wanvoorgestel het. Sy is tot 2 000 uur se periodieke gevangenisstraf gevonnis.
- Dissiplinêre stappe: Julle sal ook dissiplinêre stappe teen die werknemer oorweeg, met ontslag 'n duidelike moontlikheid in toepaslike gevalle. Verkry spesifieke regsadvies hieroor.
- Eis skadevergoeding: Jy kan ook 'n eis teen werknemers hê vir enige verliese wat uit hul bedrog spruit. Die hooggeregshof het onlangs 'n werknemer, wat valslik beweer het dat hy 'n graad gehad het, beveel om alles wat hy verdien het aan sy werkgewer terug te betaal – meer as R2,2 miljoen. Hierbenewens het die hof die werkgewer gemagtig om ‘n beslaglegging op die werknemer se voorsorgfonds uit te voer. Die bedrieër se aftreeplanne is daarmee heen. Pensioen- en voorsorgfondse word normaalweg teen krediteure beskerm maar nie teen eise vir “enige skade wat aan die werkgewer veroorsaak is weens enige diefstal, oneerlikheid, bedrog of wangedrag nie”. Die hof het die werknemer verder gelas om koste op die bestraffende skaal soos tussen prokureur en kliënt te betaal.
- Lê aanklagte: Stuur 'n duidelike boodskap: "Moenie met ons mors nie!" deur kriminele aanklagte in te dien en deur te sien. Dit kan kwalifikasiebedrog wees of dit kan onder ons algemene strafreg as gewone bedrog vervolg word. 'n Onlangse geval was 'n “vals radiograaf” wat haar kwalifikasie om die werk te kry wanvoorgestel het. Sy is tot 2 000 uur se periodieke gevangenisstraf gevonnis.
Provided by B. R. Sandwith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.