As die Munisipaliteit jou bouplanne verwerp, oorweeg die bepalings van PAJA.
“The Constitution guarantees that administrative action will be reasonable, lawful and procedurally fair. It also makes sure that you have the right to request reasons for administrative action that negatively affects you.” (Department of Justice and Constitutional Development)
Burokratiese besluite kan verreikende gevolge vir ons hê, beide finansieel en in ons persoonlike lewens. Dit is dus goed om te weet dat wanneer jou regte deur so 'n besluit geraak word, jy toegang het tot die beskerming soos in PAJA uiteengesit (die Wet op die Bevordering van Administratiewe Geregtigheid).
In 'n neutedop bepaal PAJA dat "administratiewe besluite" deur staatsdepartemente en semi-staatsinstellings billik, wettig en redelik moet wees. Besluitnemers moet billike prosedures volg, jou toelaat om jou weergawe voor te hou, voordat die besluit geneem word, en jou van skriftelike redes vir besluite voorsien wanneer daarvoor gevra word.
As 'n besluit teen jou geneem word, moet jou eerste stap wees om alle beskikbare interne appèlprosedures te volg. Uiteindelik sal jy jou tot die hof kan wend, maar dalk kan ‘n brief of twee van jou prokureurs die probleem oplos, sonder dat dit nodig is om te litigeer.
’n Onlangse uitspraak van die Hooggeregshof illustreer een manier waarop PAJA jou kan help indien jou ander opsies uitgeput is -
’n Vulstasie se bouplanne is verwerp
- 'n Vulstasie het bouplanne vir 'n beoogde opknapping by die plaaslike owerheid ingedien.
- Ná ’n reeks vergaderings met die munisipaliteit, en nadat veranderinge aan die planne aangebring is en verskeie kwessies geopper en opgelos is, het die vulstasie-eienaars gedink alles is in orde. Uiteindelik is die planne egter nie aanvaar nie, op grond daarvan dat die aansoek die uitbreiding van die vulstasie behels het – iets wat nie ingevolge die plaaslike Dorpsbeplanningskema goedgekeur kon word nie.
- Die Hooggeregshof het bevind dat daar in werklikheid geen "uitbreiding" betrokke was nie en dat die munisipaliteit gevolglik 'n "regsfout" begaan het.
- Op grond hiervan kon die hof die munisipaliteit se besluit hersien en tersyde stel. Die hof verwys die besluit terug na die munisipaliteit vir heroorweging. Die hof het die munisipaliteit beveel om binne 21 dae ‘n besluit te neem, en ook uitdruklik gelas dat die voorgestelde opknapping nie as 'n uitbreiding van die gebou hanteer moet word nie.
'n Laaste gedagte - streng afsnydatums is by PAJA van toepassing. As 'n besluit teen jou geneem word, beveel ons aan dat jy sonder versuim professionele advies en regshulp inwin.
Provided by Everton Dankuru Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.