Wie kry die huis met ‘n egskeiding?
“Ek is ‘n wonderlike huishoudster. Elke keer wat ek van ‘n man skei, hou ek sy huis.” (So het die sewemalige geskeide aktrise Zsa Zsa Gabor gesê, vrylik vertaal.)
Uit ‘n historiese perspektief, eindig 44% van Suid-Afrikaanse huwelike in 'n egskeiding. Sedert die aanvang van die Covid-19 inperking was daar glo ‘n toename van 20% in nuwe egskeidingsake.
In die ongelukkige situasie waar ‘n huwelik tot ‘n einde kom, is die gesinswoning gewoonlik vanuit 'n finansiële en ook 'n emosionele perspektief die belangrikste bate. Dit is daarom vir enige paartjie wat oorweeg om te trou asook gades wat reeds getroud is, belangrik om te verstaan wat ons wet sê oor die verdeling van bates tydens ‘n egskeiding.
Die partye se finale Egskeidingsbevel vervat die partye se finale ooreenkoms oor die ontbinding van hul huwelik. In die geval waar altwee partye saamstem oor die verdeling van bates en laste, sal die ooreenkoms gewoonlik in 'n Skikkingsakte vervat word. So ‘n skikkingsooreenkoms maak hierdie moeilike proses, makliker vir almal wat daarby betrokke is. Veral as daar kinders betrokke is. Tydens die egskeidingsproses word die kinders reeds aan trauma blootgestel. ‘n Mens wil nie dat die kinders verder aan 'n bitter stryd oor bates blootgestel word nie, veral nie waar daar ‘n kans is dat hulle die gesinswoning en hul bekende omgewing gaan moet verlaat nie.
In gevalle waar die partye nie kan saamstem oor die verdeling van bates en die bepalings van die egskeiding nie, is daar ‘n emosionele, onsekere, lang en duur litigasieproses wat voorlê, voordat die hof die egskeiding kan finaliseer.
Die huweliksgoederebedeling wat op die partye se huwelik van toepassing is, is die logiese beginpunt met ‘n egskeiding. Is die partye in gemeenskap van goedere getroud of is hulle buite gemeenskap van goedere met mekaar getroud? As hulle buite gemeenskap van goedere met mekaar getroud is, is dit met of sonder die aanwasbedeling?
Wanneer die partye in gemeenskap van goedere getroud is.
Dit is die standaard huweliksgoederebedeling in Suid-Afrika. Dit is dus die huweliksgoederebedeling wat van toepassing gaan wees vir partye wat nie 'n huweliksvoorwaardekontrak onderteken voordat hulle trou nie. Die gevolge van hierdie huweliksbedeling is dat alle bates en laste op die datum van egskeiding (daar is spesifieke uitsonderings) 50/50 tussen die partye gedeel sal word. Altwee partye het ‘n onverdeelde aandeel in die gemeenskaplike boedel.
Die egskeidingsbevel en die Skikkingsakte sal dikwels voorsiening maak dat die een eggenoot 100% eienaar word van die eiendom. Die partye sal dan ‘n skikking moet bereik, insluitende die nodige finansiële reëlings tussen die partye om die waarde van die ander eggenoot se halwe aandeel in die eiendom in berekening te bring.
Dit is nie nodig vir ‘n volledige oordrag van die eiendom in die Aktekantoor nie; ‘n Aktebesorger sal wel moet toesien dat die voorgeskrewe endossement op die eiendom se titelakte aangebring word om eienaarskap van hierdie halwe aandeel formeel in die Aktekantoor oor te dra.
Wanneer julle buite gemeenskap van goedere getroud is.
Hier is twee afsonderlike boedels ter sprake. Wat jy in die huwelik ingebring het, bly joune, asook enige groei in jou batewaarde gedurende die huwelik.
Wie die huis hou (of kry) en hoeveel die ander eggenoot betaal moet word vir sy of haar halwe of hele aandeel in die eiendom, sal afhang van 'n aantal faktore, insluitend die bepalings van die huweliksvoorwaardekontrak en of die partye met of sonder die aanwasbedeling getrou het.
As die partye nie uitdruklik hieroor in hul huweliksooreenkoms ooreenkom nie, sal die aanwasbedeling op die huwelik van toepassing wees. Die meeste huwelikspartye sluit in elk geval die aanwasbedeling in as deel van hul huweliksvoorwaardes, wanneer hulle in die huwelik tree. Dit hou in dat die gesamentlike waarde waarmee die partye se boedels tydens die huwelik groei (die aanwas) gelykop tussen die partye verdeel moet word.
As die gesinswoning net in een van die partye se naam geregistreer is en daardie eggenoot behou die huis, is dit nie nodig om ‘n formele oordrag te doen nie. As die ander eggenoot egter die geregistreerde eienaar wil word, is 'n volledige oordrag van eienaarskap nodig en moet die oordrag in die Aktekantoor geregistreer word. Die eggenoot is vrygestel van die betaling van hereregte aan SARS, maar daar is steeds ander oordragkostes en uitgawes wat in ag geneem moet word.
As die huwelikspartye reeds mede-eienaars van die eiendom is (met ander woorde beide van hulle word as gesamentlike eienaars op die Titelakte aangedui) en die partye besluit om volle eienaarskap aan die een eggenoot oor te dra, is 'n formele oordrag van eienaarskap nodig en moet dit in die Aktekantoor geregistreer word (sien hierbo rakende die kostes). Die partye sou ook met mekaar kon ooreenkom om tydelik of permanent hul mede-eienaarskap van die woning na die egskeiding te behou. Dit kan wees om die ontwrigting in die kinders se lewens te beperk, of omdat die partye saamstem dat hul eiendom teen die beste prys bemark en verkoop moet word, wat dalk nog ‘n hele tyd kan neem om te bewerkstellig. Hier moet die partye duidelik ooreenkom oor die tussentydse reëlings soos die betaling van uitgawes, toegang tot en gedeelde gebruik van die woning, die minimum verkoopprys en die voorgenome tydsduur van hul toekomstige gesamentlike eienaarskap, ensovoorts.
Wat van die uitstaande bedrag op die verbandlening?
As julle tans as mede-eienaars geregistreer is, bly albei van julle ewe aanspreeklik vir die volle skuld wat aan die bank verskuldig is. As een van die partye die eienaar is en die ander een wil oordrag neem van die eiendom, bly die huidige eienaar alleen aanspreeklik vir die skuld totdat dit afgelos is of totdat ‘n ander reëling getref is, en hy of sy formeel deur die bank vrygestel word.
Die eggenoot wat die huis besit (of gaan oorneem), sal 'n nuwe leningsaansoek op sy of haar eie naam by die bank moet indien. As jy op jou eie vir die oorblywende leningsbedrag kwalifiseer, sal jy dan aangeteken word as die enigste skuldenaar van die verband oor die eiendom.
As jy die huis gaan kry, hoe gaan jy jou geskeide eggenoot uitbetaal?
Daar is normaalweg 'n finansiële aanpassing tussen die partye om die een eggennoot te vergoed vir sy of haar halwe deel in die eiendom wat hy of sy gaan afstaan. As die ander gade nie die fondse het om dit te bewerkstellig nie, moet daardie gade by die bank aansoek doen vir verdere fondse (selfs ‘n tweede verband) ten einde die ander huweliksparty uit te betaal.
Die partye kom ook dikwels ooreen om die huis te verkoop en die opbrengs te verdeel nadat die bestaande verband en verwante kostes afbetaal is.
Wat as die gesinswoning in die naam van 'n trust of maatskappy geregistreer is?
Dikwels word huise en ander eiendomme in die naam van trusts of maatskappye gehou en geregistreer. Daar kan goeie redes hiervoor wees, soos vir opvolgbeplanning, vir boedelbeplanning en ook vir die beskerming van bates teen skuldeisers. Ons howe word gereeld genader om dispute hieroor op te los. Die regter hoor dan dikwels tydens die aanbied van getuienis dat: “dit was alles 'n front en ‘n rookskerm; die huis het nooit regtig aan die trust behoort nie en as gevolg hiervan moet die eiendom as ‘n bate in die persoon se boedel hanteer word”. Regters word dan gevra om die eiendom uit die trust te neem en by die ander party se persoonlike boedel in te reken, ten einde die ware groei in aanwas te bepaal en te beskerm.
Die eggenoot wat hierdie roete wil volg, sal 'n vorm van 'misbruik' van die trust moet bewys voordat 'n hof sal beveel dat die gesinswoning persoonlik aan die ander eggenoot behoort. Al hierdie moontlikhede het verskillende antwoorde en uitkomste; dit is daarom noodsaaklik om kundige en professionele advies in te win rakende die spesifieke geval en die feite ter sprake.
Voorkoming is beter as genesing. Inligting gee jou die mag om ingeligte besluite te neem.
Die gesinswoning is dikwels die enkele grootste bate in ‘n huwelik. Dit is daarom belangrik dat ‘n paartjie wat gaan trou, professionele advies moet kry oor wat die beste huweliksbedeling vir hulle spesifieke omstandighede gaan wees en ook hoe ‘n gesinswoning ideaal in hulle spesifieke geval geregistreer moet word.
Provided by Scheibert & Associates Inc
© DotNews. All Rights Reserved.