Direkteure: Jou Risiko Van Persoonlike Aanspreeklikheid Vir Bydraes Tot Werknemers se Pensioenfonds
Dit gebeur dikwels dat wanneer ‘n maatskappy in besigheidsredding geplaas word of gelikwideer word, dit aan die lig kom presies hoeveel druk daar op die kontantvloei van die entiteit was. Dan kom dit ook dikwels uit dat die werknemers se pensioenfondsbydraes (en dikwels ook belastingbydraes) wel van hul salarisse afgetrek was, maar dat die werkgewer dit nooit aan die pensioenfonds oorbetaal het nie. Die werknemers word uiteraard benadeel en hul pensioenvoordele word so op risiko geplaas.
Indien die werkgewer ‘n maatskappy of soortgelyke entiteit was, het die werknemers nie geredelik enige eis teen die bestuur of direksie van die maatskappy gehad nie. Hul eis was dus teen die sinkende maatskappy as die werkgewer, met ‘n beperkte vooruitsig om enige verhaling te bewerkstellig.
Die landskap het egter nou met nuwe wetgewing drasties verander. Direkteure (en besluitnemers in ander entiteite) kan –
- Persoonlik aanspreeklik gehou word vir nie-betaling, en
- Strafregtelik aangekla word. By skuldigbevinding kan ‘n straf van ‘n boete van tot R10 miljoen en/of gevangenisstraf van tot 10 jaar opgelê word.
Verminder jou risiko!
- Nie alle direkteure is op risiko nie, wel diegene wat beheer het of wat gereelde insette en toegang het tot die maatskappy se finansiële aangeleenthede. Indien jy as direkteur dus nie met die maatskappy se finansies te make het nie, is jy verplig om die pensioenfonds dienooreenkomstig in kennis te stel. Indien die direkteure nie sodanige onderskeid aan die pensioenfonds bekend maak nie, sal al die direkteure wel aanspreeklik gehou kan word.
- Maak ook seker dat jou maatskappy voldoende maatreëls in plek het om te verseker dat die maandelikse bydraes in geheel en tydig aan die pensioenfonds oorbetaal word. Alle pensioenfondsbydraes moet binne sewe dae na maandeinde aan die fonds oorbetaal word.
- Indien jou maatskappy met so ‘n kontantvloeiprobleem sit, dat die pensioenfondsbydraes vir ‘n maand nie oorbetaal kan word nie, is dit ‘n duidelike aanduiding dat die situasie dringende aandag benodig. Jy en die direksie moet dan sonder versuim advies neem oor die maatskappy se pad vorentoe.
Provided by Darrolls Attorneys, Notaries & Conveyancers
© DotNews. All Rights Reserved.