‘n Uitsig Oor Die See
Die onlangse uitspraak in die Hoogste Hof van Appèl beklemtoon weereens hoe belangrik dit is dat ooreenkomste en reëlings oor eiendom so volledig moontlik op skrif gestel moet word.
Twee bure vat mekaar aan: Die uitsig oor die see en die sogenaamde serwituut.
Op skrif of ongeldig
Twee bure vat mekaar aan: Die uitsig oor die see en die sogenaamde serwituut.
- Twee aanliggende huise in Bantry Bay in Kaapstad bied elkeen asemrowende uitsigte oor die see. Die eksklusiewe uitsigte het ook wesentlik tot die waarde van die eiendomme bygedra.
- Die bure se twis het begin toe A – wie se erf voor die erf van B geleë is – met bouwerk begin het, sonder dat hy munisipale goedkeuring verkry het. Die bouwerk was ook in stryd met beperkende titelvoorwaardes en in stryd met soneringsvoorskrifte.
- By ‘n skikkingsvergadering tussen die bure het B ooreengekom dat hy nie beswaar sou maak teen A se aansoek om af te wyk van die voorskrifte nie. Hy sou ook nie beswaar maak teen die voorgestelde wysigings van die Titelakte nie.
- Volgens B het A op sy beurt onderneem om ‘n serwituut ten gunste van B se eiendom te registreer wat A sou verbied om hoër as ‘n ooreengekome hoogte te bou; dit sou dan B se uitsigte beskerm. Hierdie onderneming is mondeling gegee in ruil vir die toegewing dat B nie beswaar sou maak teen die opheffing van die beperkende titelvoorwaarde nie.
- Die partye het daarna probeer om hul wedersydse mondelinge ooreenkoms op skrif te stel. Konsepooreenkomste, aanbiedinge en teenaanbiedinge het tussen die partye gevlieg, maar hulle was nie in staat om ‘n finale ooreenkoms te bereik nie. Uiteindelik het B staat gemaak op ‘n konsepooreenkoms wat A opgestel het, maar wat slegs deur B onderteken is. A het aangevoer dat hierdie half getekende konsepooreenkoms slegs ‘n aanbod tydens hulle onderhandelinge was, wat toe nie deur B aanvaar is nie.
- Intussen het A voortgegaan met die ontwikkeling en bouwerk, sonder dat B van sy kant af enige formele beswaar teen die bouwerk gemaak het nie.
- Toe B egter die serwituut oor die eiendom wou registreer, het A ontken dat hy ooreengekom het tot enige afwyking van die bouregulasies en ook dat hy ingestem het tot ‘n inperking op die hoogte van sy bouwerk. B was genoop om hom tot die Hooggeregshof te wend, waar hy suksesvol was en die hof vir A beveel het om die beperkende serwituut oor sy eiendom te laat registreer.
Op skrif of ongeldig
“A verbal contract isn't worth the paper it's written on” (Samuel Goldwyn)Kry dit op skrif. Dit bly maar net beter so vir almal.
Die Hoogste Hof van Appèl het nie hiermee saamgestem nie. Hierdie hof bevind dat B nie daarin geslaag het om die beweerde ooreenkoms (waarin A by wyse van die registrasie van ‘n serwituut, uit vrye wil sou ooreenkom om ‘n hoogte beperking op sy bouwerk te plaas) te bewys nie. Die Hof bevind dat B nie die beweerde mondelinge ooreenkoms bewys het nie. Belangriker as dit – volgens ons reg moet enige verhandeling of beswaring van ‘n belang in grond (vaste eiendom) – soos wat hier ter sprake is met die inperking van gebruiksregte van die partye se onderskeie eiendomme – op skrif gestel wees en beide die partye moet dit onderteken.
Jou uitsig oor die see kan gered word!
Jou uitsig kan dus redelik eenvoudig gered word indien al die partye ooreenkom en saamwerk. So ‘n ooreenkoms moet egter op skrif gestel word en die hoogtebeperking moet onomwonde daarin uitgestippel word. Kry eerder regsadvies voordat jy die finale ooreenkoms teken en maak seker dat die ooreenkoms duidelik, bindend en afdwingbaar is. Wanneer die ooreenkoms deur beide partye onderteken is, moet jy dan ook verkieslik formele instruksies gee dat die ooreengekome hoogtebeperking formeel as ‘n beperkende serwituut op die titelaktes geregistreer word.
Provided by Darrolls Attorneys, Notaries & Conveyancers
© DotNews. All Rights Reserved.