Die Werkgewer En Leuen-Verklikkertoetse
Daar is dikwels onduidelikheid oor die toelaatbaarheid en gebruik van leuen-verklikkertoetse (poligraaf) by dissiplinêre ondersoeke en by onderhoude waar werknemers vir bevordering oorweeg word.
Dit lyk of ons howe bereid is om getuienis oor leuen-verklikkertoetse in ‘n mindere mate in ag te neem, maar met die volgende voorbehoude -
- Die werknemer of aansoeker moet uitdruklik instem tot die toetsing. Die werkgewer moet dus seker maak dat ‘n toestemmingsvorm opgestel en gebruik word, wat wel water sal hou indien dit later tydens ‘n hofproses bevraagteken word.
- Die prosedure moet regverdig wees en dit moet voldoen aan ons algemene arbeidswetgewing.
- ‘n Deskundige moet in beheer wees van die toetsprosedure wat ook die geldigheid van die uitslag kan bevestig.
- Ons howe benader die uitslae van leuen-verklikkertoetse met omsigtigheid. Dit is hoogs onwaarskynlik dat die uitslag alleen ooit aanvaarbaar sal wees as oortuigende bewys van oneerlikheid. Die toets kom eerder tot sy reg as ondersteunende bewys, waar daar ander primêre en bevestigende getuienis van oneerlikheid aangebied word.
Bevordering
Voorsorg is beter as nasorg. Daarom is dit sinvol om soveel navorsing as moontlik oor die eerlikheid en integriteit van werknemers te doen, wat aansoek doen vir bevordering. Indien leuen-verklikkertoetse in die proses gebruik gaan word, kan dit nie die enigste manier van toetsing wees nie.
Die Arbeidshof het onlangs hieroor beslis. Twee werknemers het vir ‘n bestuurspos aansoek gedoen. Beide was onsuksesvol as gevolg van die uitslae van ‘n leuen-verklikkertoets. Die Arbeidshof het ten gunste van die twee werknemers bevind dat die werkgewer se besluit om uitsluitlik op die uitslae van die toetse bevordering te weier, ‘n onbillike arbeidspraktyk daarstel. Die hof bevind dat die gebruik om die kandidate af te keur as gevolg van ‘n gebrek aan integriteit en eerlikheid, sonder dat daar enige ander getuienis as die leuen-verklikkertoets se uitslae gebruik word, nie regverdig beskou kan word nie.
Ontslag
Die Arbeidsappèlhof het eweneens onlangs hieroor uitspraak gelewer. Twee werknemers was deel van ‘n span wat die verspreiding van sigarette vanuit ‘n verspreidingspakhuis hanteer het. Daar was voortdurend tekorte en diefstal uit die pakhuis. Nadat die werkgewer die situasie ondersoek het, het hulle vermoed dat sommige van die werknemers by die diefstal betrokke was. Die werknemers het ingestem om leuen-verklikkertoetse te ondergaan. Hierna is twee werknemers op sterkte van die resultate ontslaan. Hierdie werknemers was die enigste twee uit ‘n span van agt wat die toets nie geslaag het nie. Hierdie feit, asook die swak indruk wat beide van hulle as getuies by die ondersoek en ook tydens arbitrasie gemaak het, was die basis waarop hulle ontslaan is.
Die hof bevind dat geen wangedrag aan die kant van die werknemers bewys is nie en die hof stel die ontslag ter syde. Die hof bevind dat geen ander getuienis as die resultate van die leuen-verklikkertoetse aangebied is nie. Die werkgewer het ook nie enige deskundige getuienis aangebied om die toepaslikheid van die leuen-verklikkertoetse aan te dui nie en die tegniese integriteit van die toetsprosedures is ook nie tydens die proses aangetoon nie. Die hof bevind dat die getuienis van leuen-verklikkertoetse nie sonder deskundige getuienis oorweeg kan word nie. Deskundige getuienis moet aangebied word om die toepaslikheid van die toetse en die akkuraatheid daarvan in elke spesifieke geval aan te toon. ‘n Deskundige getuie sal dus by enige ondersoek, onderhoud of dissiplinêre verhoor hierdie tegniese getuienis moet aanbied en die resultate in konteks moet plaas. Dit is dus onontbeerlik dat ‘n behoorlike gekwalifiseerde en opgeleide deskundige sodanige toetsing en die getuienis daaroor moet hanteer.
Ter opsomming
Gebruik die aanbieding en uitslae van leuen-verklikkertoetse met die ondersteuning van deskundige getuies. Hierdie getuienis behoort slegs in ‘n ondersteunende rol aangebied te word en nie om die deurslaggewende getuienis in jou saak te wees nie.
Enige foute hiermee kan jou duur te staan kom. Verkry dus die nodige advies voordat jy die toetse begin gebruik.
Provided by Darrolls Attorneys, Notaries & Conveyancers
© DotNews. All Rights Reserved.