Kan ‘n werknemer bedank om ‘n dissiplinêre verhoor te ontduik?
“…’n Werknemer wat in stryd met sy diensooreenkoms onvoldoende kennis van sy bedanking gee … kan wel verplig word om die volle ooreengekome kennisgewingsperiode te werk.” (Vertaling uit hierdie uitspraak.)
Dit is 'n geykte ontsnappingsroete. ‘n Werknemer moet sy eie dissiplinêre verhoor bywoon. Bewus van die feite en met sterk genoeg vermoedens dat hy waarskynlik skuldig bevind gaan word, besluit die werknemer om eerder self met onmiddellike effek te bedank. “ ’Cheers’ vir eers! Ek is weg hierso.”
Wag net so ‘n bietjie; nie so haastig nie! Ons howe het hierdie kwessie in die verlede in verskillende forums en met verskillende resultate hanteer. Die onlangse beslissing van die Arbeidsappèlhof behoort nou die bindende gesag te wees oor hoe soortgelyke situasies in die toekoms hanteer moet word.
Die bank se werknemer en die bedrieglike tjektransaksie
- 'n Bankwerknemer is in kennis gestel om 'n dissiplinêre verhoor by te woon. Sy is aangekla van wangedrag nadat sy 'n tjek van R30,000 uitbetaal het sonder dat sy die voorgeskrewe sekerheidsprosedures gevolg het (die tjek was deel van ‘n bedrogspul en die bank het die R30 000 verloor).
- Die bankwerknemer het met onmiddellike effek bedank. Sy wou ooglopend verhoed dat sy ontslaan word op grond van ‘n skuldigbevinding aan oneerlikheid. Dit sou ook verhoed dat haar naam op die Bankvereniging van Suid Afrika se databasis sou kom as ‘n bankamptenaar wat aan oneerlikheid skuldig bevind is. [The Banking Association of South Africa’s REDS (Register for Employees Dishonesty System) database.]
- Die bank het egter daarop aangedring dat sy die kennisgewingsperiode van vier weke ingevolge haar dienskontrak moet werk. Die bank het die dissiplinêre verhoor in hierdie kennisgewingstydperk belê.
- Die werknemer en haar prokureur het by die dissiplinêre verhoor aangekom en het aangevoer dat haar onmiddellike bedanking die diensverhouding beëindig het. Die ondersoek en verhoor kon dus nie voortgaan nie. Die voorsitter het hierdie argument van die hand gewys, waarna sy die verhoor verlaat het. Die verhoor het in haar afwesigheid voortgegaan.
- Sy is skuldig bevind aan wangedrag en sy is summier ontslaan.
- Die werknemer het haar tot die Arbeidshof gewend. Die Arbeidshof bevind in haar guns en bevind dat haar bedanking wel die diensverhouding tot ‘n einde gebring het. Die verhoor en bevinding van ontslag is dus ongeldig en nietig verklaar.
- Hierna verwys die bank hierdie bevinding van die Arbeidshof na die Arbeidsappèlhof. Hierdie hof bevind dan dat die werkgewer wel geregtig was om die ooreengekome kennisgewingsperiode van vier weke af te dwing. Die arbeidsverhouding het ten tye van die aanvanklike dissiplinêre verhoor beslis nog bestaan. Die dissiplinêre verhoor, die skuldigbevinding en die summiere ontslag was reëlmatig, wettig en bindend.
Werkgewers moet duidelik wees en moet die verhoor binne die oorblywende tydsraamwerk afhandel.
- Die werkgewer kan kies om die bepalings van die kennisgewingstydperk af te dwing of die werkgewer kan kies om daarvan afstand doen. As die werkgewer uitdruklik daarvan afstand gedoen het, sal die diensverhouding onmiddellik beëindig word.
- Om enige onduidelikheid te vermy, moet die werkgewer dit aan die werknemer baie duidelik stel dat die ooreengekome kennisgewingstydperke van toepassing bly en afgedwing sal word.
- Die werkgewer moet dan sonder versuim die dissiplinêre verhoor hou. Die hele proses moet afgehandel wees voordat die kennisgewingstydperk verstryk en die diensverhouding vanself tot ‘n einde kom.
Wat as die diensooreenkoms geen melding van kennisgewingsperiodes maak nie?
In daardie geval, sê die hof, is die kennisgewingstydperke soos bepaal in die Wet op Basiese Diensvoorwaardes van toepassing -
“(a) een week, indien die werknemer ses maande of minder in diens was;
(b) twee weke, indien die werknemer langer as ses maande, maar nie langer as een jaar in diens was nie;
(c) vier weke, indien die werknemer
(i) een jaar of langer in diens was, of(ii) 'n plaaswerker of huishulp is wat langer as ses maande in diens was.”
Provided by Scheibert & Associates Inc
© DotNews. All Rights Reserved.