Nuwe Nasionale Minimumloon en die verhoogde 'Verdienstedrempel' vanaf 1 Maart 2021
- “Die Nasionale minimumloon (NML) vir elke gewone uur wat gewerk word, word met ingang van 1 Maart 2021 van R20,76 tot R21,69 per uur verhoog ('n toename van 4,5%) vir die jaar 2021.
Dit is onwettig en 'n onbillike arbeidspraktyk vir 'n werkgewer om die werksure of ander diensvoorwaardes eensydig te verander as gevolg van die implementering van die NML. Die NML is die bedrag wat betaalbaar is vir gewone werksure en sluit nie die betaling van toelaes (soos vervoer, gereedskap, kos of verblyf) in natura (kostes of losies), fooitjies, bonusse en geskenke in nie.
- Na 'n oorgangsfase is die landbousektor in lyn gebring met die res. Plaaswerkers se NML-koers is ook nou R21,69 per uur ['n toename van 16%].
- Die huishoudelike werkersektor sal op R19,09 per uur ['n verhoging van 23%] geregtig wees. Wanneer die volgende oorsig in 2022 gedoen word, is die verwagting dat dit dan ook in lyn gebring sal word met die algemene Nasionale Minimumloon. [Gebruik die skakel na ‘n Billike Loon of Lewende Loon-berekening (Living Wage) om na te gaan dat jou huishulp genoeg betaal word om 'n huishouding se 'minimum behoeftes' te dek.]
- Ingevolge die Wet op Basiese Diensvoorwaardes, sal die verhoging van die NML inhou dat die sektorale vasstellings wat hoër was as die NML by die afkondiging daarvan, proporsioneel verhoog moet word met die aanpassing van die nasionale minimumloon. Daarom sal dienste soos Kontraktuele Skoonmaakdienste, asook die Groothandel- en Kleinhandelsektor se lone ook met 4,5 persent opwaarts aangepas word.
- In nog 'n verwikkeling het die Minister ook die verdienstedrempel van R205 433,30 tot R211 596,30 per jaar aangepas. Hoofstuk 2 van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes handel oor die regulering van werktyd, die beperking op die duur van die werkweek van 'n werknemer en om die verhoogde koers voor te skryf waarteen 'n werknemer betaal moet word om buite normale werksure te werk.
- Werknemers wat meer as hierdie verdienstedrempel per jaar verdien (R211 596,30) is vanaf 1 Maart 2021 uitgesluit van artikels 9, 10, 11, 12, 13, 14, 15, 16 en 17 (2) en 18 (3) van hierdie Wet. Hierdie bepalings het ten doel om kwesbare werknemers te beskerm en reguleer onder meer die ure wat weekliks gewerk mag word, oortyd, opgehoopte werktyd, gemiddelde ure wat gewerk word, etenstye, daaglikse en weeklikse rusperiodes, betaling vir werk op Sondae, nagwerk en werk op openbare vakansiedae.”
Provided by Scheibert & Associates Inc
© DotNews. All Rights Reserved.