Kan jy skadevergoeding eis nadat jy 'n slaggat getref het?
"Die Amerikaanse Automobiel Assosiasie het in die vyf jaar voor 2016 beraam dat 16 miljoen bestuurders in die Verenigde State voertuigskade gely het as gevolg van slaggate, insluitend skade aan bande, gebuigde wiele en beskadigde veringstelsels en onderstelle met 'n koste van $3 miljard per jaar." (Wikipedia soos vertaal.)
Probleme met slaggate is beslis nie ‘n uitsluitlike Suid-Afrikaanse fenomeen nie, maar ons het wel meer as ons regverdige deel daarvan.
'n Onlangse hooggeregshofbeslissing wys ons dat as jy skade ly as gevolg van 'n slaggat, jy wel die verantwoordelike party tot verantwoording kan roep. Dagvaar vir jou skade!
Skadevergoeding aan beseerde motorfietsryer toegeken.
- 'n Motorfietsryer wat saam met 'n groep motorfietsryers by 'n pas op 'n provinsiale pad afgegaan het, het by 'n skerp draai 'n slaggat in die pad getref. Hy het beheer oor sy motorfiets verloor wat oor die padoppervlak gegly het, hy het sy skouer en arm ernstig beseer en ook sy motorfiets en sy beskermende klere beskadig.
- Hy is per ambulans na die hospitaal geneem, waar hy 'n operasie ondergaan het. Hy is vier dae later uit die hospitaal ontslaan. Twee jaar later gebruik hy steeds pynmedikasie. Hy kry steeds fisioterapie om die voortdurende pyn en beperkte gebruik van sy skouer en arm te behandel en te verbeter.
- ’n Deskundige getuie het bevestig dat hy geen kans gehad het om die slaggat en dus die ongeluk te vermy nie. Dit was ook duidelik dat daar gepoog is om die slaggat te herstel.
- Hy het beserings van ‘n permanente aard opgedoen wat hom "baie gekompromitteer en kwesbaar gelaat het."
- Hy het die provinsie vir skadevergoeding gedagvaar. Verbasend genoeg het die die LUR (Lid van die Uitvoerende Raad oftewel die Provinsiale Minister) geen poging aangewend om die aksie te verdedig nie. Die motorfietsryer moes nog steeds sy eis bewys ...
Bewys van nalatigheid en omvang van skade.
Die hof bevestig dat die onus nog steeds op 'n eiser rus om nalatigheid aan die kant van die plaaslike owerheid te bewys, selfs wanneer, soos in hierdie geval, die LUR geen stappe gedoen het om die eis te verdedig nie en die eis onbestrede was.
Die getuienis van die motorfietsryer en die deskundige getuie, het die hof oortuig dat die LUR uitsluitlik nalatig was vir die ongeluk. Die LUR het versuim om sy verantwoordelikhede om padinfrastruktuur te bou, die pad in stand te hou en om padtekens aan te bring wat padgebruikers van die gevare van slaggate waarsku, na te kom. Die hof bevind daarom dat die LUR aanspreeklik gehou moet word vir die eiser se bewese skade.
Die hof het aan die eiser skadevergoeding van R850,000 toegeken vir daardie dele van sy eis waarvoor hy getuienis aangebied het om sy eis te ondersteun (toekomstige mediese behandeling en algemene skadevergoeding). Dié syfer kan toeneem – hoewel hy versuim het om bewyse te lewer ter stawing van sy verdere eise (vir verlies aan verdienste en skade aan eiendom), sou hy met die nodige stawende getuienis, weer die hof daaroor kon nader.
So, het jy 'n eis?
Jy het heel moontlik 'n eis vir enige skade wat jy ly nadat jy 'n slaggat getref het. Ons howe aanvaar dat plaaslike owerhede, of soortgelyke owerheidsinstansie, wel verantwoordelik is vir padinstandhouding. Dit sal dan nie so moeilik wees om nalatigheid te bewys nie. Maak seker dat jy die nodige bewyse saamstel en bymekaar hou om alle aspekte van jou eise en jou bewerings te ondersteun.
Provided by B. R. Sandwith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.