Sonpaneelstelsels by jou huis – wat van regulasies en voldoeningsvereistes?
“We have this handy fusion reactor in the sky called the sun; you don’t have to do anything, it just works. It shows up every day” (Elon Musk)
Eskom se eindelose beurtkrag, stygende elektrisiteitskoste, Suid-Afrika se oorvloed van sonlig en die wêreldwye skuif na volhoubare energie-oplossings dra alles by tot die toename in sonkrag / fotovoltaïese (FV) dakinstallasies by huise (sonpanele).
Dit is nie goedkoop nie. Jy verkry wel die direkte praktiese en finansiële voordele daarvan om minder van die kragnetwerk afhanklik te wees. Dit sal jou eiendom se herverkoopwaarde verhoog (vermoedelik met tussen 4% en 8%, afhangend van die stelsel wat jy installeer en die waarde van jou huis). Ten minste een munisipaliteit beplan reeds om jou te betaal vir enige surplus krag wat jy in die netwerk terugvoer – verwag dat dit ’n groeiende neiging sal word.
Behalwe vir die bestaande belastingaansporings vir besighede wat sonkragstelsels installeer, het die Begroting ook nou voorsiening gemaak vir 'n uitbreiding van die belastingaansporings en die bekendstelling van 'n nuwe belastingaansporing vir individue. Dit kom in die vorm van 'n 25% belastingkorting (tot ‘n maksimum van R15,000) vir ‘n individu) van die koste van “nuwe en ongebruikte” sonpanele (nie omsetters of batterye nie). Dit is net vir 1 jaar beskikbaar (1 Maart 2023 tot 29 Februarie 2024) “om belegging so gou as moontlik aan te moedig”.
Stap 1: Hoe kies jy 'n installeerder vir 'n veilige en wettige installasie
Voordat jy 'n kwotasie vir jou sonkragprojek aanvaar (gewoonlik sluit dit ‘n getal sonpanele, 'n omskakelaar en 'n battery of twee in), is daar verskeie regulatoriese vereistes om in gedagte te hou. Die beste manier om te verseker dat jy as eienaar aan alles voldoen (behalwe die veiligheidsaspek) is om 'n installeerder met 'n goeie rekord en die regte kwalifikasies te kies. Hou in gedagte dat jou installeerder 'n geldige voldoeningsertifikaat vir die stelsel moet uitreik –
- Om die proses te voltooi en om die stelsel gemagtig te kry (sien hieronder),
- Om die stelsel by jou huiseienaarsversekering te voeg, en
- Om seker te maak dat die stelsel se waarborge nie nietig verklaar word nie; en
- Om jou toe te laat om die nuwe belastingkorting hierbo vermeld te eis.
Vrae wat jy aan 'n voornemende installeerder behoort te vra: Hier is 'n lys vrae om te vra (aangepas van die uitstekende vraelys van Stad Kaapstad in “City of Cape Town’s Checklist for safely going solar” op cape{town}etc) –
- Watter vorige ondervinding het julle met die installasies van sonkragpanele en stelsels?
- Met watter drie van jou mees onlangse kliënte kan ek skakel vir verwysings?
- Het jy die stelsel self ontwerp, verskaf en geïnstalleer, of het jy net een of twee van hierdie stappe uitgevoer?
- Is jy 'n geakkrediteerde diensverskaffer onder PV Green Card, SAPVIA of P4 Platform?
- Kan jy bewyse lewer van die elektriese sertifikate van voldoening en/of professionele ingenieurs goedkeurings op jou vorige installasies?
- Kan jy bewyse lewer dat jou vorige installasies deur die plaaslike owerheid (of deur Eskom indien Eskom direk aan hulle lewer) toepaslik bevind is en gemagtig is?
- Het julle gekwalifiseerde personeel in diens of gebruik julle gekwalifiseerde subkontrakteurs om julle stelsels te ontwerp en te installeer? (Let wel: Die Stad Kaapstad stel voor jy vra vir "bewys van registrasie ('n toepaslike elektriese lisensie en DoLE-registrasie)").
- Is die omskakelaar (“inverter”) waarvoor jy kwoteer op die plaaslike owerheid se goedgekeurde lys van omskakelaars? (Let wel: Vind Stad Kaapstad se lys hier; as jy meegedeel word dat jou plaaslike owerheid nie so 'n lys het nie, kry skriftelike bevestiging hiervan).
- As jy 'n "netwerk gebonde stelsel" (“grid-tied system”) voorstel (sien definisie hieronder) het jy 'n professionele persoon beskikbaar wat geregistreer is by die Suid-Afrikaanse Raad van Ingenieurs (ECSA) om dit te sertifiseer en af te teken?
- Voldoen die sonkrag-PV-panele aan SANS/IEC-standaarde? (Let wel: Die Stad Kaapstad artikel beveel aan dat jy 'n sertifikaat van voldoening vir SANS/IEC 61215:2015 / SANS/IEC 61646:2016 verkry).
- Is jy geregistreer by SAPVIA en die ECB? (Let wel: Volgens Stad Kaapstad is dit nie verpligtend nie, maar dit dui daarop dat die kontrakteurs vertroud is met en toegewy is tot die beste en nuutste praktyke in die bedryf.)
- Watter waarborge bied julle vir die installasie en die komponente? (Hou bewyse, met alle handleidings).
- Is jou kwotasie omvattend en sluit dit die installering van stroombrekers in (spesifiek vir die direkte stroom vanaf die panele), die verkryging van SSEG-registrasie (sien hieronder) en 'n Sertifikaat van Voldoening?
Stap 2: Hoe om aan alle regulatoriese vereistes te voldoen
- Nou moet jy die proses volg en aan die voorgeskrewe proses voldoen van SSEG (“Small Scale Embedded Generation”). Jou verkose installeerder behoort dit namens jou te doen as deel van hul volle diens. Jy moet die stelsel registreer en magtiging by óf Eskom óf by jou plaaslike munisipaliteit verkry (afhangend van watter entiteit jou elektrisiteit verskaf).
-
Let daarop dat magtiging nodig is of jou stelsel elektrisiteit in die netwerk gaan terugvoer of nie. As jou stelsel aan die elektrisiteitsnetwerk gaan koppel (via jou verspreidingsbord of direk) sal dit stelselgebonde (“grid-tied”) wees - óf "invoer" of "nie-invoer" (“feed-in” or “non-feed-in”), afhangende van of dit surplus krag in die netwerk sal voer of nie. As dit "nie-invoer" is, sal jy "Reverse Power Flow Blocking" moet hê om te verhoed dat enige surplus elektrisiteit na die netwerk terugvoer. As dit 'n "invoerstelsel" is, moet jy registreer as 'n elektrisiteitsverskaffer. Om sake verder te kompliseer, kry jy ook "hibriede" stelsels wat óf “on-grid” of “off-grid” kan wees. Vir meer besonderhede lees die Stad Kaapstad-artikel waarna hierbo verwys word (“Die drie tipes stelsels”).
Hierdie is nie net burokratiese rompslomp nie – verskaffers moet weet wanneer dit veilig is vir hul tegnici om op die netwerk te werk, daar is kwessies wat verband hou met die netwerkbestuur, en daar is veiligheidskwessies rondom risiko van brande en ander gevare.
Vind by jou elektrisiteitsverskaffer uit (jou plaaslike owerheid of Eskom) of jy enige goedkeuring of registrasie nodig het vir 'n selfstandige ("off-grid") stelsel. Met die skrywe hiervan vereis ten minste een munisipaliteit - Stad Kaapstad - wel registrasie “om te verseker dat hulle nie verwar word met netwerkgebonde stelsels nie”. - Die proses is ingewikkeld. Hier is terminologie en tegniese vereistes (soos bedradingsdiagramme en 'n ingenieur wat alles moet afteken). Laat jou installeerders alles vir jou doen. Kontak jou munisipaliteit se elektrisiteitsafdeling (of Eskom direk indien van toepassing) as jy twyfel, of verdere vrae het en beter inligting benodig.
- Versuim om te registreer en om voor installasie skriftelike magtiging te verkry kan 'n duur oefening wees. Sommige munisipaliteite beplan om lugfoto's, inspeksies en rekenaarontleding te gebruik om ongemagtigde stelsels op te spoor. Vandaar sal die munisipaliteit dan boetes hef, oortredingskennisgewings uitreik en ook toevoer kan afsluit. Versuim om te registreer kan ook veroorsaak dat jou versekeraars 'n eis afwys en dit kan rampspoedig wees - dink byvoorbeeld aan 'n stelselonderbreking wat 'n huisbrand veroorsaak.
- As jy in 'n "gemeenskapskema" soos 'n deeltitelkompleks of 'n kompleks met ‘n huiseienaarsvereniging woon, gaan jou Reëls en Regulasies na en kry vooraf die nodige toestemming.
- Maak seker dat alle aspekte van die installasie aan plaaslike regulasies voldoen om die risiko te verminder dat enige toekomstige versekeringseise weens nie-nakoming afgekeur word. Gaan byvoorbeeld die tegniese vereistes vir dakstrukture na (maak seker dat dit die gewig en windlading van panele kan hanteer). Jy het ook dalk bouplanne nodig, en sommige munisipaliteite dring aan op die gebruik van omskakelaarfabrikate en -modelle wat goedgekeur en op hul lys is.
- Van versekering gepraat, onthou om die voldoeningsertifikaat aan jou versekeraars te stuur saam met die opdrag om jou nuwe sonkragstelsel by jou huiseienaarsversekeringspolis te voeg.
Veiligheid en toevlug vir swak werk
Dit is die moeite werd om die kontrolelys van Stad Kaapstad (checklist) hierbo vermeld, volledig deur te gaan, ongeag van waar jy woon. Kyk ook na die afdelings oor veiligheid en die beskerming teen swak werk en produkte.
'n Laaste gedagte - moet jy Eskom heeltemal laat vaar?
'n Laaste gedagte - jy kan natuurlik heeltemal van Eskom se netwerk afgaan. Dit klink aanloklik. Dan is jy klaar met Eskom en sy uitdagings. Jy sal baie van die papierwerk wat hierbo genoem is vermy, en jy sal ook nie meer Eskom se "vaste netwerkverbindingsfooie" hoef te betaal nie. Maar dan is jy regtig op jou eie, met geen verbinding met jou munisipale of Eskom-toevoer nie. Oorweeg die uitwerking hiervan op die herverkoopwaarde van jou eiendom en die voor- en nadele op die korttermyn sowel as oor die langtermyn om ‘n ingeligte besluit te neem!
Provided by B. R. Sandwith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.