Koop jy eiendom as 'n belegging - 'n paar strategieƫ vir sukses.
"The only bad time to buy property is later." (Steve Bolton)
Om eiendom te koop – of dit nou is om in te woon of om in te werk, of om die eiendom te verhuur – kan een van die belangrikste beleggings wees wat jy ooit gaan maak.
Hier is 'n paar strategieë om jou op die eiendomspad te help.
Twaalf strategieë vir sukses
- Visualiseer jou beleggingsdoelwitte en sit dit duidelik uiteen: Beplan jy om te "koop-om-te-verhuur" om ‘n bestendige inkomstestroom te verseker? Of wil jy as 'n welvaartbouer vashou aan eiendom met die oog op langtermyn-kapitaalgroei? Of beplan jy eerder om dalk weer vinnig te verkoop, met of sonder verdere opknapping? Formuleer jou strategie dienooreenkomstig.
- Jy moet jou huiswerk doen: Voordat jy enige groot besluite oor jou eiendomsbelegging neem, ondersoek eers die eiendomsmark deeglik, insluitende die area waar jy wil belê en die tipe eiendom wat jy wil koop (sien hieronder).
- Besluit watter tipe eiendom jy wil koop: Hier het jy 'n wye keuse – onontwikkelde grond (om te ontwikkel of om te hou of om op te bou), residensiële eiendom (om in te woon of om te verhuur), kommersiële- en nywerheidseiendom, en ook landbougrond om die mees ooglopende te noem. Jy kan ook ‘n indirekte belegging in eiendom oorweeg soos byvoorbeeld in 'n “REIT” (“Real Estate Investment Trust”).
- Ligging, ligging, ligging: Soek eiendomme in gebiede met 'n groot aanvraag na huureiendomme (al koop jy 'n huis om in te woon, kan jy in die toekoms oorweeg om dit uit te verhuur). Hou ook goeie infrastruktuur en die potensiaal vir kapitaalgroei deurentyd in gedagte.
- Oorweeg dit om te diversifiseer: As jy van plan is om ‘n groot gedeelte van jou welvaart en beleggings in eiendom te belê, oorweeg dit om in verskillende soorte eiendomme en selfs op verskillende plekke te belê om jou risiko te versprei.
- Koop teen ‘n lae prys: Dit klink vanselfsprekend, maar beleggers sal weet dat 'n suksesvolle eiendomstransaksie dikwels daaraan te danke is dat die koper die spesifieke eiendom teen ‘n lae prys kon koop. Sommige maniere om dit te bereik-
- Onderhandel: Jy kan self oor die prys onderhandel, of jy kan 'n professionele persoon inbring as jou onderhandelingsvaardighede nog nie goed ontwikkel is nie.
- Oorweeg 'n "opknappingseiendom": Eiendomme wat opgeknap moet word, kan teen 'n laer prys gekoop en opgeknap word om hul waarde en huurpotensiaal te verhoog.
- Wees op die uitkyk vir eiendom wat goed geprys is: Eiendom wat teruggeneem is, eiendom in insolvente boedels, bankveilings, verkopers wat vinnig wil verkoop (miskien om finansiële of persoonlike redes) – hierdie kan bronne wees van goed geprysde eiendomme. Wees ook versigtig, want hierdie tipe eiendom kom natuurlik met meer slaggate as wat met ‘n gewone eiendomstransaksie die geval sal wees.
- Onderhandel: Jy kan self oor die prys onderhandel, of jy kan 'n professionele persoon inbring as jou onderhandelingsvaardighede nog nie goed ontwikkel is nie.
- Verkry professionele advies: Vir die meeste van ons behoort eiendom ‘n deel van 'n gebalanseerde beleggingsportefeulje te wees, gestruktureer om aan ons spesifieke behoeftes en doelwitte te voldoen, so maak seker dat jy vooraf gepaste finansiële advies verkry.
Kontak gerus die eiendomsdeskundiges in jou teikenarea en mark. ‘n Goeie eerste kontak sal jou plaaslike prokureur wees wat waardevolle insigte in die plaaslike eiendomsmark met jou kan deel en jou ook na ander betroubare, professionele persone in die area kan verwys.
- Maak goeie keuses met jou finansieringsopsies: As jy verbandfinansiering gebruik om eiendom te koop, bied dit vir jou hefboomfinansiering en die moontlikheid om in meer eiendomme te belê as wat jy net met jou eie bronne sou kon doen.
- Bestuur jou kontantvloei: Vra jou prokureur om vir jou 'n volledige uiteensetting voor te berei van die standaard transaksiekoste vir jou voorgenome transaksie, sodat jy behoorlik kan begroot en beplan vir beide jou kontantvloei en vir toekomstige winsgewendheid.
- Bestuur jou risiko's: As jy 'n verband het, moet jy die waarskynlikheid van toekomstige rentekoersverhogings ook inreken. As jy ‘n vol verband oor ‘n eiendom het, laat dit jou met min beweegruimte as die mark teen jou draai. As jy ‘n eiendom verhuur, moet jy ook voorsiening maak vir ‘n leegstaanperiode en vir periodieke opknapping en onderhoud, en vir periodes van laer aanvraag van huureiendom. Begroot eerder vir die ergste scenario's!
- ‘n Verhuringsagent of eiendombestuurder kan van hulp wees: Afhangend van jou werkslading en kapasiteit, kan jy ook oorweeg om 'n eiendomsbestuurder of verhuringsagent te gebruik om jou huureiendomme te bestuur. Dit kan die stres en werkslading van jou afneem en 'n meer professionele diens aan jou huurders bied.
- Hou altyd die belastingimplikasies in gedagte: Dit is belangrik – daar is potensiële belastingvoordele en belastingslaggate wat op jou as eiendomsbelegger wag. Met die insette van deskundiges kan jy jou belegging vanuit die staanspoor vir belastingdoeltreffendheid struktureer. Dit kan uiteindelik die verskil tussen 'n aanvaarbare opbrengs en 'n uitsonderlike opbrengs wees.
Om in eiendom te belê is 'n goeie opsie as jy op soek is na langtermyngroei en 'n bestendige inkomste. Dit is egter belangrik om jou navorsing te doen, om professionele advies in te win en om al die beskikbare opsies te oorweeg voordat jy enige finale beleggingsbesluite neem.
Provided by B. R. Sandwith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.