Waarom jy 'n aandeelhouersooreenkoms nodig het, en hoe om dit te struktureer.
Of jy nou 'n nuwe maatskappy oprig of aandele in 'n bestaande maatskappy koop, is ‘n formele aandeelhouersooreenkoms, aangepas om aan jul spesifieke situasie en behoeftes te voldoen, noodsaaklik.
Wat is 'n aandeelhouersooreenkoms?
Dit is 'n kontrak tussen die aandeelhouers wat die regte, verantwoordelikhede en verpligtinge van elke aandeelhouer uiteensit. Verder verskaf dit 'n raamwerk vir die bestuur van die maatskappy, en moet dit ook aan die aandeelhouers duidelikheid bied oor die bestuur, bedryf en beheer daarvan. Dit is nie 'n wetlike vereiste nie, maar sonder so ’n ooreenkoms is daar ruimte vir onsekerheid en dispute.
Hoekom julle 'n aandeelhouersooreenkoms benodig.
Hier is 'n paar redes waarom julle dit moet hê.
- Die maatskappy se Akte van Oprigting is nie genoeg nie: Elke maatskappy moet 'n akte van oprigting hê wat onder andere die "regte, pligte en verantwoordelikhede van aandeelhouers, direkteure en ander rolspelers binne en met betrekking tot die maatskappy uiteensit", maar jul moet steeds hierdie bepalings aanvul om by jul spesifieke behoeftes en omstandighede aan te pas. Die maatskapppy se Akte van Oprigting sal die deurslaggewende dokument wees indien dit bepalings bevat wat strydig is met jul eie aandeelhouersooreenkoms.
- Dispuutvermyding en -bestuur: Bloot deur die verskillende aandeelhouers se oorengekome verantwoordelikhede en onderlinge verhoudinge met mekaar duidelik uiteen te sit, kan 'n aandeelhouersooreenkoms reeds die risiko van duur en ontwrigtende geskille aansienlik verminder. In gevalle waar ‘n dispuut wel ontstaan, kan die partye na die ooreenkoms verwys om dit te hanteer voordat dit 'n groot kwessie word. Die aandeelhouers sou dan ook reeds die prosesse vir dispuutbeslegting vooraf in die ooreenkoms met mekaar uitgeklaar het.
- Vermyding van dooiepunte: ‘n Dooiepunt ontstaan wanneer aandeelhouers nie in staat is om 'n besluit te neem oor belangrike sake soos die rigting van die maatskappy of die aanstelling van nuwe direkteure nie. Dooiepunte kan die maatskappy erg benadeel en kan in ernstige gevalle selfs tot mislukking en likwidasie lei. ’n Formele aandeelhouersooreenkoms verminder die risiko van dooiepunte deur ’n duidelike stel reëls vir besluitneming en die oplossing van geskille aan die strydende aandeelhouers te bied.
- Duidelike afbakening van aandeelhouers se rolle en verantwoordelikhede: Jou ooreenkoms moet die rolle en verantwoordelikhede van elke aandeelhouer omskryf. Dit is veral belangrik by maatskappye waar die aandeelhouers ook betrokke is by die daaglikse bestuur van die maatskappy. Dit verseker dat elke aandeelhouer duidelik is oor hul regte en verpligtinge. Dit moet die gevolge van nie-voldoening uiteensit. Dit behoort ook misverstande te voorkom wat kan ontstaan in gevalle waar verantwoordelikhede oorvleuel.
- Aanpasbaarheid: Maak seker dat jul ooreenkoms aangepas is vir die spesifieke behoeftes van jul maatskappy en jul aandeelhouers. Dit moet aanpasbaar genoeg wees om veranderinge in die maatskappy se struktuur en bedrywighede te akkommodeer, terwyl dit steeds die nodige beskerming en duidelikheid aan aandeelhouers bied.
- Beskerming van minderheidsaandeelhouers: Soms het meerderheidsaandeelhouers ander doelwitte as die minderheidsaandeelhouers. ’n Formele aandeelhouersooreenkoms kan beskerming aan die minderheidsaandeelhouers bied deur te verseker dat die maatskappy op ’n billike wyse funksioneer. As aandeelhouers vanuit die staanspoor ooreenkom en duidelikheid het oor die stemreg en besluitnemingsbevoegdhede van elke aandeelhouer, verminder dit die risiko van latere dispute.
Wat moet daarin wees?
Die aandeelhouersooreenkoms moet gepas wees vir jul spesifieke behoeftes, dus is professionele advies noodsaaklik om te verseker dat jou ooreenkoms wetlik bindend is en dat die belange van al die betrokke partye beskerm word. Jy sal aangeraai word om ten minste die volgende aspekte aan te spreek –
- Hoe leningsrekeninge, winsdeling, betaling van dividende, salaris- en byvoordeelstrukture en dies meer sal werk.
- Wie sal die maatskappy en sy besigheidsaktiwiteite bestuur, en hoe moet dit gebeur.
- Besluitnemingsprosesse, met verwysing na voldoening aan vereistes en stemming.
- Rolle en verantwoordelikhede, magte om uitvoerende besluite van die maatskappy te neem en om die maatskappy te bind.
- Vertroulikheidsvereistes, reëls vir botsing van belange, handelsbeperkings en dies meer.
- Prosedures en prosesse om enige interne dispute in die maatskappy op te los.
- Waardasie en verkoop van aandele, bestaande aandeelhouers se eerste opsie om te koop, voordat dit aan buitestaanders te koop aangebied kan word, ens.
- Die lys gaan aan – elke maatskappy en elke stel omstandighede sal anders wees. Dink en bespreek en besluit gesamentlik oor hierdie ander kwessies wat ingesluit moet word met volle insette van die mede-aandeelhouers, ander belanghebbendes en jul regsadviseurs.
Hou alles so kort, eenvoudig en prakties moontlik!
Provided by Everton Dankuru Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.