Kannabis vir Privaatgebruikwet: Wat jy mag doen en wat jy nie mag doen nie.
"Dit is hoog tyd dat hulle kannabis wettig" (Anoniem)
Daar was opgewondenheid in die lug met die ondertekening van die Kannabis vir Privaatgebruikwet. Hierdie wet sal die verbouing, besit en gebruik van kannabis deur volwassenes in 'n private omgewing reguleer. Volgens die Presidensie lê die wet die grondslag vir regulatoriese hervormings “vir die industrialisering van die kannabis sektor.”
Daar is al wyd in die media berig asof die wet reeds van krag is, maar dit is nog nie die geval nie. Die datum waarop hierdie wet in werking tree moet nog in die staatskoerant afgekondig word. Dit is nie duidelik wanneer dit gaan gebeur nie, maar dit kan 'n lang proses wees. Tot dan bly die vae omskrywing vir private en persoonlike gebruik, besit en bewerking van kannabis wat die Grondwetlike Hof in 2018 voorsien het, steeds in plek.
Hier is intussen 'n paar hoogtepunte van die Wet -
Wat is "kannabis" volgens die nuwe wet?
"Kannabis" word ingevolge hierdie Wet gedefinieer as "die blommende of boonste vruggedeelte van 'n kannabisplant en sluit produkte in wat daarvan gemaak is" (byvoorbeeld "blomknoppies", ekstrakte, olies en dies meer) maar die definisie sluit "enige saad, saailing, die steel, blare en takke” uit.
(“the flowering or fruiting tops of a cannabis plant and includes products made therefrom” (i.e. “buds”, extracts, oils and the like) but the definition excludes “any seed, seedling, the stalk, leaves and branches.”)
Wat sal jy kan doen, en wat sal jy nie kan doen nie?
Dit sal binne die voorgeskrewe perke wettig wees om kannabis privaat te kweek, te besit, te gebruik en te deel, maar nie om dit te verkoop nie. Meer spesifiek, en met die algemene vereiste van “private doel” –
- In privaatheid: Enige volwasse persoon (van 18 jaar of ouer) sal kannabis kan kweek, gebruik, besit en deel “in ’n private plek vir ’n private doel”. Maar nie in die teenwoordigheid van 'n kind of ‘n volwassene wat nie daartoe instem nie, en ook nie "as dit waarskynlik 'n steurnis of oorlas vir enige persoon sal veroorsaak" in 'n nabygeleë openbare plek nie. Let daarop dat wanneer dit kom by deel (verskaffing of verkryging van kannabis), mag daar nie enige "teenprestasie" in ruil gegee of verskaf word nie. Dit word gedefinieer as "enige vorm van vergoeding, geskenk, beloning, guns of voordeel" (die verkoop van kannabis vir ontspanning in teenstelling met mediese gebruik sal dus verbode bly, selfs vir private doeleindes). Die voorgeskrewe “maksimum hoeveelhede” sal in private sowel as in openbare ruimtes van toepassing wees.
- In die openbaar: 'n Volwasse persoon mag kannabis in 'n openbare plek besit (onderhewig aan voorgeskrewe maksimum hoeveelhede), maar mag dit nie gebruik nie.
- Beskerming vir kinders: Geen kannabis of enige kannabisproduk mag aan enige kind (persoon onder 18) gegee word nie. Geen kind mag toegelaat word om kannabis te besit of te gebruik sonder 'n mediese voorskrif nie, en geen kind mag gebruik word om met kannabis te handel nie. Enige volwassene "wat in besit van kannabis is, moet die redelike maatreëls tref wat nodig is om te verseker dat sulke kannabis ontoeganklik is vir 'n kind, ongeag of daardie kind onder die gesag, toesig of sorg van daardie volwasse persoon is of nie."
Maksimum hoeveelhede sal voorgeskryf word, en die vervoer van kannabis sal gereguleer word.
Die regulasies sal die volgende bepaal en voorskryf –
- Die maksimum hoeveelhede wat vir die verbouing, besit en vervoer van kannabis toegelaat gaan word.
- “Die voorwaardes, beperkinge, verbiedinge, verpligtinge, vereistes of standaarde met betrekking tot die vervoer van kannabis, deur die persoon wat kannabis vervoer sowel as ten opsigte van die passasier met sodanige vervoer.”
Op hierdie stadium word bespiegel dat die voorgeskrewe hoeveelhede in lyn sal wees met dié wat voorgestel was in 'n weergawe van die Wetsontwerp wat nie in die finale Wet opgeneem was nie. Daardie wetsontwerp het voorgestel dat volwassenes–
- Onbeperkte sade en saailinge mag besit.
- Vier kannabisplante (in blom) per persoon (of agt per huishouding wat deur twee of meer volwassenes bewoon word) privaat mag verbou/kweek.
- 600 Gram gedroogde kannabis per persoon (of 1 200 gram per huishouding wat deur twee of meer volwassenes bewoon word) privaat mag besit.
- 100 Gram gedroogde kannabis of een kannabisplant (in blom) in die openbaar mag besit.
- 30 sade/saailinge, 1 kannabisplant (in blom), 100 gram gedroogde kannabis vir persoonlike gebruik mag verkry of aan iemand vir persoonlike gebruik mag verskaf.
Let egter daarop dat hierdie 2020 Wetsontwerp verskil van die finale Wet, so wag eerder vir die finale regulasies om afgekondig te word, voordat jy op enige van hierdie bespiegelde limiete staatmaak!
Kriminele rekords gaan geskrap word.
Historiese skuldigbevindings vir die besit en gebruik van kannabis (dagga) sal outomaties geskrap word, asook historiese skuldigbevindings vir handeldryf in kannabis gebaseer op regsvermoedens eerder as bevindings van werklike handel. Waar kriminele rekords hiervoor nie outomaties geskrap word nie, sal dit wel op aansoek geskrap kan word.
Provided by B. R. Sandwith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.