Kan jy ‘n geldige testament met ‘n video-oproep bewerkstellig?
“Death is not the end. There remains the litigation over the estate.” (Ambrose Bierce)
Dit is moontlik dat ons in die toekoms 'n volkome geldige testament by wyse van 'n video-opname of ander elektroniese middel sal kan opstel, maar in Suid-Afrika in 2023 het daardie dag nog nie aangebreek nie.
Dit is steeds noodsaaklik dat jou testament behoorlik opgestel moet word, nie net om jou laaste wense duidelik te weerspieël nie, maar ook om te voldoen aan die formaliteite soos deur ons Wet op Testamente vereis.
Hierdie vereistes bepaal dat jou testament op skrif moet wees, jy moet dit op elke bladsy onderteken, in die teenwoordigheid van twee bevoegde getuies wat die laaste bladsy as getuies moet onderteken (die getuies moet verkieslik al die bladsye onderteken, maar dit is nie 'n formele vereiste ingevolge die wet nie). Neem ook kennis dat as jy ‘n testament as ‘n getuie onderteken dan kan jy of jou gade nie in daardie boedel erf of as eksekuteur, trustee of voog aangestel word nie. Vra gerus jou prokureur oor hierdie fyner aspekte van jou testament.
Videotestamente – is dit geldig?
As mens die vereiste formaliteite in ag neem voldoen ‘n video-opname duidelik nie aan die wetsvoorskrifte nie. In hierdie hofsaak is die aanvanklike poging om op 'n video-opname as 'n testament staat te maak, laat vaar. Dit lyk dus nie of ‘n video-opname tans in die plek van ‘n testament as geldig aanvaar sal word nie, alhoewel hierdie konsep tot op hede nog nie direk in ons howe getoets is nie.
Kom eerder al die formaliteite soos gelys na, en dink daaraan om 'n video-opname as 'n aanvulling tot jou formele testament te gebruik. Byvoorbeeld, die opname van die testamentondertekeningsproses self kan help om enige toekomstige dispuut oor die geldigheid van jou geskrewe testament te vermy. 'n Informele videoboodskap aan jou gesin wat aan hulle verduidelik hoekom jy jou testament opgestel het soos wat jy het, kan dalk duidelikheid en vertroosting aan hulle verskaf wanneer die tyd aanbreek.
Nie-nakoming van formaliteite – daar is ‘n paar toegewings en ontsnappingsmoontlikhede, maar …
Soos altyd is daar wel ‘n paar uitsonderingsgevalle. Ons Wet op Testamente bepaal dat 'n dokument wat nie aan alle formaliteite voldoen nie, wel as 'n geldige testament aanvaar kan word indien dit deur die oorledene opgestel of verly is en as dit bedoel was om sy testament te wees. Jy kan ook gemagtig word om beide te erf en as eksekuteur op te tree, selfs al het jy of jou gade as getuie geteken, as jy kan bewys dat daar geen bedrog of onbehoorlike invloed oor die oorledene was nie. 'n Vorige testament kan ook op verskeie maniere herroep word.
Soos ons wel sal sien uit die twee onlangse hooggeregshofsake wat hieronder bespreek word, is dit riskant om op enige uitsonderings te vertrou. Dit kan inhou dat jou laaste aanwysings en wense nie nagekom word nie, of dat jou geliefdes blootgestel word aan die risiko van langdurige en bitter litigasie op ‘n tyd wat hul eerder jou verlies sou wou verwerk.
Geval 1: 'n Video-oproep tydens Covid-19 is nie 'n vervangende testament nie.
- In 'n testament wat ‘n pa in 2018 opgestel het, het hy alles aan sy kinders nagelaat. Maar toe hy in 2021 in die hospitaal aan Covid-19 op sterwe was, het hy 'n video-oproep na sy plaasbestuurder gemaak. Daarin het hy aangedui dat hy die testament wil herroep en het hy gesê dat sy finale opdrag was dat alles aan sy boerderytrust oorgelaat moet word.
- Ingevolge hierdie versoek, het die plaasbestuurder 'n testament tot die effek deur prokureurs laat opstel en het hy dit by die hospitaal afgelewer (hy kon dit nie persoonlik aflewer nie weens Covid-19-beperkings wat destyds in plek was). Ongelukkig het die pa gesterf voordat die testament aan hom gegee kon word vir bevestiging en ondertekening.
- Die boerderytrust het die hooggeregshof gevra vir 'n bevel om te verklaar dat die 2018 testament herroep is en die 2021 ongetekende testament as geldig aanvaar moes word (dit lyk of die trust die aanvanklike argument laat vaar het dat die video-oproep self 'n testament was). Die kinders wat hierdeur onterf sou word, het hierdie aansoek heftig teëgestaan.
- Die hof het geweier om die ongetekende 2021 dokument te bekragtig en wys daarop dat die Wet op Testamente se bepalings in hierdie verband streng toegepas moet word. Die trust se beroep op die “onmoontlikheidsbeginsel” sal vir regspraktisyns van belang wees. Die praktiese punt is egter dat al blyk dit duidelik dat die pa 'n hele nuwe testament wou opstel, op die feite van hierdie saak kan slegs sy geskrewe en getekende testament van 2018 as geldig aanvaar kon word.
Saak 2: Broedertwis – en die testament wat nie voldoen aan die voorskrifte nie, word wel as geldig verklaar.
- Hier is nog 'n tragiese geval van 'n sterwende pa wat sy testament probeer verander het, hierdie keer om een seun (“JP”) te onterf ten gunste van die ander seun (“SG”).
- Die nuwe testament het nie aan die Wet op Testamente se formaliteite voldoen nie. Die testament is deur drie getuies onderteken, maar nie in mekaar se teenwoordigheid nie. Die feit dat een van die getuies SG se vrou was, het hom formeel gediskwalifiseer om te erf of om as eksekuteur op te tree.
- JP het die hof gevra om die testament ongeldig te verklaar sodat hy kragtens die wet op intestate erfopvolging kon erf. SG het op sy beurt die hof gevra om die testament te aanvaar ten spyte van die nie-nakoming van die vereistes, en om hom toe te laat om te erf en ook om as die eksekuteur op te tree.
- Op die besondere feite van hierdie saak, insluitende die onbetwiste getuienis van 'n groot skeuring in die verhouding tussen JP en sy pa (in teenstelling met 'n uiters noue verhouding tussen SG en sy pa), het die hof wel die diskresie ten gunste van SG uitgeoefen.
- Eerstens het die hof bevind dat die testament, ten spyte van die versuim om aan die voorgeskrewe formaliteite te voldoen, wel deur die vader opgestel is en wel deur hom bedoel is om sy testament te wees. Die hof was dus bereid om die testament as geldig te verklaar.
- Tweedens het die hof bevind dat SG wel sou kon erf en ook as eksekuteur kon optree omdat hy 'n gebrek aan bedrog of onbehoorlike invloed op sy vader bewys het.
Hier is twee verskillende uitkomste maar die beginsel is wel duidelik – versuim jy om aan alle testamentêre formaliteite te voldoen, loop jy die risiko dat jou laaste wense nie uitgevoer gaan word nie en stel jy jou geliefdes bloot aan dispuut en litigasie in die familie.
Provided by Van Zyl Kruger
© DotNews. All Rights Reserved.