“Ai my hond!” Waarom 'n Husky se eienaar skadevergoeding van R100 000 moet betaal.
“…oor die algemeen behoort eienaarskap van ’n dier strenge aanspreeklikheid mee te bring vir enige skade wat die dier aan ander veroorsaak.” (Vertaalde uittreksel uit die hofuitspraak hieronder.)
Om 'n troeteldier te besit kom met vreugdes en met verantwoordelikhede. Die hooggeregshof het onlangs skadevergoeding van byna R100 000 aan 'n jong vrou, wat deur 'n hond aangeval en gebyt is, toegeken. Dit dien as 'n tydige herinnering dat saam met die positiewe aspekte van die besit van 'n troeteldier, daar ook 'n aansienlike risiko van regsaanspreeklikheid skuil.
’n Sosiale uitnodiging wat lelik verkeerd geloop het.
- 'n Jong vrou is na 'n sosiale byeenkoms by 'n privaat huis genooi. Sy was op daardie stadium 17 jaar oud. Die hek is oopgemaak om haar in te laat. Twee honde het na haar gehardloop en die een ('n groot Siberiese Husky) het sonder waarskuwing opgespring na haar keel toe. Sy het haar arms opgelig om haar teen die aanval te beskerm en die hond het beide haar voorarms gebyt.
- Sy is inderhaas hospitaal toe geneem waar ‘n plastiese chirurg haar wonde opereer het. Nege jaar later hou sy steeds littekens, fisiese gestremdheid en pyn wat fisioterapie benodig, van die aanval oor. Sy kry steeds berading vir sielkundige trauma in die vorm van “PTSD” (posttraumatiese stresversteuring).
- Die hond se eienaar het in sy hofstukke aangevoer dat toe die hond opspring om die slagoffer te groet, sy die hond uitgelok en nalatig opgetree het deur die hond te slaan en sy hare te trek. Haar beserings is as gevolg daarvan en die hond het net haar "ongeregverdigde aanval" afgeweer. Die eienaar het egter geen getuienis hieroor aangevoer om die weergawe te staaf nie, terwyl die onus op hom was om dit wel te doen. Die hof het gevolglik aanvaar dat daar geen provokasie of nalatigheid aan die kant van die slagoffer was nie.
- Ingevolge ons algemene regsbeginsel dat “eienaarskap van ’n dier streng aanspreeklikheid moet meebring vir enige skade wat deur die dier aangerig is”, het die hof die hond se eienaar beveel om die slagoffer bykans R100 000 in skadevergoeding te betaal.
Die gevaar vir troeteldiereienaars – aanspreeklikheid sonder skuld.
Om die uitkoms van die hofsaak te verstaan, moet ons teruggaan na 'n ou Romeinse regsmiddel, die pauperiese aksie (actio de pauperie).
Ingevolge hierdie regsmiddel, wat steeds deel van ons moderne reg is, hoef die slagoffer nie te bewys dat die dier se eienaar op enige wyse nalatig was nie. As jou hond (of enige ander mak dier) iemand anders skade berokken, word jy aanspreeklik gehou op die basis van "geen skuld" of "strenge aanspreeklikheid".
Daar is ‘n paar beperkte uitsonderings op hierdie reël. As die hond se eienaar in hierdie geval kon wys dat die slagoffer die aanval uitgelok het, sou sy nie meer op skuldlose aanspreeklikheid van die eienaar kon staatmaak nie. Sy sou dan wel van haar kant af die nalatigheid en skuld van die hond se eienaar moes bewys. Dit is ’n baie moeiliker taak.
Die algemene risiko vir diere-eienaars bly dit – sonder enige fout of nalatigheid aan jou kant, kan jy steeds aanspreeklik gehou word vir skade wat deur jou diere veroorsaak word.
Honde-eienaars – hoe om die risiko's te bestuur.
Kom ons sluit af met 'n paar praktiese wenke oor hoe om jou troeteldier te beskerm, die veiligheid van ander te verseker en om jou risiko om regtens aanspreeklik gehou te word, te verminder -
- Verstaan die risiko: Jy kan regtens aanspreeklik gehou word vir enige skade wat jou troeteldier veroorsaak, insluitend beserings aan mense en ander diere, skade aan eiendom en ook vir emosionele letsels en stres wat slagoffers ly.
- Gaan jou versekeringsdekking na: Maak seker dat jou versekering se dekking vir Publieke Aanspreeklikheid voldoende is en dat dit jou sal dek vir gevalle soos hierdie.
- Van jou kant af moet jy jou hond sosialiseer en oplei: Behoorlike sosialisering en opleiding is nodig om aggressiewe gedrag by honde te voorkom. Maak seker dat jou hond goed met mense en met ander diere kan sosialiseer.
- Toesig en bedwang: Hou jou honde te alle tye onder toesig en onder jou beheer en bewang.Voldoen aan regulasies oor leibande in openbare ruimtes of wanneer daar enige risiko van besering of van skade is.
- Wees bedag op waarskuwingstekens: Neem kennis van enige tekens of geskiedenis van aggressie of vrees by jou hond, en indien nodig, verkry eerder professionele hulp van 'n gekwalifiseerde kundige oor gedrag by diere; of ‘n afrigter.
- Neem regsadvies: As jou hond in ‘n voorval betrokke is, raadpleeg dadelik jou prokureur om jou saak te oorweeg, om jou regte en verpligtinge aan jou te verduidelik en om jou dan deur enige opvolgende regsprosesse te lei.
Provided by Everton Dankuru Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.