Dubbele burgerskap: Goeie nuus as jy jou Suid-Afrikaanse burgerskap verloor het, maar...
“Citizenship is the gateway through which a number of rights in the Constitution can be accessed. It enables a person to enjoy freedom of movement, freedom of trade, and political representation” (Dit het ons Grondwetlike Hof voorheen bevind, soos aangehaal in hierdie uitspraak van die Appèlhof.)
Let wel: Baie Suid-Afrikaners wat geraak word deur hierdie uitspraak, sal oorsee wees en/of dalk nog nie kennis hê hieroor nie. As jy weet van so iemand, stuur hierdie gerus na hulle.
Na wat berig word, het duisende Suid-Afrikaners hul burgerskap verloor deur aansoek te doen vir burgerskap of nasionaliteit van 'n ander land, sonder dat hulle eers ministeriële toestemming verkry het om dit te doen.
Die meeste sal dit onwetend gedoen het. Dubbele burgerskap word wel toegelaat, maar ons Wet op Burgerskap bepaal dat jy eers vooraf toestemming van die Minister moet verkry. Slegs minderjariges (onder 18s) en persone wat buitelandse burgerskap verkry het, omdat hulle in die huwelik getree het, is hiervan vrygestel.
Die goeie nuus is dat die Appèlhof beveel het dat –
- Daardie bepaling strydig is met die Grondwet en dat dit terugwerkend ongeldig verklaar word; en
- Burgers wat hul burgerskap verloor het as gevolg van daardie bepaling, geag word dat hulle nie hul burgerskap verloor het nie.
Die Grondwetlike Hof moet nog die verklaring van ongeldigheid bekragtig.
Die Appèlhof se verklaring van ongeldigheid het geen regskrag totdat die Grondwetlike Hof dit bekragtig nie. Op hierdie stadium is daar geen aanduiding van wanneer dit na die Grondwetlike Hof vir bekragtiging verwys sal word nie. Ons weet ook nie of Binnelandse Sake die proses van bekragtiging in die Grondwetlike Hof sal teenstaan nie en of hulle in die tussentyd sal voortgaan om die bepalings van die wet af te dwing nie.
Wees dus vir eers baie versigtig as jy van plan is om aansoek te doen vir buitelandse burgerskap of nasionaliteit, óf indien jy reeds van jou SA burgerskap gestroop is en jy beplan om in die nabye toekoms na Suid-Afrika terug te keer.
Nog 'n waarskuwing - moet nie toelaat dat jou SA paspoort verval nie!
Die nuwe uitspraak beïnvloed nie die vereiste dat, alhoewel jy vrylik oor die wêreld met jou tweede paspoort kan reis, jy steeds Suid-Afrika met jou geldige SA paspoort moet binnekom en daarvan vertrek nie. Hou dus aan om jou paspoort tydig te hernu!
Provided by Everton Dankuru Attorneys
© DotNews. All Rights Reserved.