Dispute oor Parkering – volg die kompleks se Reëls
“By subscribing to the constitution, each member accepts the benefits stipulated in his or her favour by the other subscribing members. One of those benefits is that there shall be rules of conduct to give substance to the objectives and rights promised and conferred by the constitution … and that the other members will be required to comply with them … and that any breaches thereof will be called to account” (Direk geneem uit hierdie uitspraak.)Daar is ooglopende voordele om in ‘n gemeenskaplike, omheinde sekuriteitskompleks of deeltitelontwikkeling te woon; daarmee saam kom daar ook reëls en verantwoordelikhede teenoor die ander inwoners.
Ons hoor dikwels die ongelukkigheid in gemeenskapskemas oor parkeergebiede. “Daar is nooit parkering vir besoekers nie, want Piet Verdriet se voertuig staan permanent op ‘n toegewysde besoekersparkering.” “Ons kompleks se pad is ‘n nagmerrie in die aand, want die mense se voertuie staan gedeeltelik in die pad.”
Eienaars en kopers in gemeenskapskemas moet weet dat hulle vrywillig instem om die reëls en regulasies na te kom, wanneer hulle eiendom in ‘n spesifieke kompleks koop. Die Hooggeregshof moes ‘n eienaar onlangs beveel om sy voertuie slegs in sy motorhuis en op sy oprit te parkeer.
Ons kyk na ‘n geval waar die Huiseienaarsvereniging probeer het om die reëls so af te dwing dat die eienaars hul voertuie slegs in hul motorhuise en in hul opritte kon parkeer. Hulle het die Hooggeregshof genader vir ‘n hofbevel om die eienaar van drie voertuie te verbied om in stryd met die reëls te parkeer. Hy het sy een voertuig permanent in ‘n parkeergebied vir besoekers parkeer, terwyl sy ander twee voertuie gedeeltelik in die kompleks se pad gestaan het.
- Die eienaar woon in ‘n residensiële kompleks met ‘n Huiseienaarsvereniging. Die reëls bepaal duidelik dat eienaars se voertuie nie op die parkeergebiede vir besoekers mag staan nie; en ook nie in die pad mag staan nie.
- Die eienaar se woonhuis het ‘n dubbele motorhuis. Hy kon net een van sy drie voertuie daarin parkeer, want die ander deel van sy motorhuis was volgepak met huishoudelike toerusting. Hy het sy ander voertuig in sy oprit parkeer. Hierdie voertuig het gedeeltelik in die pad gestaan omdat dit so groot was. Sy derde voertuig het hy bloot in die parkering vir besoekers parkeer.
- Ander eienaars in die kompleks het hieroor gekla. Die Huiseienaarsvereniging het die hof genader om ‘n interdik teen die betrokke eienaar te verkry.
- “Die Huiseienaarsvereniging het nie die reëls afgedwing nie; daarom het daardie reëls in onbruik verval.”
Die eienaar voer aan dat die HEV nie die reëls teen ander oortreders afgedwing het nie. Dit sou inhou dat die HEV afstand gedoen het van die reg om die reëls af te dwing. Die hof stem nie hiermee saam nie. Die hof bevind dat die HEV regtens verplig is om die reëls tot voordeel van al die eienaars af te dwing; die HEV het ook nie enige bevoegdheid om enigiemand vry te stel van die nakoming van die reëls nie. Huiseienaarsverenigings moet die bewoording van hul grondwette nagaan. Hulle is ook verplig om toe te sien dat die reëls nagekom en afgedwing word. Die hof verwys in die uitspraak na beide hierdie verpligtinge wat die HEV moet nakom.
- “Die Huiseienaarsvereniging pas die reëls op diskriminerende wyse toe en die hof behoort dit nie toe te laat nie.”
Die eienaar voer dan aan dat die HEV teen hom diskrimineer en dat dit nie toegelaat kan word nie. Die hof beklemtoon dat hierdie ‘n kontraktuele reg en verpligting is; indien die HEV dit nie in die verlede teen ander eienaars afgedwing het nie, beteken dit nie dat hulle die reg verloor het om dit teen hierdie eienaar af te dwing nie. Die hof is wel bereid om ‘n waarskuwing aan HEV’s te rig. “An irrationally discriminatory system of enforcement might well in a given case justify a decision by the court in a matter like this to refuse to grant the interdictory relief in the exercise of its equitable discretion.” ‘n HEV moet dus bedag wees daarop om nie enige vorm van irrasionele diskriminasie toe te laat met die afdwinging van reëls nie.
Die eindresultaat – die hof verbied die eienaar om enige voertuig, motorfiets, karavaan, boot of sleepwa op enige plek te parkeer anders as in sy motorhuise of buite sy huis maar nog steeds binne die grense van sy eiendom. Die hof beveel ook dat hy verantwoordelik is vir die betaling van die HEV se regskostes.
Die Ombuddiens vir Gemeenskapskemas (CSOS) lewer ‘n diens om geskille aan te spreek en op te los. Dit is bevoeg om ‘n wye verskeidenheid van dispute in gemeenskapskemas aan te hoor. In hierdie spesifieke geval het dit nie die jurisdiksie gehad om ‘n bevel teen die eienaar uit te reik nie, maar dit is waar jy sal begin met ‘n dispuut; verkry spesifieke en toegepaste advies hieroor van jou prokureur.
Provided by Scheibert & Associates Inc
© DotNews. All Rights Reserved.