Gaan jou hond byt? Die risiko is joune
“Mense het die reg om in ‘n openbare pad te stap en te weet dat hulle nie deur honde aangeval gaan word nie. Waar dit wel gebeur, behoort hulle ook na die eienaar van die dier te kan kyk om hulle te vergoed vir hul beserings en pyn wat opgedoen is.” (Vertaalde uittreksel uit hierdie uitspraak.)Eienaars van honde (en ander gevaarlike, makgemaakte diere) moet weet dat die Appèlhof op beperkende wyse kyk na verwere wat aangebied word waar beserings en verliese deur ‘n makgemaakte dier veroorsaak is.
Jou risiko kan redelik vinnig die hoogte inskiet – hier is die eienaar gedagvaar vir R2,3 miljoen.
Drie honde verskeur ‘n verbyganger...
'n "Tuinier en vullisversamelaar", het vreedsaam in 'n voorstedelike straat afgestap en die trollie waarin hy vullis versamel het gestoot. Hy is sonder rede en sonder enige waarskuwing wreed deur drie honde aangeval. Die honde het hom in so 'n mate verskeur dat die bure wat hul na die toneel gehaas het, eers gedink het dat hy reeds dood was. Hy het oorleef, maar as gevolg van sy erge beserings is sy linkerarm geamputeer.
Die slagoffer het ‘n eis vir skadevergoeding van R2,341 miljoen ingedien. Die honde-eienaar het 'n verskeidenheid verwere geopper. Die belangrikste verweer wat die Appèlhof oorweeg het, was sy bewering dat “die beserings was nie my skuld nie”.
Pauperiaanse aanspreeklikheid - aanspreeklikheid sonder skuld
Dit bring ons by die kern van jou risiko – jy kan wel aanspreeklik gehou word op 'n “streng aanspreeklikheid” of "geen fout" basis. Jy kan dus gedagvaar word, selfs al was jy op geen manier nalatig nie.
Dit is baie anders as die meeste ander soorte aanspreeklikheid vir skadevergoeding, waar jy - met enkele uitsonderings na - slegs op risiko is as jy aandadig is. So onregverdig as wat dit met die eerste oogopslag mag blyk, is dit wel ‘n deurdagte posisie. “Diere kan wesenlike skade aanrig aan beide mense en aan besittings. Wanneer dit gebeur en wanneer die slagoffer geen aandeel in die dier se optrede het nie, is dit net regverdig dat die eienaar aanspreeklik moet wees vir die skade, eerder as die onskuldige slagoffer.”
Hierdie konsep strek reeds vir eeue terug, selfs nog voordat die bekende Romeinse wette en gebruike ontstaan het. Ons moderne regstelsel pas nog steeds hierdie “foutlose aanspreeklikheid” van makgemaakte diere op die eienaar toe. Dit is die sogenaamde "pauperiaanse aanspreeklikheid" en dit is afgelei van die "actio de pauperie" in regsterme.
Dit bly 'n ingewikkelde regsgebied, wat regterlike interpretasie van ou en moderne wette verg. Toegepaste professionele advies op die spesifieke feite van jou geval is absoluut noodsaaklik. In 'n neutedop sal jy aanspreeklik wees vir jou dier se optrede "as die dier as gevolg van innerlike opgewondenheid skade aanrig of, soos wat dit ook genoem word, as gevolg van ondeug. Die hond (of ander mak dier) se gedrag is ongewoon of afwykend in vergelyking met die optrede van ‘n goedgemanierde dier van daardie soort."
Uitspraak van die Hoogste Hof van Appèl: Die drie verwere tot jou beskikking bly beperk.
Daar is drie beperkte verwere waarop ‘n eienaar van ‘n mak dier hom tradisioneel kan beroep.
- Die slagoffer "was op 'n plek waar hy nie moes wees nie" - byvoorbeeld '' 'n inbreker wat deur 'n waghond gebyt is; of deur ‘n dier wat vir veiligheid vasgeketting is om dit in toom te hou en die slagoffer het in die gevaarsone inbeweeg. As ‘n algemene reël, waar die dier iemand in ‘n openbare plek soos ‘n pad aanval, sal die eienaar wel aanspreeklik gehou word.”
- “Die beseerde party of 'n ander party het die aanval veroorsaak deur die dier uit te lok.”
- 'n Ander persoon as die eienaar (byvoorbeeld 'n honde-oppasser, 'n hondestapper of 'n diereversorgingsoord) het “toesig of beheer” oor die dier geneem en kon nie daarin slaag om die dier te beheer nie. Dit veroorsaak dan dat die slagoffer beseer word. Die eis is dan teen hierdie ander persoon en nie teen die eienaar self nie.
Die hof het dit teen die agtergrond van verskeie hofsake en skrywers en grondwetlike beginsels oorweeg. Die hof bevind dan dat die laaste verweer nie uitgebrei gaan word nie. Die eienaar van ‘n mak dier bly dus verantwoordelik vir die optrede van die dier, al het die eienaar geen skuld daarin nie. As eienaar bly jy dus op risiko!
Bly in beheer van jou honde en maak seker jou versekering bied vir jou toepaslike dekking!!
Provided by Scheibert & Associates Inc
© DotNews. All Rights Reserved.