Onderhoud in hierdie tye – Is tronkstraf die antwoord?
“Compliance with court orders is always important. There is a particular scourge in this country of spouses, particularly husbands, failing to pay judicially ordered maintenance” (Sterk woorde uit hierdie uitspraak.)
Daar is wel mense wat weier om onderhoud te betaal, nie omdat hulle nie kan nie, maar omdat hulle nie wil nie. Om geld uit so ‘n wanbetaler te kry, is ‘n onbegonne taak. Tog sal die mees hardvogtige wanbetaler weer dink as daar ‘n sterk kans is dat hy tronk toe sal gaan weens minagting van die hof.
As oppervoog van minderjarige kinders, het ons howe reeds gewys dat hulle streng sal optree teen die soort moedswillige wanbetalers wat hier ter sprake is.
Wat moet jy bewys?
Jy moet 'n doelbewuste oortreding van die hofbevel bewys en ook dat die nie-nakoming van die onderhoudsbevel opsetlik en in kwade trou gedoen is. In ‘n siviele saak is die bewysmaatstaf “op 'n oorwig van waarskynlikhede”. In sake waar minagting van die hof beweer word, moet hierdie optrede van kwader trou “bo redelike twyfel” bewys word, die hoër bewyslas wat in ‘n strafregtelike saak toegepas word.
Die hof som dit in die tweede saak as volg op: “As dit met in agneming van al die getuienis, blyk dat dit redelikerwys moontlik is dat die man nie opsetlik die bevel verontagsaam nie, kan hy nie aan die strafregtelike sanksie van minagting van die hof onderwerp word nie.”
As iemand regtig nie kan betaal nie, is dit 'n ander saak. COVID-19 het dit ook nie makliker gemaak nie. Ons howe se teikens is eerder diegene wat wel kan betaal, maar wat weier om dit te doen. Iemand wat werklik nie kan betaal nie, moet die Onderhoudshof nader en aansoek doen om 'n wysiging van die hofbevel. Solank as wat die Hofbevel staan, moet die onderhoudsbetalings gemaak word.
Ons kyk na twee onlangse beslissings van die Hooggeregshof
Die eerste geval: Klassieke wanbetaler – betaal of gaan tronk toe.
- 'n Pa is beveel om, ingevolge 'n egskeidingsooreenkoms van 2017, onderhoud van R15,000 per maand vir sy twee minderjarige kinders te betaal. Hy het vroeg al in 2018 opgehou om te betaal. Toe die saak voor die hof gedien het, was hy reeds agterstallig met R537 499 se onderhoudsbedrae.
- Die ma het aansoek gedoen om hom weens minagting van die hof tronk toe te stuur. Die pa het aangevoer dat hy nie die onderhoudsbetalings kon bekostig nie. Dit is weliswaar die algemene verweer.
- In hierdie geval het die ma geen probleme gehad om haar saak vir minagting te bewys nie.
- Die hof wys op die volgende: Die pa se maandelikse inkomste was R147 000 per maand; met ‘n netto betaling aan hom van R83,000 per maand met ‘n bykomende R10,000 per maand na sy voorsorgfonds. Hiermee het hy R11,000 per maand vir sy BMW betaal, en R14,000 per maand op sy dobbelgewoontes spandeer. Die hof bevind dat hy ongetwyfeld skuldig is aan minagting van die hof se vorige onderhoudsbevel.
- Om 30 dae in die tronk te vermy, moet hy die agterstallige paaiemente maandeliks afbetaal, saam met sy bestaande maandelikse onderhoudsverpligting. Die hof beveel ook dat hy die ma se regskostes op die bestraffende skaal soos tussen prokureur en kliënt moet betaal.
Die tweede geval: Die twee honde speel tweede viool.
Enige vorm van minagting van die hof word uiteraard in ‘n ernstige lig beskou. Tronkstraf is natuurlik nie die enigste opsie nie. In ‘n ander geval het die hof eerder ‘n boete van R20 000 opgelê, met die boete wat vir drie jaar voorwaardelik opgeskort is.
- In 'n betwiste egskeidingsaak het die hof die man beveel om sy vrou op 'n tussentydse basis vir 'n verskeidenheid huishoudelike uitgawes te betaal. Die uitgawes wat die meeste aandag in die media ontlok het, was vir die egpaar se twee honde vir hondekos, 'n hondestapper en veeartsenykundige uitgawes vir die honde. Daar was ook voorsiening vir die betaling van mediese en farmaseutiese uitgawes vir die vrou.
- Die man het aangevoer dat daar ‘n ware misverstand was oor sy verpligtinge ingevolge die hofbevel. Die hof het sy verweer vir sommige van sy verpligtinge en in sommige opsigte aanvaar, maar nie deur die bank nie. Die hof wys daarop dat in sekere gevalle is die bepalings van hierdie spesifieke hofbevel baie duidelik en nie vatbaar vir enige verwarring nie.
- Die man beweer ook dat sy onvermoë om te betaal ‘n direkte gevolg was van die negatiewe uitwerking van die pandemie op sy maatskappy. Die hof bevind daar is nie voldoende bewyse hiervoor nie. Die ondersteunende bewysstukke sou tot die man se beskikking gewees het, dit is onverklaarbaar waarom hy dit nie aan die hof voorgelê het nie. Sy teenaansoek om die kontantbedrag vir onderhoud te verminder, misluk ook op dieselfde gronde.
Provided by Scheibert & Associates Inc
© DotNews. All Rights Reserved.