Broers en susters: Hoe ‘n enkele ontbrekende woord in 'n testament 'n gesin verdeel het.
“From small mistakes come great catastrophes.” (Justin Cronin)
Ons het almal al gesien hoe selfs die kleinste fout, groot nagevolge kan hê. ’n Onlangse hooggeregshof dispuut tussen broers en susters oor ’n swak opgestelde testament wys weereens dat elke woord tel wanneer dit by belangrike dokumente kom (en jou testament is veral ‘n belangrike dokument).
Die gesamentlike testament en die "30 dae oorlewende" klousule.
In hul gesamentlike testament het 'n welgestelde egpaar hul boedels oor en weer aan mekaar bemaak. Toe die man sterf, het sy vrou ingevolge hul gemeenskaplike testament hul hele gemeenskaplike boedel geërf. Dinge het egter gekompliseerd geraak toe dit later bevind is dat sy nie haar eie sake kon bestuur nie. Sy is deur die hof onder kuratorskap geplaas – en dit blyk toe ook dat sy geen verdere testament na die gesamentlike testament gemaak het nie.
Sy is drie jaar later oorlede, met net die oorspronklike gesamentlike testament in plek. Hieroor verskil haar drie kinders – is die gesamentlike testament steeds op hul ma se boedel van toepassing of het sy nou sonder ‘n geldige testament (“intestaat”) gesterf?
- Ter sprake was 'n “30-dae oorlewende”-klousule in die gesamentlike testament wat lees: "Slegs as ons gelyktydig of binne 30 (dertig) dae van mekaar sterf, in sulke omstandighede waarin die oorlewende nie 'n verdere testament opstel nie, dan bemaak ons in daardie geval die hele boedel soos volg...".
- Het hierdie bewoording beteken dat die gesamentlike testament dus nie meer geldig sou wees nie? Vir die volwasse kinders was dit 'n belangrike vraag, want in hul gesamentlike testament het die egpaar die grootste deel van hul boedel ('n eiendom en die familiebesighede) aan die seun nagelaat. Dit was omdat hy 'n kernrol in die bestuur en befondsing van die besighede gespeel het. Dit het ook ingehou dat sy twee susters net die restant van die boedel sou erf - duidelik 'n onaantreklike voorstel vir hulle.
Dit is verstaanbaar dat die seun, in die hoop om sy "leeue aandeel" van die boedel te behou, aangevoer het dat die egpaar se oorspronklike gesamentlike testament steeds geldig was en op sy ma se boedel van toepassing moes wees. Net so het die twee susters, in die hoop op 'n gelyke drie-rigting verdeling van die gehele boedel, die teendeel aangevoer – dat die oorspronklike gesamentlike testament weggeval het en dat hul ma intestaat gesterf het.
"En" of "Of"? Een ontbrekende woord, kan regtig die wêreld se verskil maak.
Soos wat gebeur wanneer daar onduidelikheid is met die uitleg van die bepalings van die testament het die erfgename hul na die hooggeregshof gewend om uitsluitsel te gee.
Die hof bevind dat dit tussen twee moontlikhede moet besluit. Het die egpaar bedoel om te sê:
- "Slegs as ons gelyktydig of binne 30 (dertig) dae na mekaar sterf, of in sulke omstandighede waarin die oorlewende nie 'n verdere testament opstel nie...". Daardie "of" sou beteken dat die gesamentlike testament dus steeds geldig was, en dat die seun ingevolge die testament die leeue-aandeel in die boedel moet kry;
OF
- "Slegs as ons gelyktydig of binne 30 (dertig) dae na mekaar sterf, en in sulke omstandighede waarin die oorlewende nie 'n verdere testament opstel nie...". Daardie “en” sou beteken dat die gesamentlike testament nie meer geldig sou wees nie, dat die moeder dan intestaat gesterf het en dat die boedel gevolglik in drie gelyke dele tussen die volwasse kinders verdeel moes word.
Die hof het die betrokke testament as "'n onelegante en baie swak opgestelde dokument" beskryf. Die hof het wel aanvaar dat 'n testament "slegs as ongeldig as gevolg van onsekerheid bevind kon word in ‘n geval waar dit onmoontlik sou wees om 'n betekenis daaraan te gee". Ook dat "enige dokument gelees moet word om sin daaraan te verleen eerder as om dit onsinnig te verklaar."
Die hof het beslis dat dit wel betekenis kon verleen aan die betrokke sin in die testament. Die hof bevind dat die egpaar bedoel het dat hul gesamentlike testament wel moes oorleef indien die langslewende gade nie daarna ‘n eie, nuwe testament opgestel het nie.
Die eindresultaat – die bepalings van die oorspronklike, gesamentlike testament is steeds van krag en die toedeling van die leeue-aandeel aan die volwasse seun bly in plek. In effek het almal in die proses verloor gedagtig aan die familie-konflik, stres, tyd, regskostes en gekneusde verhoudings wat onafwendbaar deel is van hierdie tipe litigasie.
Vermy hierdie onsekerheid en familie-konflik.
Niemand wil hê dat hul naasbestaandes oor hul boedel moet baklei wanneer hulle weg is nie. Soos wat hierdie saak duidelik toon, kan selfs die geringste onduidelikheid in die bewoording van ‘n testament juis daartoe lei. Laat ons jou help om 'n testament op te stel wat jou laaste wense akkuraat, bondig en duidelik uiteensit.
Provided by B. R. Sandwith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.