Lewensmaats – ’n Testament en ’n Saamwoonooreenkoms is steeds nodig!
Die Hooggeregshof se verklaring dat die relevante wetgewing in hierdie verband ongrondwetlik en ongeldig is, moet steeds deur die Grondwetlike Hof bekragtig word. Maar hierdie uitspraak is ’n duidelike aanduiding dat ons howe gewillig is om wetgewing aan te pas om die regte van sulke paartjies te beskerm.
Die lewensmaat wat nou sal erf
- ’n Ongetroude man van 57-jarige ouderdom het skielik gesterf en het ’n aansienlike boedel nagelaat. Die man se oorlewende (vroulike) lewensmaat het aangevoer dat sy van die boedel moet erf, maar beide die eksekuteur van sy bestorwe boedel en die Meester van die Hooggeregshof het hierdie eis van die hand gewys.
- Sy het die Hooggeregshof met haar eis teen sy boedel genader. Die Hof beslis op die feite dat die paartjie “vennote in ’n permanente lewensvenootskap tussen lede van die teenoorgestelde geslag was, waarvan die eienskappe dieselfde of soortgelyk was aan ’n huwelik, waar hulle ook wedersydse onderhoudsverpligtinge teenoor mekaar aanvaar het”. (Eie vertaling.)
- Die Hof beslis dan dat die bepalings van die Wet op Intestate Erfopvolging en die Wet op Onderhoud van Langslewende Gades ongrondwetlik is in sovêr dit permanente lewensmaats van die teenoorgestelde geslag by die bepalings uitsluit.
- Die praktiese gevolg hiervan is dat die oorlewende lewensmaat nou sal erf asof sy met hom getroud was.
- Moet jy steeds jou testament maak
Daar is geen waarborg dat die Grondwetlike Hof die ongeldigverklaring van die tersaaklike wetsbepalings gaan bekragtig nie. Boonop is daar baie goeie redes waarom ons almal – ongeag of jy getroud of ongetroud is – ’n geldige en behoorlik-voorbereide testament moet nalaat.
Dit is heel waarskynlik die belangrikste dokument wat jy ooit sal onderteken. Sonder ’n testament verloor jy die reg om te kies wie wat moet erf (indien jy intestaat sterf, sal jou gade byvoorbeeld slegs ’n “kindsdeel” kan erf); jy het geen sê in wie die eksekuteur van jou boedel moet wees nie; en jy loop die risiko dat jou naasbestaandes aan traumatiese en duur familie-dispute en litigasie blootgestel kan word.
In die geval van lewensmaats, is dit dalk jou wens dat jou lewensmaat alles moet erf, of dalk nie. Die enigste manier om te verseker dat daar uitvoering aan jou wense gegee sal word, is as jy uitdruklik daarvoor in jou testament voorsiening maak.
- Jy moet steeds ‘n saamwoon-ooreenkoms hê
Vir baie jare al bestaan die mite in ons samelewing dat ons regstelsel die konsep van ’n “gemeenregtelike huwelik” erken. Daar bestaan nie so iets in Suid-Afrikaanse reg nie. Daar is wel sekere beperkte statutêre beskermings vir lewensmaats, maar as en wanneer jy en jou lewensmaat se paaie skei, is die kans groot dat julle julself aan ’n uitgerekte en onplesierige geskil blootstel. Een van julle kan moontlik behoeftig agtergelaat word, selfs al het julle vir baie jare “as man en vrou” saamgewoon.
Die vinnige en maklike oplossing is om ’n saamwoon-ooreenkoms te sluit. Dit is die beste manier om beide van julle se (persoonlike en finansiële) regte te beskerm.
Provided by Scheibert & Associates Inc
© DotNews. All Rights Reserved.