Huisbou in 2021: Wees bewus van die risiko’s daaraan verbonde om die Nasionale Huisbouers Registrasieraad (“NHBRC”) se voorskrifte nie na te kom nie.
“Huis, Paleis, Pondok ...”
Dit wil voorkom of 2021 ’n besige jaar gaan wees vir beide die verkoop van eiendomme en vir diegene wat huise gaan bou. Dit is grootliks te danke aan die pandemie, wat dit vir baie van ons moontlik maak om van die huis af te werk en ook om op bykans enige plek te kan woon.
Indien jy as grondeienaar op die punt staan om ’n span kontrakteurs te nooi om jou droomhuis (of vakansiehuis, of ’n huis op ’n beleggingseiendom om uit te verhuur) te kom bou, maak dan seker dat die voorskrifte van die Wet op Beskermingsmaatreëls vir Behuisingsverbruikers streng nagekom word. Hierdie wet beskerm jou as “behuisingsverbruiker” teen oneerlike kontrakteurs en ook teen gebrekkige vakmanskap. Dit gee vir jou toegang tot die Wet se mediasie-dienste, in geval ‘n geskil sou ontstaan. Jou huis is waarskynlik een van jou mees waardevolle bates en daarom is dit ’n goeie idee om die tyd te maak om seker te maak dat daar aan al die vereistes voldoen word.
Aan die ander kant, kan boukontrakteurs of ontwikkelaars wat nie aan die Wet voldoen nie, beide strafregtelike vervolging (met 'n boete van tot R25,000 of een jaar se tronkstraf) en verlies van alle regte om betaling van die kliënt te eis, in die gesig staar. Met ander woorde, jy loop die risiko om alles te verloor. ’n Onlangse uitspraak van die Hooggeregshof illustreer die punt.
Hooggeregshof: Die bouers se registrasie alleen is nie voldoende nie
Die eerste stap vir die bouer is registrasie by die Nasionale Huisbouers Registrasieraad (“National Home Builders Registration Council”, of “NHBRC”). ’n Onlangse uitspraak van die Hooggeregshof het egter bevestig dat daar ook ’n tweede en uiters belangrike stap is – die inskrywing en registrasie van die spesifieke huis self. Let daarop dat die NHBRC se sertifikaat van inskrywing uitgereik moet word voordat die bouwerk begin.
Die feite in hierdie saak was soos volg –
- ’n Bouer (’n beslote korporasie) het ’n kontrak gesluit om vyf huise vir ’n behuisingsverbruiker te bou. Die bouer was behoorlik by die NHBRC geregistreer.
- Die bouer was op daardie stadium oor ‘n ander projek met die NHBRC in ‘n dispuut gewikkel. Die bouer het die huise nie onder sy besigheid se naam geregistreer nie, maar het dit onder die naam van ‘n ander entiteit geregistreer.
- Die bouer het wel die werk self verrig en het uiteindelik die behuisingsverbruiker vir R1,1 miljoen gedagvaar.
- Die bouer het die saak verloor. Die Hof het beslis dat die bouer “nie daarop geregtig was om vergoeding of betaling vir dienste gelewer te eis nie” aangesien daar nie aan die registrasie-vereistes voldoen is nie. (Eie vertaling.)
- Die eindresultaat was dat die bouer (beide die beslote korporasie en sy lede) met leë hande moes wegstap. Hulle is wel gelaat met ’n (ongetwyfeld aansienlike) rekening vir regskostes en die risiko om vervolg te word vir die verskaffing van valse of misleidende inligting aan die NHBRC.
Voordat jy bou …
- Maar seker dat jou bouer by die NHBRC geregistreer is. Verkry ’n afskrif van die registrasie-sertifikaat en maak seker dat dit nie verval het nie. Besoek www.nhbrc.org.za, skakel die NHBRC by 0800 200 824 of stuur aan hulle 'n e-pos by nhbrc@nhbrc.org.za. Let daarop dat indien jy ’n “eienaarbouer” is, jy dalk vrygestel mag wees.
- Jy moet die NHBRC se “sertifikaat van bewys van inskrywing” van die huis verkry voordat daar met enige bouwerk begin word. (Jy sal dit in elk geval nodig hê as jy ’n bouverband vir die nuwe huis wil verkry.)
- Maak seker dat jy met ’n ervare en betroubare bouer werk. Vra die bouer en verkry dan ten minste drie onlangse verwysings van gelukkige kliënte. Besoek van die aktiewe boupersele van die bouer om die kwaliteit van die bouwerk en die materiale self na te gaan. Doen navraag by die NHBRC oor die totale hoeveelheid huise wat deur die bouer ingeskryf is en vir enige klagtes wat ingedien is (kyk ook aanlyn vir enige negatiewe of positiewe verslae op klagtes-webwerwe vir verbruikers).
- Teken ’n volledige en skriftelike kontrak met die bouer, maar eers nadat jou prokureur dit nagegaan het. Kyk veral na tydperke, gedetailleerde spesifikasies en planne, voldoening aan die NHBRC se tegniese vereistes en hul Handleiding (“Home Building Manual”), waarborge wat uitgereik moet word, deposito’s wat betaal moet word, hoe vorderingsbedrae gevorder kan word en betalings hanteer gaan word, en dies meer.
- Maak seker dat daar aan al die nodige munisipale vereistes voldoen is en dat die bouplanne goedgekeur is.
- Hou jou bure op hoogte met die vordering van jou proses – oop en duidelike kommunikasie-kanale kan help om potensiële probleme of ongelukkigheid in die toekoms te verhoed.
Provided by Scheibert & Associates Inc
© DotNews. All Rights Reserved.