Skuldenaar betaal nie? Oorweeg 'n likwidasie-aansoek
Slegte skuld is altyd 'n groot probleem. As jy nie die nodige stappe neem om dit in te vorder nie, kan dit noodlottig vir jou eie finansiële posisie wees.
Jou pogings om verskuldigde bedrae in te vorder, mag dalk deur 'n geharde korporatiewe skuldenaar ontduik word. Oorweeg dan of dit gepas is om 'n aansoek vir likwidasie van die maatskappy te bring.
Die misbruik van die likwidasieproses om skuld in te vorder of om enige werklike dispute oor aanspreeklikheid vir skuld te vermy, sal nooit goed afloop nie. Jy loop die risiko van 'n bestraffende kostebevel vir die "misbruik van die regsproses". Wees ook bewus daarvan dat indien jou aansoek suksesvol is en 'n likwidasiebevel toegestaan word, jy dalk vir meer as jou eie regskoste sal moet instaan. Verkry advies oor die “gevaar van ‘n kontribusie” in die likwidasieproses.
‘n Likwidasie-aansoek sal beslis jou skuldenaar se aandag trek. Dit is dikwels die enigste strategie wat enige uitwerking op 'n "ontduikende skuldenaar" het. Die moontlikheid van 'n hofaangestelde likwidateur wat gereed staan om beheer oor die maatskappy te neem, kan dikwels die skuldenaar motiveer om daadwerklik iets aan die situasie te doen. Dit kan ‘n volle of gedeeltelike betaling wees, of 'n opregte skikkingsaanbod, of ten minste die werklike finansiële posisie openbaar of selfs ‘n dispuut na vore bring wat die partye dan kan hanteer.
Dit is ‘n praktiese uitdaging om te bewys dat die skuldenaar finansieel nie in staat is om sy skuld te betaal nie. Dit is dikwels nie maklik nie, en die blote versuim deur die skuldenaar om die skuld te betaal is nie opsigself voldoende nie.
Die "Artikel 345 aanmaning" om te betaal
Daar is wel 'n kortpad. Jy kan op die maatskappy se geregistreerde kantoor 'n skriftelike aanmaning om te betaal beteken. Dit is ‘n aanmaning ingevolge Artikel 345, die artikel van die (ou) Maatskappywet wat dit reguleer. Indien die skuld nie binne drie weke betaal word nie (of verseker word of by ooreenkoms opgelos word nie,) word dit regtens geag dat die maatskappy nie sy skulde kan betaal nie. Dit maak 'n likwidasie-aansoek baie eenvoudiger.
'n Munisipaliteit het gesukkel om skuld van twee eiendomsmaatskappye te verhaal. Die toepaslike hooggeregshofsaak van 2021 dien as 'n goeie voorbeeld van hoe hierdie eisproses in praktyk gebruik kan word ...
Aanmaningsbriewe kelder twee eiendomsmaatskappye
- Twee verwante maatskappye, een die eiendomseienaar, en twee, die huurder van die eiendom, het wesenlike bedrae geld aan die plaaslike munisipaliteit geskuld vir onbetaalde tariewe, dienskoste en elektrisiteitsrekeninge.
- Die munisipaliteit het die toepaslike aanmaningsbriewe op die maatskappye se geregistreerde kantore beteken. Die maatskappye het steeds versuim om die uitstaande bedrae te betaal. Hul pogings om met die munisipaliteit te skik het misluk en die munisipaliteit het hierna by die Hooggeregshof aansoek gedoen vir die likwidasie van die twee maatskappye.
- Die Hooggeregshof het voorlopige likwidasiebevele teen albei maatskappye toegestaan. Die hof bevind op die feite dat die maatskappye versuim het om die vermoedens te weerlê dat hulle nie in staat was om die skulde te betaal nie. Hulle kon ook nie daarin slaag om die Hof te oortuig om die Hof se diskresie uit te oefen om die likwidasiebevele te weier nie.
‘n Finale nota hieroor. Dit is noodsaaklik dat jou formele aanmaningskennisgewings reg bewoord en geteken word; en dat dit daarna op die regte wyse op die maatskappy beteken word. As dit nie die geval is nie, is jou aansoek waarskynlik gedoem tot mislukking - en dit kan 'n baie duur regsoefening wees.
Provided by Van Zyl Kruger
© DotNews. All Rights Reserved.