Verhuurder aanspreeklik vir 'n tragiese verdrinking na onvoorsiene vloed
Hierdie spesifieke saak het gegaan oor 'n vakansieverhuring op 'n gasteplaas en 'n natuurramp in die vorm van 'n vloed. Daar is natuurlik heelwat ander gebeure wat skade kan veroorsaak en wat besoekers die geleentheid kan gee om die eienaar te dagvaar.
Rampe wat aan weerstoestande gekoppel word - soos storms, oorstromings, veldbrande ensovoorts - sal in frekwensie en intensiteit toeneem as voorspellings oor klimaatsverandering waar is.
‘n Onvoorsiene vloed en 'n Tragiese verdrinking
- Dit moes 'n idilliese familievakansie op die rivieroewer gewees het. ‘n Gesin het 'n weeklange vakansie bespreek in een van die drie chalets wat die boer aan die oewer van die rivier gebou het. Die familie het spesifiek die naaste chalet aan die rivier geneem, want dit het 'n houtbalkon gehad vanwaar die kinders kon visvang.
- Die weer was mooi toe die familie by die gasteplaas aangekom het, maar dit het nie so gebly nie. ’n Hewige storm en reën in die rivier se opvanggebied het oornag tot oorstromings gelei en die rivier se walle het meegegee. Die gesin het middernag wakker geskrik met hul kamers wat oorstroom het. Hulle het gesukkel om uit die chalet te kom en kon ongelukkig nie hul kleuter, wat deur die vloed meegesleur is, red nie. Die kleuter het tragies verdrink (volgens mediaberigte is die kleuter uit sy pa se arms geruk terwyl sy pa en 'n ouer broer in die vloed aan 'n boom vasgeklou het).
- Die gesin het die boer, as die eienaar van die plaas, chalet en gastehuis gedagvaar. Die gesin het die boer se vrou ook gedagvaar, maar dit was onsuksesvol. Sy was buite gemeenskap van goedere met die eienaar getroud, en het hom slegs gehelp met die besprekings en die administratiewe aspekte van die gastehuis.
- Die boer wat die eienaar van die eiendom was, het ontken dat sy optrede "onregmatig" (onwettig) was. Die Hof bevind egter dat hy die chalets op 'n gevaarlike plek opgerig het. Hy het wel geweet dat die gebied langs die rivier waar hy die chalets gebou het, soms oorstroom. Daarom het ‘n regsplig op hom gerus om toe te sien en seker te maak dat die perseel veilig was vir die publiek om te gebruik.
- Die eienaar het ook ontken dat sy optrede nalatig was. Hy het aangevoer dat die vloed ‘n onvoorsiene gebeurtenis was; in die voorafgaande veertig jaar het dit nie gebeur nie. Hy het die chalet ses meter bo die normale riviervlak gebou en 2,8 meter bo die hoogwatermerk wat die vorige eienaar aan hom uitgewys het.
- Die weerdeskundige het getuienis aangebied dat die spesifieke jaar ‘n normale reënvalpatroon gehad het. Die reënval op daardie dag was wel hoog, maar dit was nie abnormale reënval nie. Die chalet was in ‘n gevaarlike area gebou waar die “100 jaar vloedlyn” deur loop. Geen ontsnappingsroetes of vloedwaarskuwingsmeganismes was in plek nie. Die deskundige het ook bevind dat soortgelyke vloede elke 17 tot 18 jaar kan voorkom.
- In die lig van die deskundige getuienis bevind die hof dat die moontlikheid van hewige oorstromings "voorsienbaar” was. Omdat die eienaar nagelaat het om die nodige stappe te neem om die inwoners van die chalet te beskerm, was hy regtens aanspreeklik vir die gevolge en die skade.
- Die eienaar het verder aangevoer dat die gesin hom nie regtens kon dagvaar nie, as gevolg van die vrywaringskennisgewings by die ingang van die plaas. Dit het besoekers gewaarsku dat hulle die plaas op hul eie risiko besoek. Hy beweer ook dat hy redelike stappe geneem het om inwoners te waarsku oor die gevare van oorstromings. Die Hof bevind egter dat die getuienis teenstrydig was. Selfs as daar waarskuwingstekens en vrywaringskennisgewings opgerig was, kon die eienaar nie bewys dat die waarskuwingstekens en vrywaringskennisgewings onder die aandag van die gesin gebring was nie. Die Hof bevind dan dat dit onder hierdie omstandighede, onregverdig sou wees om die gesin se aanspraak op skadevergoeding te ontken.
- Die hof bevind dan dat die eienaar gevolglik aanspreeklik sal wees vir die skade wat die gesin regtens sou kon bewys.
Eiendomseienaar- beskerm jouself!
- Vanuit 'n praktiese oogpunt wil jy pro-aktief ondersoek instel na moontlike risiko's wat jou eiendom mag inhou. Dan moet jy hierdie risiko’s bestuur, jou gaste en /of huurders daaroor waarsku en sorg dat hulle weet hoe om hulself te beskerm indien Moeder Natuur moontlik een van haar nare verrassings sou oplewer.
- Van ‘n regsoogpunt is dit belangrik om te kan bewys dat jy alle redelike stappe en voorsorgmaatreëls geneem het om jou gaste teen alle voorsienbare risiko's te beskerm.
- Jy moet ook altyd aan die heersende bou- en veiligheidsregulasies voldoen. Doen jy dit nie, is jy vanuit die staanspoor op die agtervoet en heel waarskynlik aanspreeklik.
- Maak gebruik van vrywarings- en vrystellingsvorms en kennisgewings op jou webwerf en meld dit ook in alle advertensiemateriaal, besprekingsplatforms ensovoorts. Rig ook waarskuwings- en vrywaringskennisgewings op die perseel op en neem dit in jou kontrakte op. Onthou dat die aanwending en doeltreffendheid daarvan beperk is, ingevolge ons Grondwet en natuurlik ingevolge die Wet op Verbruikersbeskerming indien dit van toepassing is.
- Ondersoek ook jou versekering. Maak seker dat jy gedek word vir alle eise van hierdie aard, en dat jy in geheel voldoen aan die vereistes wat die versekeraars aan jou stel.
Die belangrikste van alles is: kry professionele advies oor jou spesifieke omstandighede!
Provided by Van Zyl Kruger
© DotNews. All Rights Reserved.