Direkteure en Besigheidsredding in die tyd van COVID-19
Die COVID-19 pandemie en die gevolglike inperkingsperiode het nuwe geleenthede en winsmoontlikhede vir heelwat besighede meegebring. Maar dit het ook baie ander in die skaduwee van moontlike ondergang gebring.
Ongelukkig kan ons verwag dat daar nog vir ’n geruime tyd ’n styging in die aantal bankrotskappe gaan wees; met die domino-effek dat daardie syfers steeds gaan styg, totdat ons ekonomie weer begin om te herstel.
Indien finansiële nood op jou maatskappy se horison is, hou tog die streng verpligtinge wat die Maatskappyewet op direkteure plaas, in gedagte. Een van daardie pligte is om enige vorm van “roekelose sakebedrywighede” of “bedryf van sake onder insolvente omstandighede” te verhoed. Indien jy nie hierdie verpligtinge nakom nie, loop jy die risiko van persoonlike aanspreeklikheid, eise vir skadevergoeding en selfs strafregtelike vervolging.
Wat staan jou te doen? Daar is baie op die spel hier en daarom is spesifieke professionele advies onontbeerlik, maar dit is noodsaaklik om realisties te wees en om spoedige en besliste aksie te neem. Die ooglopende regsopsies is waarskynlik óf likwidasie óf besigheidsredding. Ons vergelyk hierdie twee opsies met mekaar.
Besigheidsredding teenoor likwidasie
Likwidasie: Indien jou maatskappy terminaal siek is, sal jou enigste opsie waarskynlik wees om vir likwidasie aansoek te doen. In so ’n geval word ’n likwidateur aangestel om toe te sien tot die likwidasie van die maatskappy, om die bates te verkoop en om die netto opbrengste aan skuldeisers uit te betaal. Die groot voordeel van likwidasie is dat dit die ordelike likwidasie van die maatskappy se sake behels. Die proses is nie noodwendig tot die grootste voordeel van al die betrokkenes nie.
Met ’n likwidasie sal alle belanghebbendes dikwels aan die kortste ent trek. Aandele verloor hul waarde, jy verloor jou direkteurskap, werknemers verloor hul werk en, hoewel hulle voorkeureise het vir uitstaande betalings, verlof, ensovoorts, het hierdie eise waarskynlik nie meer enige waarde nie. Behalwe vir dié skuldeisers wat ’n vorm van sekuriteit hou, het ander skuldeisers (wat jou ook sal insluit indien jy ’n leningsrekening het) slegs konkurrente eise – wat waarskynlik ook sonder waarde is.
Om dit alles te kroon, indien jy as direkteur of lid, borg vir enige van die eise geteken het, sal jy ook persoonlik daarvoor aanspreeklik wees.
Besigheidsredding: Die doel van besigheidsredding is om die maatskappy se sake en besigheid sodanig te herstruktureer “dat die waarskynlikheid dat die maatskappy op ’n solvente grondslag sal voortbestaan gemaksimaliseer word of, indien dit vir die maatskappy onmoontlik is om voort te bestaan, dit sal lei tot ’n beter opbrengs vir die maatskappy se skuldeisers of aandeelhouers as wat uit die onmiddellike likwidasie van die maatskappy sou voortspruit.”
Alle belanghebbendes staan dus die kans om bevoordeel te word, insluitende jouself as direkteur, aandeelhouer en/of skuldeiser (op grond van jou leningsrekening). Daar is ’n groter kans dat die personeel hul poste kan behou en dat verskaffers die maatskappy as ’n kliënt sal behou. Dit is ook meer voordelig vir die ekonomie om die ondergang van ’n besigheid te vermy. (SARS in besonder sal bly wees om die maatskappy as ’n belastingbetaler te behou.)
Die sukseskoers vir besigheidsreddings is nie baie hoog nie; maar selfs waar dit slegs gedeeltelik suksesvol is, word dit steeds voorgehou as ‘n verbetering op likwidasie. Rolspelers het al kommer uitgespreek oor die koste van besigheidsredding. Hoewel daar nie enigheid hieroor is nie, is koste dalk ook ’n faktor wat saam met al die faktore hierbo bespreek oorweeg moet word wanneer daar tussen die twee opsies besluit moet word.
Hoe werk dit?
In ’n neutedop (hierdie is noodwendig slegs ’n kort oorsig oor ’n onderwerp wat baie ingewikkeld kan wees) –
- Gewoonlik word die maatskappy vrywilliglik in besigheidsredding geplaas met ’n resolusie van die direksie. Alternatiewelik kan ’n belanghebbende van buite af aansoek doen vir ‘n hofbevel (wat jy kan teenstaan).
- ’n Besigheidsreddingspraktisyn (dikwels na verwys as ’n “BRP”) word dan aangestel om algehele bestuur en beheer van die maatskappy oor te neem, in die plek van die bestaande direksie en bestuur; en om die maatskappy se sake te ondersoek en te oorweeg “of daar ’n redelike vooruitsig is dat die maatskappy gered kan word”. Intussen verkry die maatskappy beskerming teen regsgedinge van skuldeisers, deur die moratorium wat inskop met die aanvang van besigheidsredding.
- As direkteur moet jy “behoudens die gesag van die praktisyn, voortgaan om die funksies van direkteur uit te oefen”. Jy het ook “’n plig om enige bestuursfunksie in die maatskappy ooreenkomstig die uitdruklike opdragte of voorskrif van die praktisyn uit te oefen, tot die mate dat dit redelik is om dit te doen”. Met ander woorde, jy moet die BRP ondersteun en met hom/haar saamwerk sovêr as wat dit van jou vereis word.
- Die BRP belê ’n eerste vergadering van skuldeisers om skuldeisers in te lig of daar ’n redelike vooruitstig is om die maatskappy te red.
- Indien dit blyk dat redding haalbaar is, sal die BRP ’n besigheidsreddingsplan formuleer en dit by ’n verdere vergadering van skuldeisers voorlê vir oorweging en stemming.
- Indien die besigheidsreddingsplan aanvaar en suksesvol geïmplementeer word, keer die maatskappy as ’n lewensvatbare besigheid terug na die ekonomie.
- Indien daar geen vooruitsig vir redding is nie of indien die besigheidsreddingsplan verwerp word sonder ’n verlenging van die besigheidsreddingsverrigtinge, kan die hof die verrigtinge na ’n likwidasie omskakel. Die Hof kan ook in sekere omstandighede die besigheidsreddings-resolusie of hofbevel tersyde stel.
Dit is baie belangrik om vinnig op te tree. Die kanse om ’n besigheid te red is statisties (sowel as logies) baie groter indien jy vinnig reageer en so spoedig moontlik optree, reeds met die eerste tekens van finansiële nood.
Met betrekking tot die regsposisie, het ons howe dit as volg gestel: “... dit is duidelik dat die besigheidsreddingsprosedure bedoel is om op die vroegste moontlike oomblik ingestel te word, naamlik wanneer ’n maatskappy tekens van dreigende insolvensie toon, maar waar dit nog nie die stadium van werklike insolvensie bereik het nie.”
Hoe langer jy dit uitstel, hoe groter is die waarskynlikheid dat jy persoonlik regsprobleme kan opdoen; en hoe groter is die kans dat al die belanghebbendes alles kan verloor.
Hou in gedagte dat toegang tot finansiering hier uiters belangrik sal wees; asook die aktiewe ondersteuning van jou grootste skuldeisers, beide gedurende die besigheidsreddingsverrigtinge sowel as oor die langer termyn.
Provided by Van Zyl Kruger
© DotNews. All Rights Reserved.