Lewende testamente: Kom ons praat oor ses wanopvattings.
Gesondheidskwessies en sterftes is deel van die lewe. Dit maak nie saak dat dit onwaarskynlik is om vinnig te gebeur nie en ook nie dat dit vir jou ‘n ontstellende gedagte mag wees nie. Vir jou gesin se onthalwe sowel as vir jou eie, maak seker dat jy 'n Lewende Testament of ander aanwysing oor mediese behandeling in plek het. Terwyl jy besig is, verneem ook van jou naastes of hulle Lewende Testamente in plek is.
Ses Mites of wanopvattings.
Ons hanteer 'n paar mites oor ‘n Lewende Testament. So kan ons aandui waarom almal, jonk en oud, verkieslik een moet hê.
Mite 1: “Dis nie belangrik nie, ek het reeds 'n testament”. ‘n Laaste Testament is iets heel anders. Dit is beslis 'n baie belangrike en noodsaaklike dokument, maar dit handel met jou aanwysings en wense oor wat moet gebeur wanneer jy reeds dood is. Dit het geen invloed of aanwysings oor jou terwyl jy nog lewendig is nie.
Daarteenoor is jou Lewende Testament jou eie aanwysings oor wat met jou moet gebeur terwyl jy nog lewendig is. Is daar mediese behandeling wat jy verlang? Is daar sekere mediese behandeling wat jy nie verlang nie en waartoe jy nie jou toestemming verleen nie? Dit gee jou eie aanwysings weer wanneer jy self nie meer fisies in staat is om vir jouself te kan praat nie. Dit sit jou eie aanwysings uiteen en dui jou besluit aan oor of jy kunsmatig aan die lewe gehou moet word, al dan nie, indien jy die vermoë (fisies of verstandelik) verloor om self verdere aanwysings of toestemmings hieroor te verleen.
Mite 2: “Dis genadedood”. Nee, dit is ook 'n totaal ander konsep. Genadedood en hulpverlening met gevalle van selfdood is tans nog onwettig in Suid-Afrika. Jou Lewende Testament gee nie aan jou dokters opdrag om aktief in te gryp om jou lewe te beëindig of om te help met selfdood nie. Dit doen juis die teenoorgestelde, met jou opdrag dat die natuur toegelaat moet word om sy gang te gaan. Jy kan bepaal dat niemand aktief moet ingryp om jou kunsmatig aan die lewe te hou nie (moontlik verkeer jy in erge pyn en nood) in die geval waar daar geen mediese vooruitsig op herstel vir jou is nie.
Ons moet almal self besluit tot watter mate ons hiermee gemaklik is. Bespreek enige gewetensbesware of godsdienstige besware of bekommernisse met jou geestelike adviseur of jou leraar of met jou familie en die mense naaste aan jou.
Mite 3: “Dis selfsugtig”. Dit kan tog nie selfsugtig wees nie. Jy help jou geliefdes om die moeilike keuses te maak indien hulle gevra word om dit te doen. Dit spaar jou geliefdes die skuldgevoelens en onsekerheid wanneer hulle gevra word oor jou wense en jou aanwysings gedurende jou laaste dae. Jou naasbestaandes hoef dan ook nie onseker of skuldig te voel of verantwoordelik te voel oor jou lewens- en doodsbesluite aan die einde van jou vol lewe nie. Jy maak self jou posisie duidelik. Dit kan jou famile ook onnodige mediese uitgawes van duisende rande bespaar as jy dit duidelik maak dat jy nie verdere behandeling wil hê nie.
Mite 4: “Jou mediese aanwysings sal in elk geval nie uitgevoer word nie, so dit is nutteloos”. Ons howe het nog nie hieroor uitspraak gelewer nie. Ons weet wel dat as ‘n algemene reël moet pasiënte instem tot alle mediese behandeling.
Die HPCSA (Health Professions Council of South Africa) en die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging het riglyne uitgereik met die strekking dat mediese aanwysings nagekom moet word, met mediese praktisyns wat versoek word om hul pasiënte aan te moedig om skriftelike aanwysing in plek te stel.
Mite 5: "Dit kan altyd wag tot môre". Dit kan nie altyd wag nie. Mense se gesondheid en hul lewens kan letterlik in ‘n oogwink omgekeer word. Verkeersongelukke, beroertes, skielike ernstige siektes (dink aan Covid!) gebeur sonder enige vooraf waarskuwings met ons.
Mite 6: “Ek is te jonk om ‘n lewende testament te benodig”. Die scenario's wat ons hierbo gelys het is nie beperk tot die oues van dae nie. Dit kom uit die bloute en dit kan met jonk en oud gebeur. Maak jou wense eerder nou al duidelik, dan is dit gedoen.
Wat moet in jou Lewende Testament wees en aan wie moet jy dit gee?
Daar is regtens geen vasgestelde formaat nie, maar daar is heelwat voorbeelde beskikbaar. As jy ‘n vorm aanlyn kry, sal ons aanbeveel dat jy dit met jou prokureur deurgaan. Dit is dan jou geleentheid om jou eie wense en aanwysings op skrif te stel, ook gedagtig aan jou eie godsdienstige en morele oortuigings. As jy jou eie wense en aanwysings op skrif stel, maak jy dit makliker vir jou geliefdes en vir mediese mense om jou laaste wense te eerbiedig.
Teken ‘n paar identiese en oorspronklike aanwysings en hou een vir jou eie gebruik. Gee die ander getekende aanwysings aan jou naasbestaandes en aan jou geliefdes, aan jou mediese praktisyn, aan jou prokureur en aan enigiemand anders wat dit dalk sal moet implementeer of wat moet toesien dat jou wense nagekom word (miskien 'n goeie vriend of die bestuurder van jou aftree-fasiliteit as jy in een woon).
Jy kan kies om dit gereeld te hersien en te hernu – jou dokter moet ook tevrede wees dat jy by jou volle positiewe was en alles verstaan het toe jy jou mediese aanwysings onderteken het, en dat jou wense nie dalk intussen verander het nie.
Wat van 'n "Ewigdurende volmag vir gesondheidsorg"?
Hierdie tipe dokument is in beperkte mate in sommige Westerse lande in gebruik. Hiervolgens benoem jy iemand wat jy vertrou, gewoonlik 'n nabye familielid, as jou plaasvervangende besluitnemer oor jou eie gesondheidsaangeleenthede. Jy stel so iemand aan om besluite namens jou te maak wanneer jy self nie meer jou eie besluite kan neem nie. Dit is 'n baie persoonlike besluit om met hierdie konsep te gaan of om net by 'n Lewende Testament te hou, maar jy kan dalk albei hê - 'n Lewende Testament plus 'n volmag wat jou besluitnemer magtig om te verseker dat dit geïmplementeer word.
Provided by B. R. Sandwith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.