Gesinsgeweld: rapporteer dit!
‘n Onlangse beslissing van die Hoogste Hof van Appèl beklemtoon die sterk regsplig op lede van die SAPD om slagoffers van gesinsgeweld by te staan en te help.
Die Wet op Gesinsgeweld bied wetlike beskerming aan slagoffers, veral die mees kwesbare, soos vroue, kinders, gestremdes en bejaardes. Gesinsgeweld is ook nie beperk tot gevalle van fisiese leed nie – dit sluit ‘n wye verskeidenheid van gedrag in wat gepleeg word met die doel om te mishandel. As jy ‘n slagoffer is (of ‘n slagoffer help), hou in gedagte dat die Polisie verplig is om te help. Hulle kan nie hul verantwoordelikhede versaak nie. Jy moet in gepaste gevalle strafregtelike klagtes lê en/of aansoek doen vir ‘n beskermingsbevel. Polisiebeamptes wat sake van gesinsgeweld behartig, moet slagoffers bystaan en help om strafregtelike klagtes te lê, slagoffers verder help om skuiling te vind en mediese behandeling te verkry, indien nodig.
Aansoek om ‘n beskermingsbevel
Gaan na jou naaste Landdroshof en vra gerus vir hulp. As ‘n beskermingsbevel toegestaan word, word die lasbrief vir inhegtenisneming tegelykertyd gemagtig. Die lasbrief word egter opgeskort op voorwaarde dat daar geen oortreding van die terme van die beskermingsbevel plaasvind nie. Om die lasbrief uitgevoer te kry, moet jy die volle besonderhede van enige oortreding van die beskermingsbevel skriftelik by wyse van ‘n beëdigde verklaring uiteensit. Neem kennis dat enige valse bewerings en valse verklarings die risiko dra van strafregtelike vervolging en latere eise vir skadevergoeding.
Polisie wat ‘n slagoffer geviktimiseer het, moet betaal
Die feite van die saak wat in die Hoogste Hof van Appèl gedien het, was as volg -
-
‘n Vrou is deur haar gewese man aangerand en sy is in die hospitaal opgeneem. Sy het later probeer om by haar plaaslike polisiekantoor ‘n klag van aanranding teen haar man te lê.
-
By die plaaslike polisiekantoor is sy verkeerdelik ingelig dat sy eers ‘n beskermingsbevel moes verkry. Sy het hierna na die Landdroshof gegaan en daar is dit aan haar bevestig dat ‘n beskermingsbevel nie ‘n voorvereiste is om ‘n strafregtelike klagte teen haar gewese man te lê nie. Sy is toe weer terug na dieselfde polisiekantoor.
-
Die polisie het haar gewese man ingeroep en hulle is beide aangesê om die aangeleentheid onderling uit te klaar. Geen ooreenkoms is bereik nie en beide het oor en weer verklarings afgelê en ook klagtes teen die ander gelê. Beide is onder arres geplaas, aangekla en oornag aangehou. Die vrou is die volgende oggend beseer toe ‘n polisiebeampte haar met geweld in die vangwa ingeslinger het, om haar hof toe te neem.
- Die Hof bevind dat die polisie nalatig teenoor die slagoffer opgetree het, dat hulle haar aan sekondêre viktimisasie blootgestel het en dat hulle haar gevoel van magteloosheid en kwesbaarheid vererger het deur haar nie te help nie. Die Hof het ‘n bedrag van R280,000 in skadevergoeding aan haar toegeken.
Provided by Kramer Villion Norris - KVN
© DotNews. All Rights Reserved.