Wanneer lei die bywoning van 'n rugbywedstryd tot ontslag uit jou diens?
Dit is ‘n algemene klagte van werkgewers wat 'n skielike toename in werknemers opmerk wat siek inbel op die dag van 'n groot sportwedstryd, of selfs op 'n goeie stranddag.
Wat kan jy as werkgewer doen as jou “siek” werknemer op TV gevang word terwyl hy vol entoesiasme ’n patriotiese vlag op die paviljoen swaai by ’n toetswedstryd? Of iemand herken hom terwyl hy lustig in die branders by Bloubergstrand baljaar?
Die Arbeidsappèlhof moes onlangs hieroor beslis. Die werknemer se oneerlikheid oor 'n "siekdag" het gelei tot 'n vertrouensbreuk, wat die wese van die werkgewer/werknemer verhouding geskend het.
Die aansoek vir siekteverlof, die rugbywedstryd en die afdanking
- 'n Senior werknemer by ‘n supermark het 'n bestuurder in kennis gestel dat hy siek geword het en dat hy nie daardie dag werk toe kan kom nie.
- Hy het gereis om 'n rugbywedstryd te kyk en sy gunsteling span te ondersteun. Terug by die werk het hy geen geheim hiervan gemaak nie en het hy die bestuurder daarvan vertel.
- Hy is hierna aangekla van growwe wangedrag. By die latere dissiplinêre ondersoek is hy skuldig bevind en ontslaan.
- Hy is by vorige geleenthede gedissiplineer vir afwesigheid en vir laat aankoms by die werk. Die meeste van die waarskuwings het reeds verval, maar een was steeds van krag op die datum van sy dissiplinêre verhoor.
- Die werknemer het die aangeleentheid na die KVBA (Kommissie vir Versoening, Bemiddeling en Arbitrasie) geneem wat sy heraanstelling beveel het. Hierna het die saak voor die Arbeidsappèlhof gedien. Die vraag wat oorweeg is, was: “Wanneer kan die bywoning van 'n rugbywedstryd aanleiding gee tot 'n ontslag uit diens?”. Die hof bevind dat hierdie ontslag “duidelik die gepaste sanksie” is.
- Die werkgewer kon aanvaar dat die werknemer “verplig was om met integriteit op te tree en by die [werkgewer] se beleide, prosedures en kodes te hou”. Die KVBA se bevel van herinstelling was 'n toegeeflike benadering tot oneerlikheid wat nie aanvaar kan word nie. As 'n aanduiding van hoe ernstig die Hof die werknemer se oneerlike optrede beskou het, het dit byna 'n kostebevel teen hom toegestaan. Dit is seldsaam in die Arbeidshowe en word gereserveer vir uiterste gevalle van wangedrag.
- Die Hof bevind dat die werkgewer/werknemer vertrouensverhouding verbrokkel het as gevolg van die werknemer se aanvanklike onbetroubaarheid en opvolgende oneerlike optrede. “Hy was duidelik oneerlik, selfs op sy eie weergawe. Hy het verwag om weg te kom met die bywoning van 'n rugbywedstryd op grond van valse siekteverlof en om die voordele daarvan te geniet. Dit is oneerlike optrede soos hierdie wat 'n vertrouensverhouding tussen 'n werkgewer en werknemer benadeel.” (Soos vertaal)
Provided by Van Zyl Kruger
© DotNews. All Rights Reserved.