Wie besit jou werknemer se uitvinding? Lesse uit Vodacom se "Please Call Me" Sage.
24 April 2024 is 'Wêreld Intellektuele Eiendomsdag'. Dit is 'n gulde geleentheid om te kyk hoe intellektuele eiendom die innoverende en kreatiewe oplossings wat so noodsaaklik is om ons gemeenskaplike toekoms te bou, kan aanmoedig en kan versterk." (Aldus die VN se Wêreldorganisasie vir Intellektuele Eiendom)
Dit is 'n saak waarmee ons al almal mee vertroud is en wat vir jare al opslae maak. Dit is die "Please Call Me"-sage waarin Vodacom deur 'n voormalige werknemer gedagvaar is en nou die risiko loop om etlike miljarde rande aan hom te moet oorbetaal.
Met April as "Wêreld Intellektuele Eiendomsmaand", is dit nou 'n perfekte tyd om te oorweeg watter belangrike lesse hierdie bitter stryd vir alle werkgewers en hul werknemers inhou.
Die leerlingrekenmeester, sy langafstandvriendin en sy blink idee.
- Meneer Kenneth Nkosana Makate het diens by Vodacom as 'n leerlingrekenmeester aanvaar. Hy was op soek na 'n manier om in kontak te bly met sy meisie (hy is intussen met haar getroud), met wie hy in 'n langafstandverhouding was. As ‘n student kon sy nie lugtyd bekostig nie, 'n probleem wat baie selfoongebruikers op een of ander stadium ondervind.
- Om die storie kort te hou, het mnr. Makate in die jaar 2000 vorendag gekom met wat nou bekend staan as die “Please Call Me” (“PCM”) konsep – “'n briljante idee: 'n selfoongebruiker sonder lugtyd kan 'n versoek aan 'n ander gebruiker wat wel lugtyd het gratis stuur, om die eersgenoemde te bel.” Hy het hierdie idee na Vodacom, sy werkgewer geneem, vir wie dit 'n "geweldige en winsgewende sukses" was.
- Die werknemer het gevra om betaal te word vir sy idee, maar Vodacom het gesê hulle is nie verplig om enigiets aan hom te betaal nie. Uiteindelik het hy vir Vodacom gedagvaar en hy baseer sy eis op ‘n mondelinge ooreenkoms, wat tussen hom en Vodacom se direkteur van produkontwikkeling bereik is, om hom vergoeding te betaal vir sy idee in die vorm van 'n deel van die inkomste.
- Baie jare en vele hofsake later het die Grondwetlike Hof 'n bevel uitgereik wat verklaar dat Vodacom aan die mondelinge ooreenkoms gebonde was. Die hof beveel die partye verder om in goeder trou met mekaar te onderhandel en om 'n bedrag van redelike vergoeding te bepaal, wat betaal moet word.
- Verdere litigasie het gevolg, wat onlangs in die Appèlhof aangehoor is. Hierdie nuutste hofbevel wat bepaal hoe die partye daardie billike vergoeding moet bereken, mag inhou dat Vodacom 'n verpligting gaan opdoen wat in totaal miljarde Rande kan beloop.
- Vodacom het reeds aansoek gedoen vir verlof om daardie bevel in die Grondwetlike Hof te appèlleer, so die hofsake is dalk nog nie heeltemal verby nie. Ongeag die finale uitkoms, is daar waardevolle lesse wat alle werkgewers (en hul werknemers) hieruit kan leer.
Besit jou werknemers hul uitvindings, of behoort dit aan jou as die werkgewer wat hulle in diens geneem het?
Oor die algemeen is ons gemeneregtelike reël dat die reg op alle intellektuele eiendom (wat patente, ontwerpe, kopiereg en handelsmerke dek - losweg "uitvindings") aan die werkgewer behoort as die werknemer dit geskep het "in die normale loop van sy of haar indiensneming”.
Hierdie reël het oor die dekades tot baie onsekerheid gelei in gevalle waar werknemers beweer dat hulle met hul uitvindings vorendag gekom het, buite om die normale loop van hul diens. Dink aan werknemers se werk buite werksure, terwyl hulle op hul eie inisiatief en aan persoonlike sake aandag gee, eerder as om onderhewig te wees aan die werkgewer se beheer en leiding, ensovoorts.
Een van die dispute in die Vodacom-saak was die vraag of meneer Makate, as 'n junior werknemer aan die rekeningkundige kant, in die normale loop en omvang van sy diens opgetree het toe hy sy blink idee gehad het.
Hierdie saak het eintlik meer te doen met die regsvraag of mens aan jou mondelinge ooreenkomste gebind word as met vrae oor intellektuele eiendomsreg. Dit is natuurlik wel moontlik vir werkgewers en werknemers om al hierdie potensiële geskille te vermy.
Hoe om onsekerheid en dispute te vermy.
Die antwoord is natuurlik om in alle dienskontrakte en verwante beleidsdokumente duidelik uiteen te sit aan wie enige uitvindings gaan behoort. 'n Standaardklousule om werkgewers in hierdie verband te beskerm, kan voorsiening maak dat enige intellektuele eiendom wat deur die werknemer gedurende die dienstydperk geskep word, aan die werkgewer te behoort, sonder uitsondering en ongeag die omstandighede waarin dit geskep word.
So 'n klousule behoort ideaal aangepas te word om die aard van die werkgewer se besigheid en die werknemer se posbeskrywing te weerspieël, dit moet regverdigheid en uitvoerbaarheid verseker en dit moet voldoen aan wetgewende beperkings wat van toepassing is op verskeie tipes intellektuele eiendom. Dit moet ook aansporings en prosedures vir werknemers uiteensit om hul aan te moedig om met blink idees vorendag te kom en die opbrengs met billike voordeel te verdeel.
Elke situasie gaan uniek wees, so julle moet toegepaste professionele advies by jou prokureur verkry wat aangepas is om aan jou besigheid en sy spesifieke behoeftes te voldoen.
Provided by Scheibert & Associates Inc
© DotNews. All Rights Reserved.