As CIPC Jou Maatskappy Deregistreer . . .
Deregistrasie is ‘n gemors
Dit hou ernstige nagevolge vir enige maatskappy en sy mense in –
- Enigiets wat jy as ‘n direkteur van die maatskappy doen, is uit die staanspoor nietig (met gepaardgaande wesentlike risiko’s vir die maatskappy en vir jou persoonlik), en
- Al die bates van die maatskappy vestig outomaties in die staat. Ja, regtig!
Herstel tot die register – die gevare
As dit met jou maatskappy gebeur, moet jy sonder versuim by CIPC aansoek doen om die maatskappy tot die CIPC register te herstel. Aanvaar dat kostes, ongerief en vertragings jou voorland is. Erger nog, daar is ook nog die gevaar dat dit nie toegestaan gaan word nie. Enige derde party met ‘n belang moet die geleentheid gegee word om beswaar te kan maak teen die herstel van die maatskappy. Jy moet ook jou voorneme om aansoek te doen in die staatskoerant en in ‘n plaaslike nuusblad bekend maak. Hierdie kennisgewing moet ten minste 21 dae voor die aansoek om herstel gepubliseer word.
Word die herstel tot die register met terugwerkende effek gedoen? Die Appèlhof gee duidelikheid.
Wat gebeur met ooreenkomste wat gesluit is terwyl die maatskappy gederegistreer was? Sal ‘n herstel tot die register alle handelinge geldig maak? Jy kan sien dat hierdie vraag kritiek kan wees. Direkteure kan persoonlik aanspreeklik gehou word vir optrede en kontraksluiting waar die maatskappy nie meer bestaan nie; onskuldige kopers wat bates van die maatskappy gekoop het terwyl die maatskappy regtens nie meer bestaan het nie, sal op risiko wees om die bates te verloor. Uitsprake in verskillende dele van die land het ook beteken dat die Hoë Hof uiteenlopende standpunte hieroor gehuldig het; wat dit moeilik en gevaarlik gemaak het om hieroor leiding en advies te gee.
Gelukkig het die Hoogste Hof van Appèl nou duidelikheid hieroor verleen. Die herstel van die maatskappy tot die CIPC register word met volle terugwerkende krag gedoen. Dit hou in dat die maatskappy en direkteure se optrede tydens deregistrasie bekragtig word en dat alle bates van die maatskappy outomaties weer in die maatskappy vestig.
Dit is onvermydelik dat daar uitdagings gaan wees met ‘n maatskappy wat gederegistreer is. Nie alle situasies gaan bloot met ‘n herstel tot die register volledig aangespreek word nie. Daar mag dalk derde partye wees wat deur die herstel benadeel gaan word; die maatskappy of die betrokke party gaan dan waarskynlik vir ‘n spesifieke hofbevel moet vra om so ‘n situasie aan te spreek.
Direkteure – aksielys ter voorkoming.
Voorsorg is beter as nasorg! Dit is veel beter om weg te bly van die onsekerheid, vertraging en onsekerheid wat deregistrasie gaan meebring. Jy sal ook nie graag sake wil doen met jou maatskappy wat tegnies nie meer bestaan nie, terwyl jy wag op die onsekere uitslag van ‘n aansoek om die maatskappy weer by CIPC te laat registreer nie.
Neem die volgende voorkomende stappe -
- Maak seker dat jy ‘n betroubare stelsel in plek het om jaarliks jou opgawes klokslag by CIPC in te dien; elke jaar en op tyd.
- Monitor gereeld jou maatskappy se status op CIPC se webwerf as “In Business” op www.cipc.co.za (gebruik die afdeling “Name/Enterprise Search”)
Provided by Darrolls Attorneys, Notaries & Conveyancers
© DotNews. All Rights Reserved.