Suur druiwe? Moenie beskuldigings maak tensy dit waar is nie.
“I am disgraced, impeached, and baffled here,
Pierced to the soul with slander’s venomed spear.”
(William Shakespeare)
Hier is 'n waarskuwing van ons howe dat jy twee keer moet dink voordat jy enigiets lasterlik publiseer, selfs al glo jy werklik dat dit die waarheid is.
Om aanspreeklikheid vry te spring, moet jy kan aantoon dat een van die regsverwere wat beskikbaar is vir iemand wat vir laster gedagvaar word, wel op jou geval van toepassing is. ’n Onlangse hooggeregshofbeslissing illustreer dit goed.
Beweerde versoek vir omkoopgeld van R500 miljoen tydens ‘n ete in 'n restaurant.
- ’n Maatskappydirekteur was met ’n staatsdepartement in dispuut oor die kontrak tussen die twee entiteite. Die direkteur het in die openbaar beweer dat ’n minister van die regering betrokke was toe omkoopgeld van R500 miljoen van hom versoek is.
- Ongelukkig het die direkteur geen werklike bewyse gehad dat hierdie bewerings waar was nie, wat volgens hom deur twee naamlose informante tydens 'n ete in ‘n ‘n restaurant aan hom gemaak is.
- Alhoewel hy geen bewyse gehad het nie, het hy steeds hierdie aansprake wyd en syd versprei en verkondig – aan sy meer as 12 000 volgelinge op Twitter (nou “X”), asook aan die luisteraars en kykers van 'n “podsending”, 'n radio-onderhoud en twee TV-onderhoude.
‘n Dagvaarding vir R1 miljoen: “Ek het gedink dit is die waarheid.”
Die minister was ongelukkig met hierdie lasterlike bewerings en hy het hierdie maatskappydirekteur vir skadevergoeding van R1 miljoen gedagvaar.
- Die direkteur het hierop geantwoord dat hy nooit bedoel het om die minister te belaster nie, dat sy stellings neerkom op “billike kommentaar” en dat hy redelikerwys geglo het dat sy twee informante die waarheid gepraat het.
- Die hof was nie hiervan oortuig nie. Inteendeel die hof bevind dat die verklarings lasterlik was en dat die direkteur dit gemaak het met die vereiste “opset om sy naam te beswadder”, nadat hy geen stappe gedoen het om die inligting wat aan hom gegee is, te toets of te verifieer nie.
- Verder bevind die hof, kon die direkteur nie staatmaak op die verweer van “billike kommentaar” nie. Die bewerings wat hy gemaak was feitelike stellings, eerder as “kommentaar”. Hy het hierdie bewerings “met roekelose onverskilligheid versprei sonder enige poging aan sy kant om vas te stel of dit waar was of nie”.
- Laastens, die verweer dat die publisering "waar en in die openbare belang is" vereis dat jy beide elemente van die verweer moet kan bewys. Dat die stelling "wesenlik waar" is en dat die stelling in die openbare belang gepubliseer moet word. Vir hierdie verweer is jou geloof dat die stelling waar is, nie voldoende nie – die stelling self moet feitelik waar wees. In hierdie geval het die direkteur op hoorsêverklarings staatgemaak en hy het geen bewyse gehad om hierdie bewering te staaf nie.
- Die maatskappydirekteur kon geen bewyse van hierdie lasterlike bewerings aan die hof voorhou nie. Met geen bewys van die bewerings nie, het die hof bevind dat die minister “’n slagoffer van ’n wrede aanranding op sy waardigheid” was, en dat die maatskappydirekteur “hierdie ongegronde beskuldigings wyd versprei het om druk op die regering uit te oefen om aan sy eise te voldoen, ten einde sy kommersiële belange te beskerm”.
Bewys dat dit waar is, of betaal.
Die uitkoms:
- Die hof bevind dat die bewerings beide lasterlik en vals was.
- Die maatskappydirekteur se publikasie van hierdie valse bewerings was onregmatig.
- Die maatskappydirekteur is aanspreeklik gehou om skadevergoeding te betaal (die hof sal die finale bedrag wat betaal moet word en die kwessie van 'n openbare verskoning, na die aanhoor en oorweging van alle getuienis bepaal).
- Die hof verbied die maatskappydirekteur om die lasterlike bewerings te herhaal, direk of by implikasie. Verbreek die direkteur die bepalings van hierdie hofbevel, kan hy tronkstraf opgelê word vir minagting van die hof!
- Die maatskappydirekteur word verder gelas om die koste op die bestraffende skaal soos tussen prokureur en kliënt te betaal.
Provided by B. R. Sandwith Inc.
© DotNews. All Rights Reserved.